Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||||||||
|
‘God is nie jou china nie’
Wanneer Angus Buchan by die Mighty Men’s Conference voorgestel word, is dit as iemand “wat die onverdunde Woord van God verkondig”. Self sê hy dat hy nooit die kans gehad het om na ’n Bybelskool te gaan of in die teologie te studeer nie. Hy is wel deur die skool van die lewe. En wanneer hy oor Jesus praat, sê hy: “Ek praat nie oor iemand van wie ek in ’n boek gelees het nie. Ek ken Hom. Hy is my beste vriend.” Later hou hy die Bybel in die lug en roep uit: “Ek gee nie om hoe goed jy dié boek ken nie, as jy nie die outeur daarvan ken nie, weet jy niks.” En dít is die kern van sy boodskap, dat ’n mens ’n persoonlike verhouding met die Here moet hê. Van die redes waarom hy so gewild is en so ’n groot impak maak, lê waarskynlik presies hier. Want Buchan preek nie soos ’n gewone dominee nie. Hy lewer ’n getuienis. Hy praat uit ondervinding. En anders as baie dominees wat sukkel om die kloof tussen hul leefwêreld en dié van hul gemeentelede te oorbrug, is dit nie vir Buchan ’n probleem nie. Hy praat uit die harde ekonomiese werklikhede van die boerdery. Hy ken misoeste en krisis. Hy kan vertel hoe sy geloof hom daardeur gedra het. Nie te trots vir ekskuus sê Miskien is dit juis daarom dat so baie van die 60 000 mense wat die afgelope naweek op die plaas Shalom naby Greytown saamgetrek het, mans was met bande met die landbou. Toe Buchan in ’n stadium vra hoeveel boere of ander mense met belange in die landbousektor daar is, het ’n see van hande opgegaan. Op sulke ore maak ’n boodskap oor hoe die Christelike geloof in ’n landbou-opset werk, soveel sin. En Buchan se boodskappe is deurspek met sulke verhaaltjies. Hy vertel byvoorbeeld in ’n sessie oor verhoudinge hoe die inspekteurs op sy plaas aankom om na sy saadmielies te kyk. Hulle is besorg oor hoeveel mielies in blom is, dat daar te veel stuifmeel in die lug is en hulle dreig om sy oes af te keur. Met ekonomiese rampspoed wat so ’n stap sou meebring, probeer hy sy werkers, ’n groep Zoeloevroue, oortuig om in te spring en die lande te help skoonmaak. Maar dis laatmiddag en hulle is moeg en onwillig. Hy raas, maar vergeefs. Toe hulle omdraai en loop, besef hy daar is net een manier: die Christelike manier van verskoning vra. Toe hy hom so voor die swart vroue nederig maak, het hulle hom gehelp. Verhoudinge is herstel, sy oes is gered, hy het hulle ruim vergoed – en hy het ’n belangrike geestelike les geleer. Dié saak van verhoudinge is belangrik. ’n Hele sessie wy hy daaraan om met die tienduisende mans voor hom te praat oor die herstel van hul gesinsverhoudinge. Hy sê vir hulle hulle moet die hoofde van hul huise wees, maar dit word nie ’n vrypas tot baasspelerigheid nie. Hy vertel hoe hy een dag moeg by die huis kom, sy vrou en een seun, toe ’n student, in die kombuis kry waar hulle tee drink. Sonder rede is hy sommer moeilik met hulle, hulle vervies hulle vir hom en die huis hang dik van die suur verhoudings. By homself dink hy maar hy is die hoof van die huis, maar verklaar dan dat sulke denke sommer twak is. Hy het dié aand eers sy seun en toe sy vrou gaan wakker maak om hulle om verskoning te vra en verhoudings te herstel. Moenie te trots wees om dit te doen nie, was sy boodskap. Lewe heilig Die meeste van die tyd, drie van die vier sessies tydens die konferensie, praat hy egter oor sy verhouding met die Here. En dis nie ’n teoretiese of dogmatiese kwessie nie. Dis ’n lewende werklikheid wat in sy dag-tot-dag-lewe neerslag vind. Hy loer van die verhoog af na die ouens in die voorste ry en sê vir hulle: “Vir my is Jesus meer werklik as julle wat hier voor my sit.” En die God van wie hy vertel, is een wat mense liefhet, wat vir hulle die lewe in oorvloed wil gee, maar wat ook heilig is en wat gevrees moet word. Aan die een kant vertel hy dat die Here sy beste vriend is, maar aan die ander kant waarsku hy dat Hy nie jou maat is nie: “God is not your china.” Hy moet gerespekteer word. Daarom dat ’n mens heilig moet lewe voor Hom. Vir Buchan was dit die eerste stap waaroor hy met die mans wou praat. “Get rid of the rubbish.” Of dit ’n verslawing aan alkohol is en of dit ’n verhouding met ’n ander vrou is. Of dit geld is wat jy die belastinggaarder skuld en of dit trots is wat jou verhoudinge beduiwel. Hy vertel hoe hy ná sy bekering benoud na die doeanekantoor is om te bieg dat hy nie alles verklaar het toe hy uit Zambië na Suid-Afrika geïmmigreer het nie. Dit was soos ’n blok sement van sy skouers af toe hy oop kaarte met die doeanebase gespeel het – en ’n bonus toe hy hoor dat hy in elk geval niks invoerbelasting hoef te betaal het op dit wat hy weggesteek het nie. ’n Integrale deel van sy geloof is dat God wonderwerke doen. “Geloof,” verklaar Buchan, “is om te glo wat jy nie kan sien nie – en die beloning vir jou geloof is om te sien wat jy glo.” Hy vertel van die insident wat ook in Faith like potatoes, die fliek oor sy lewe en geloof, uitgebeeld word: ’n Brand breek op sy plaas uit wat dreig om na omliggende plantasies te versprei. Hulle kan dit nie in bedwang bring nie en hy en ’n werker bid dat God reën moet stuur. En dit gebeur, al is dit nie reënseisoen nie, en dit blus die brand. Dis nie die enigste keer dat hy gebid het vir reën nie. Deur die loop van die naweek hoor ’n mens van minstens nog drie sulke gevalle: in Australië, in die Oos-Kaap en die Wes-Kaap. Hy vertel hoe hy in Australië met die boere oor berou gepraat het, hoe hulle tot inkeer gekom het en hulle voor God verootmoedig het – en hoe dit daarna begin sous het. “Hulle het my die reënmaker genoem. Ek het gesê ek is nie die reënmaker nie, ek is die Reënmaker se seun!” In die Oos-Kaap het hy op die Dinsdagaand aan ’n groep mismoedige boere gesê dit gaan reën voordat hy die volgende Maandag vertrek. Hulle was opgewonde, maar toe daar teen die Donderdag nog geen teken van reën was nie, het hulle begin wonder. Buchan self het benoud geraak en by God gepleit. Toe hy die Sondagmiddag voor ’n saal vol boere sy Bybel oopmaak, hoor hy die druppels op die dak. “Dis my koning!” het hy uitgeroep. Hy verklaar dat die Here hom nog nooit in die steek gelaat het nie. ’n Honger na ankers Die naweek se Mighty Men’s Conference was vir hom net so ’n wonderwerk. Toe hulle besluit het om die wêreld se grootste tent daarvoor op te rig, het hulle nie geweet waar die geld vandaan sou kom nie. Maar teen die tyd dat die konferensie gehou is, was dit betaal. Op een punt tydens die konferensie toe hy sy gehoor wou aanspoor om te glo, roep hy uit: “Kyk net na die tent.” By ’n ander geleentheid word hy onderbreek deur een van sy helpers omdat hulle dokters soek om met ’n mediese noodgeval te help. Nadat gevra is dat ’n dokter moet gaan help, bid hy dat die Here daar moet help met ’n wonderwerk en hy sê dankie dat hy kan weet dat daardie mens genees word. In ’n volgende sessie vertel hy dat daardie man ’n hartstilstand gehad het, dat die dokters hom klinies dood verklaar het, maar hom ná tien minute weer kon bybring. Wanneer hy die volgende dag vertel dat iemand wel tydens die konferensie dood is, is hy tevrede daarmee dat dié persoon “huis toe is na Jesus toe”. Aan die einde van die sessies bid hy telkens vir mense wat siek is. Eers mense met laerugpyn. Dan mense met migraine. Later mense met kanker en uiteindelik mense met enige kwaal waarvoor hy nog nie gebid het nie. Hy moedig mense aan om hul genesing te aanvaar en verklaar by geleentheid dat die mense genees is. Dis nie ’n vertoon nie en nie een van die siekes word vorentoe geroep of tot skouspel gemaak nie. Vir Buchan is dit bloot ’n uiting van sy geloof in dié God wat reeds in sy lewe wonderwerke gedoen het. En vir sy gehoor val dit op vrugbare aarde. ’n Mens sou die geestelike honger kon probeer verklaar aan die hand van omstandighede in die land, van onsekerheid en van soeke na ankers. Hoe ook al, die honger is duidelik daar onder Buchan se gehoor, waarvan seker twee derdes Afrikaners was. Sy duidelike boodskap van ’n lewende God wat in die daaglikse lewe by sy kinders is en wat hulle en hul land desnoods met wonderwerke deur krisisse kan dra, help klaarblyklik om dié honger te stil. Konferensie se hoofkwessies 'n Mens sou die kern van die boodskap wat mnr. Angus Buchan die afgelope naweek op die Mighty Men's Conference gebring het, in twee dele kon saamvat: Jy moet die Here liefhê met jou hele hart, en jy moet die mense om jou liefhê en met respek behandel. Terwyl hy uitvoerig hieroor gepraat het, het hy verskeie ander (soms omstrede) kwessies in die verbygaan aangeroer. 'Ramshoring wys Sy krag' Neels Jackson Dit klink soms soos vuvuzelas langs 'n sokkerveld, maar "ramshorings" het die laaste tyd al hoe meer hul verskyning gemaak by groot kerklike byeenkomste. Mnr. Johan Storm van Goodwood in die Kaap het die afgelope naweek by die Mighty Men's Conference opgedaag met 'n koedoehoring waarvan die puntjie afgesny is sodat hy dit soos 'n trompet kan blaas. "Dis 'n teken van die Here se krag en teenwoordigheid," sê hy. Hy wys daarop dat die Israeliete in die Bybelverhale van die val van Jerigo se mure en van Gideon se stryd teen Israel se buurnasies, telkens op hul sjofars of ramshorings geblaas het. Deesdae is dit dikwels koedoehorings wat gebruik word, maar Storm se vriend, mnr. Philip Kotze, het die horing van 'n merinoram uit die Karoo saamgebring. Hulle sê die horings is vanself hol. Dit word net met growwe sout en klein klippies behandel om die vesels aan die binnekant uit te kry. 'n Mens kan 'n paar verskillende toonhoogtes uit een horing kry en dit kan met verskillende ritmes geblaas word. Dit het 'n ryk geskiedenis in die kultuur van oud-Israel, maar vir hulle vandag is dit 'n geestelike teken wanneer die ramshoring geblaas word. Mnr. Wouter de Lange, wat saam met Storm en Kotze uit die Kaap gekom het, sê soms voel dit asof daar 'n geestelike muur is wat jy moet deurbreek. Dan is die blaas van die horing soos 'n geestelike oorlogskreet. Ander kere is dit meer feestelik. By die Mighty Men's Conference was daar verskeie mense wat met hul ramshorings iets oor die grootheid van God verkondig het. Dis nou nie meer net 'Scotsman' wat doen wat die Here hom beveel nie Hoe het konferensiegangers die naweek beleef? Werner Geere van Theresapark, Pretoria, vertel: Wat die naweek in Greytown gebeur het, is 'n teenvoeter vir alles wat negatief en beklaenswaardig was die laaste paar maande. Kom ek vertel julle van 'n rigtinggewende naweek in Suid-Afrika se geskiedenis, want manne is besig om op te staan en gemeenskappe te verander omdat een "Scotsman" op sy knieë gegaan en begin doen het wat sy God vir hom gesê het. Toe ons bus Vrydag kort voor 07:00 uit Pretoria vertrek, was daar 'n opgewondenheid oor wat die naweek voorlê. Ons bus is die een wat vyf keer gaan staan het op pad Greytown toe ? die einste bus waar jy nie 'n gemurmureer en gekla gehoor het oor ons so stadig vorder nie. (Ons sou later verstaan dat die tyd wat ons langs die pad deurgebring het met herstelwerk, tyd was waarin God deur manne 'n impak kon maak op een busbestuurder se lewe ? en ons was betyds vir die konferensie). In die kampterreine is gesê dat ondanks die ure lange gewag in die verkeer om op die plaas te kom, daar nie een voorval was waar 'n man sy humeur verloor het nie. Toe ons teen 19:00 in die grootste tent ter wêreld sit en sien hoe die aankomende motors se ligte lang toue vorm uit verskillende rigtings oor die heuwels van KwaZulu-Natal, kon jy sien hoe manne se gemoed vol word van dankbaarheid oor die grootheid van God. 'n Grootheid wat geopenbaar is daarin dat 60 000 manne by die konferensie opgedaag het waar 30 000 verwag is, dat almal elke ete geëet het, dat die geriewe voldoende was en jy nooit iemand hoor kla het nie. 'n Grootheid wat daarin geopenbaar is dat daar nie 'n organisasie ter wêreld is wat 60 000 manne vir ?n naweek kan laat saamtrek, kos gee en twee na drie ure voor die begin van elke sessie in die plek van samekoms saam sien sit rondom 'n ou wat kitaar speel en liedere sing, of 'n groep wat bymekaar staan en saam bid voor die sessies begin nie. 'n Grootheid wat daarin geopenbaar is dat 60 000 manne saam op hul knieë gaan en God aanroep om hul land te heel. Op pad terug hou ons in Montrose stil om diesel in te gooi en kos te koop. Naderhand het selfs KFC se personeel saam ge-amen as die manne in die toue oorweldigend "amen" onder leiding van die ou met die cowboy-hoed. Ons is terug; Angus Buchan se God is saam met ons terug; ons het 'n paar dinge van geloof geleer en dis ook saam met ons terug. Ek het woord gehou en vanoggend stiltetyd gehad soos Angus ons geleer het. Ek is seker daar was duisende ander manne wat dit ook gedoen het. Dinge in Suid Afrika is dus reeds besig om te verander.
Die "Scotsman" is nie meer alleen op sy knieë nie, en hy is nie meer die enigste man wat doen wat sy God vir hom sê nie.
Ons vir jou, Suid-Afrika!
|
|||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|