Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Maak nie saak hoe groot en sterk jy is nie...
As ek reg onthou, was dit Mei 1983. Ons was 'n berede peleton van SWASPES wat afgedeel was aan (in daardie stadium) 8 SAI op Itali-basis. Ons was toe al altesaam agt maande op die grens; ons het gedink ons ken al die "drills" en bewegings. Dit het begin skemer word op patrollie en ons was besig om 'n geskikte plek te soek om te TB; met die perde was dit nie altyd maklik om 'n plek te kry nie. Ons het langs "Oom Willie" se pad in 'n westelike rigting na Eenhana gery. Ons het in twee geledere gery en die een gelid het die pad oorgesteek; die ander gelid het gewag dat ons die gebied eers vee. Net toe die tweede gelid die pad begin oorsteek, het Nic Els, wat vyfde in gelid was, 'n dubbele "Kaasmyn" met sy perd afgetrap. Alles was besonder stil voor die ontploffing omdat dit 'n baie kritiese tyd van die dag was. Die warboel wat geheers het weens die ontploffing en die perde wat op hol gegaan het, is iets wat ons nie verwag het nie en hoe lank dit geneem het om tot bedaring te kom en die nodige "drills" uit te voer, is vir my maar duister. Die wêreld was dig van die stof en dit was aanvanklik onmoontlik om uit te maak wat aan die gang was, maar ons het gou tot die besef gekom dat daar oral in die bome om die toneel stukke vleis gehang het. Nic het geleef, alhoewel altwee sy bene afgeskiet is. Sy onderlyf was tot verby sy naeltjie oopgeskeur, sy perd was aan flarde. Ons Opsmedic, De Bruin, wat agter Nic gery het, is ook beseer, maar gelukkig nie ernstig nie; maar hy was verlore in al die stof en buite aksie. Ons seiner wat voor Nic gery het se perd is dood - hy was OK, maar in groot skok. Die radio kon nie die slag weerstaan nie en was buite werking, so ons het geen "koms" gehad met enige basis vir ondersteuning nie. 'n Groep het in rondom-verdediging ingegaan en ander mense soos Noddy (Van Wyngaardt) Satties, (Sutherland), Danie de Beer en Langes het begin om Nic te stabiliseer. Op daai oomblik was daar bitter min wat gedoen kon word. Alles is maar bymekaargesit en met bomverbande probeer vasdraai.
Hoeveel cc's formalien in sy lyf ingespuit is, kan ek nie sê nie want niemand het probeer telling hou nie. Iemand het sy arm in die waai oopgesny om 'n aar te probeer kry om 'n drip in te sit. Daar was 'n paar drips in hom ingedwing, want hy het al sy liggaamsvog begin verloor. Hoeveel gras, sand en ander items saam met die verbande toegedraai was, kan almal maar self besluit, want daar was! In Ovamboland het niemand ná donker beweeg nie, daar sou dadelik geskiet word as beweging opgemerk is. Ons het omtrent twee ure later 'n dreuning in die verte gehoor. Dit was voertuie op "Oom Willie" se pad. Baie moontlik sou dit die Koevoete gewees het, want hulle sou die enigste mense wees wat in die aand beweeg het. Die probleem was hoe om hulle te stop sonder om vuur te trek, want die Koevoete het jy nie mee gespeel nie - hulle het geweet hoe die werke werk en het nie gehuiwer om op te tree nie. Soos die Caspirs nadergekom het, het Kaspaas, een van ons seksieleiers van Soekmekaar, in die pad gaan staan en sy hemp uitgetrek om te wys hy is wit. Die "gunner" in die Casper het dadelik begin vuur. Later het hy ons vertel dat hy met opset mis geskiet het om te sien wat gebeur. Die Caspir het tot teen Kaspaas tot stilstand gekom. Hulle het "koms" gemaak met Ondangwa en 'n "casevac"-rapport deurgegee. Eers was daar probleme met die uitstuur van 'n "chopper" in die nag, maar hulle het 'n dokter en 'n vlieënier in die lug gekry. Met die aankoms van die "chopper" is Nic dadelik ingelaai. Ons het einde Julie op pas gegaan en as 'n groep van Waterkloof-lughawe na 1 Mil. gegaan om Nic te besoek. Die verpleegpersoneel wou ons eers nie toelaat nie, maar 'n groep soldate wat so pas uit die "ops" gekom het, laat hulle nie keer nie. Nic se eerste woorde toe hy ons sien, was "Ek sal nooit weer stink voete hê nie". Maak nie saak hoe groot en sterk jy is nie, almal het die trane probeer wegsteek. Nic was baie lank baie siek, ook omdat ons nie baie higiënies te werk kon gaan in die bos nie. Sy trip in die "chopper" kon hy nie eintlik onthou nie weens die morfien. Wat hy wel kon onthou, is hoe die dokter die vlieënier aangejaag het tot op 'n punt dat die dokter te kenne gegee het dat hulle dit maar rustig kan vat. Hy wou probeer om die dokter te wys hy is nog daar, maar hy kon nie beweeg of eens sy oë roer nie. Nic Els het dit gemaak vanweë kamerade wat alles sou opoffer om 'n makker te help.
Ek kan ongelukkig nie almal se name onthou nie, maar as daar enigiemand van Beredesentrum Peleton 4 van Januarie 1982-inname wil kontak maak, laat van julle hoor.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|