Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
By: Só sal oorlopers tot rus kom
Die uitstaande kenmerk van enige demokratiese bestel is die graad van verantwoordbaarheid en/of aanspreeklikheid van openbare verkose politici teenoor die kiesers wat hulle verkies het. Die huidige kiesstelsel in Suid-Afrika het ’n besonder lae peil van verantwoordbaarheid omdat dit ’n geslote proporsionele stelsel is. Dit beteken dat die kieser slegs vir ’n party stem en nie by magte is om enige verkose lid tot verantwoording te roep nie. Parlementslede word bloot van ’n lys af deur partye aangestel. Hierdie kiesstelsel is as oorgangsmaatreël aanvaar vir die eerste nasionale verkiesing (1994) omdat dit eenvoudig en tog demokraties was. Die bedoeling was egter dat die finale kiesstelsel teen 1999 gereed sou word en dat dit nie ’n geslote proporsionele kiesstelsel sou wees nie. Die konstitusionele hof het ook die tydelike aard van hierdie kiesstelsel beklemtoon en bygevoeg dat partywisseling deur oorstappery onwenslik sou wees. Die minister van binnelandse sake in 1995, hoofminister Gatsha Buthelezi, het die kabinet aan die finalisering van die kiesstelsel herinner. Ek is blykbaar eenparig deur die kabinet aangestel as voorsitter van ’n taakspan wat die kiesstelsel moes ondersoek en voorstelle vir ’n nuwe kiesstelsel vir Suid-Afrika moes doen. DIT was gou baie duidelik dat die regerende party en die amptelike opposisie geen entoesiasme vir die verandering van die bestaande kiesstelsel gehad het nie. Die meerderheid van die taakspan het ’n verslag bekend gestel waarin ’n kiesstelsel van veelvuldige lidmaatskap voorgestel is. Die idee was dat die land in om en by die 70 kiesafdelings verdeel word en dat, na gelang van die getal kiesers, ’n kiesafdeling nie minder as drie en nie meer as sewe parlementslede kan instem nie. Verkieslik moes die lede kom van die kiesafdelings wat vir hulle gestem het, en hulle moes daarna verantwoordbaar wees teenoor die kiesers in dié kiesafdelings. Dwarsdeur die vertoë, verslae en getuienis wat voor die taakspan gedien het, was die refrein van die magteloosheid van die kieser weens die geslote proporsionele sisteem. Terwyl die taakspan met die skryf van die verslag besig was, het die konstitusionele hof geoordeel dat partywisseling deur oorstappery nie ongrondwetlik is nie. Dit sou dus saam met die bestaande kiesstelsel kon funksioneer. Absoluut verstommend! Dus het Suid-Afrika nou ’n kiesstelsel waar die kieser nie vir ’n persoon stem nie, maar vir ’n party. Só word die lede van enige party die reg gegun om van party te verwissel deur na ’n ander party oor te stap. Dit is kwalik denkbaar dat daar ’n kiesstelsel is waar die gewone kieser so magteloos is om openbare verkose verteenwoordigers aanspreeklik te hou vir hul optrede. Ons het ’n Grondwet wat vir ’n klassieke liberale demokrasie bedoel is en waarin menseregte verskans is, maar ons het ’n kiesstelsel wat bitter mank gaan aan demokratiese aanspreeklikheid. Partywisseling deur oorstappery is ’n resep vir onverantwoordbare opportunisme. Dit is pas weer deur die jongste partywisselings geïllustreer. IN beginsel is daar geen beswaar teen partywisseling deur oorstappery nie. In Brittanje, met sy kiesafdelingstelsel, mag ’n openbare verteenwoordiger na ’n ander party oorstap, maar dan moet hy of sy as LV bedank en ’n tussenverkiesing as kandidaat van sy of haar nuwe party veg. Dit laat LV’s baie diep oor partywisseling dink. Die fundamentele gevaar wat ons kiesstelsel inhou, is dat die gevoel van magteloosheid van kiesers om te bepaal wie verkies gaan word, kan lei tot apatie en selfs anargie. Dit opsigself ondermyn die bestendiging van ’n demokratiese kultuur in Suid-Afrika waarin gewone kiesers voel hulle is betrokke by die politieke proses in ons land. Laat ons oorstappery wegdoen en beweeg na ’n kiesafdelingstelsel met veelvuldige lidmaatskap. Op dié manier sal verkose verteenwoordigers op alle vlakke van regering baie versigtiger oor hul uitsprake en optrede wees en sal kiesers ervaar dat hulle sodanige verteenwoordigers tot verantwoording kan roep. “ Partywisseling deur oorstappery is ’n resep vir onverantwoordbare opportunisme. ” Wat dink jy? Behoort Suid-Afrika eerder ’n kiesafdelingstelsel met veelvuldige lidmaatskap te kry? SMS jou mening na 33675. R1,50 per SMS. Begin die boodskap met die woord “BY”.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|