Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

'Kom wat wil, ek vat die kar'
Sep 02 2003 06:45:54:077PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Suid-Afrikaners leef in vrees dat hulle die slagoffer van 'n motorkaping kan word. Maar wat sê kapers self? Borrie la Grange het by 'n kenner gaan vasstel.

"Niks."

Dít was die antwoord wat dr. Linda Davis, dosent in kriminologie aan die Universiteit van Pretoria, gekry het toe sy kapers vra wat slagoffers kan doen om 'n motorkaping te voorkom.

Davis sê om dié misdaad te verstaan, is dit belangrik om met kapers self te praat - húlle is die "kundiges" wat van dag tot dag daarby betrokke is.

"Die fynere besonderhede van kapings kan nie altyd by slagoffers of in polisiedossiere gekry word nie," sê sy.

Davis het as deel van haar doktorale navorsing onderhoude met 12 kapers in die Pretoriase Sentrale Gevangenis gevoer. Die kapers, van wie vyf in die C-Max-gevangenis was, dien vonnisse van tussen 10 en 25 jaar uit.

Die navorsing word as baanbrekerswerk beskou.

Ander kapers wat sy genader het, was nie bereid om 'n woord oor hul "beroep" te rep nie omdat hulle bang is hulle sal van binne of buite die tronk geviktimiseer word.

"Heelwat kapers wat agter tralies sit, het steeds kontakte in die wêreld daarbuite en wil nie deelneem aan navorsing soos dié nie. Hulle het gesê as hulle sou uitpraat, kan dit hul makkers se kapingsbedrywighede benadeel," sê Davis.

Geld al waaraan hulle dink

Uit die inligting wat sy ingewin het, blyk dit hoewel kapers rekening hou met die moontlikheid dat hul slagoffers gewapen kan wees, hulle "die motor op enige wyse moontlik sal afvat".

Die kapers met wie sy gesels het, het almal gefokus op hoe hulle finansieel by die misdaad sou baat vind - dit neutraliseer vir hulle die gevaar dat hulle kan sterf of in hegtenis geneem kan word.

Volgens haar het die kapers gesê 'n eerste suksesvolle kaping maak daaropvolgende kapings makliker.

"Vorige suksesvolle kapingspogings gee hulle selfvertroue."

Dit blyk ook kapers meen dit sou vir hulle makliker wees om geweld teenoor mans, eerder as vroue, tydens 'n kaping te gebruik. Hulle het ook aangedui hulle sou kinders uit die motor probeer kry of hulle iewers aflaai.

"Hulle dink die polisie sal vinniger en meer aggressief teen hulle optree wanneer kinders tydens kapings ontvoer word," verduidelik Davis.

Hoewel dit nie 'n aspek van kapings is wat tydens onderhoude met slagoffers na vore kom nie, blyk dit dat kapers gewoonlik hul slagoffers deursoek.

"Die kapers sê hul wapens, vinnige optrede, die verrassingselement en die slagoffers se groot vrees vir die dood is die rede dat hulle nie eers daarvan bewus is hulle word deurgesoek nie."

Die meeste kapers waarmee Davis gepraat het, het gesê hulle dink nie omstanders of ooggetuies sou hulle kon gekeer het nie. Twee kapers het gesê hulle sou nie gehuiwer het om mense te skiet wat by 'n kaping inmeng nie.

Hulle meen omstanders sal in elk geval selde of ooit werklik wil inmeng sou hulle sien 'n motoris word gekaap.

'n Taak vir elke lid

"Die kapers was deeglik bewus daarvan dat hulle deur die polisie gevang of selfs tydens 'n kaping doodgemaak kon word, maar hulle neutraliseer die gevaar deur daarop staat te maak dat hulle gewapen is."

Uit haar navorsing het geblyk die betrokke kapers het meestal in groepe van drie tot vier lede saamgewerk. Bendes kan tot nege lede hê.

Elke lid speel 'n spesifieke rol tydens 'n kaping.

"Die drie hoofrolle word onder kapers die pointer, searcher en driver genoem.

"Dat elkeen 'n bepaalde taak het, dra daartoe by dat hulle vinnig kan optree en motoriste só onverhoeds betrap."

Die pointer rig die vuurwapen op die bestuurder, terwyl die searcher die bestuurder vir wapens deursoek.

Die driver skuif agter die stuurwiel in sodra die bestuurder uit die motor is.

In sekere gevalle maak kapers staat op 'n wegkommotor en swaar gewapende makkers om te verseker hulle kan vlug of teenstand bied sou iets verkeerdloop.

Davis sê dié groepsdinamiek kan ook verander na gelang van onderlinge wedywering tussen bendelede.

Soos een kaper dit aan haar gestel het: "Die een eerste agter die stuur is die eienaar."

'Werkdruk'

Die meeste kapers verkoop die gekaapte motors aan "middelmanne" nadat bestellings vir spesifieke motors geplaas is. Gevestigde middelmanne bepaal gewoonlik die pryse wat betaal word. Dit maak dit soms moeilik vir kapers om oor meer geld te beding.

Kapers kla hulle gaan gebuk onder "werkdruk" omdat sommige middelmanne verwag hulle moet luukse motors wat "bestel" word, nog dieselfde dag "aflewer". As hulle nie dit kan doen nie, word hul "vergoeding" verlaag.

"Hulle neem ook soms private bestellings vir vriende. Partykeer is dit slegs om onderdele, 'n deur of buffer vir die vriend se motor te kry. Baie keer is dit nie vir luukse motors nie, maar vir alledaagse, betroubare motors."

Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |