Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
By:
Tussen lewe en dood
Net voor Kersfees het Kirby van der Merwe gaan kyk hoe die mense op Musina (die ou Messina) leef. Die dorp wat eens die poort na die noorde was, maar nou die poort na die suide geword het. En deesdae, met die cholera-uitbreking, ook vir talle Zimbabwiërs die heel laaste plek geword het wat hulle in hul lewe aandoen. Lucky Tembo knoop sy hemp tot op sy naeltjie oop, skop sy gehawende sandale af en gaan sit op ’n leë verfblik in die koelte van ’n groot boom. Sy toonnaels is rooi geverf. Hy tokkel sy mbira met sy duime. Sy maat, Tinashe Muringai, hou ritme op ’n plastiekhouer. In ’n ommesientjie drom ’n groep jong mans om hulle saam. ’n Ware vermaakkunstenaar bly eenmaal ’n vermaakkunstenaar. As jy in die wieg gelê is daarvoor, sal jy dit doen ongeag die omstandighede. Al doen jy dit soos vanmiddag, Saterdagmiddag, onder ’n boom in bloedige hitte en die stof en die smerigheid van die vlugtelingkamp hier in Musina. En toe Tembo wegtrek met ’n tradisionele lied – ’n meesleurende ballade oor verlore liefde, “Chido waenda” – en “Chemutengure”, een van die liedjies van die Shona-kunstenaar Thomas Mapfumo, sing die skare saam. “Your lover is gone,” probeer iemand help. Tembo sing voor en die mans sing agterna. Hulle ken die lied en hulle sing uit volle bors in ryk, harmonieuse stemme. “Au, Mugabe’s crew!” terg iemand goedig en almal bars uit van die lag. Lucky en Tinashe doop hulself net daar die Mbira Blues. Albei, soos die meeste Zimbabwiese vlugtelinge hier in die kamp, kom van Harare. Die meeste het net die klere aan hul lyf. Hulle vertel van die toestande in Zimbabwe, hul ontberinge om oor die grens tot hier te kom. “In Zimbabwe, there’s no food, no work,” sê iemand. “You can work, but you work for a small amount. If the situation is okay, we’ll go back home. But not now.” Iemand uit die groep las by: “The people are dying, some are in exile, some are here because of poverty.” Nie een van die groep jongmans het my in die loop van die middag kos, water of geld gevra nie. Wel ’n saamrygeleentheid Johannesburg toe. In die Kompanjiestuin in Kaapstad wys die bronsstandbeeld van Cecil John Rhodes, die man na wie die voormalige Rhodesië genoem is, met ’n uitgestrekte arm na die noorde. “Your hinterland lies there,” staan daar op die voetstuk. Maar nou, ironies, het die inwoners van dié voormalige Britse kolonie besef hul hinterland lê suid. En dit is waarheen die duisende Zimbabwiërs wat oor die Suid-Afrikaanse grens stroom, op pad is. Suid. Maar Musina se inwoners is moerig. Die dorp is bekend as die poort na die noorde, nogtans het die toestroming, die inval van vlugtelinge en Zimbabwiërs wat die strate invaar om inkopies te kom doen, hulle onkant betrap. Boonop is daar die Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika werk en woon wat vir die Kersvakansie deur die dorp kom en hul laaste aankope doen voordat hulle die laaste 20 km Beitbrug toe aandurf. Aandurf is die aangewese woord. Om in een stuk uit die lengte en breedte van Suid-Afrika in Musina aan te kom, is noemenswaardig en prysenswaardig genoeg. Op die N1 tussen Johannesburg en Musina het ek ’n hele paar gestrande motors en bakkies gesien: die swaargelaaide sleepwaens het die agterskokbrekers of die bande die gees laat gee. Sleepwaens wat in die middel van nêrens agtergelaat is, wrakke, tekens van ongelukke. En natuurlik moet die rygoed wat enigsins tekens toon dat hulle na buurlande op pad is, elke taxi en ryding met ’n sleepwa, die swerms padvalke en dergelike roofvoëls trotseer. In elk geval, Musina se inwoners is moerig. In ’n brief met die opskrif “What’s happening to Musina?” in die plaaslike koerantjie, Die Noordelike Gazette, braak ’n naamlose inwoner gal (met ’n uitroepteken agter elke sin) oor die toestand van die dorp. Dié inwoner vra onder meer wat van beheer op die dorp geword het. En wat word van die inwoners se belastinggeld? “Die swaar vragmotors wat hul vragte by al die Indiërwinkels aflaai, is totaal onaanvaarbaar. Hulle is ’n gevaar vir die publiek en hulle trap die paaie voos.” Sakemanne versper blykbaar ook die parkeerplekke voor hul winkels sodat goedere maklik daar afgelewer kan word. Die gegriefde inwoner lê die lat in oor die winkeleienaars wat "al die pad na hul banke lag". Hul pryse is blykbaar hemelhoog. Die sypaadjies is heeltemal deur straatverkopers oorgeneem. Die N1 (wat deur Musina loop) lyk soos 'n parkeerplek vir vragmotors, en die dorp lyk in die algemeen soos 'n varkhok. "Please," smeek die beswaarde briefskrywer, "this is Musina, not Zimbabwe!" Die belastingbetalers moet hul stem dikmaak: "We want our town back!" "Dis 'n probleem in hierdie stadium, hoor," sê Boeta van Rooyen, eienaar van Hi-Q in Musina. Sy bandherstelsaak is 'n hanetree van die ingang van die Musina-skouterrein, wat as die tydelike vlugtelingkamp dien. Die "besigheid", die politieke, humanitêre en finansiële krisis in Zimbabwe wat tot die toename van Zimbabwiërs in Musina gelei het, "is 'n geleentheid vir ons aan die een kant, maar aan die ander kant is dit ook 'n groot verleentheid", sê hy hier in sy kantoor. "Ek verstaan die mense se omstandighede, en ek kry hulle jammer. Dis vir my swaar om mense so te sien sukkel. In die begin het ek ook so 50 brode per dag gekoop en vir hulle gegee." Maar soos dinge maar gaan, sê hy, is hy gou teleurgestel deur die menslike aard: "As jy vir hom brood gee, dan vra hy: 'Maar waar is die koeldrank en die vleis? Ek wil nie 'n bruinbrood hê nie; ek wil 'n witbrood hê.' "Ek meen, 50 brode kos 'n paar rand op die einde van die dag." Hy het ook sy waterkrane tot hul beskikking gestel. "Jy sal dit nie glo nie," sê hy met 'n laggie, "maar ons het tot 20 000 liter water deur 'n kraan gedruk hierso. "Toe, op die einde van die dag, toe strip ek. Toe sê ek nee jammer, ek gee nie meer nie." Hy sê die koms van die vlugtelinge het die toon en aard van die dorp verander: "Vroeër jare het die karre hier gestaan. Ons het hier agter geparkeer. Die hekke was nooit gesluit nie omdat hier geen, glad niks niks probleme met diefstal was nie. "Ek moet nou my hekke sluit, want die ou stap net doodeenvoudig in. Hulle kom sommer net in die shop in. Jy moet heeltyd waak en kyk waar is die mense." Maar hy is die Zimbabwiërs goedgesind. Hy doen goeie sake. "Ons het goed opgetel met die Zimbabwiese mark. Ek het nie 'n probleem om te help nie, maar daar is van die mense wat rêrigwaar uitgaan om moeilikheid te maak. "In hierdie stadium van die geveg dink ek hulle moet die vlugtelinge vat en na 'n sentrale punt buite die dorp skuif. Want die hele Musina se naam word deur die modder gesleep." Manny dos Santos en sy vrou het in 1993 'n winkel in 'n rustige Musina gekoop. "Dit was 'n kleinerige winkel, en ons het hom oor die jare uitgebou tot waar hy vandag is. Maar die uitwerking wat die krisis in Zimbabwe op die besigheid het, is ongelooflik," sê Manny met 'n breë glimlag agter die toonbank van Messina Groentemark. "Die besigheid is iets waarvan ons nie gedroom het nie. Ek moes my personeel van nege met nog vyftien vergroot. En ek kan nie afskaal nie, want ek weet nie hoe lank die Zimbabwe-situasie gaan aanhou nie." Hulle hou ekstra voorraad in vraghouers agter op die perseel. "Báie vraghouers," sê hy. En hy is nie die enigste handelaar wat voorraad in vraghouers moet berg nie. Die volume van goedere wat verkoop word, is oral te sien. Musina is besig. Dis chaoties. Jy ervaar baie gou eerstehands waaroor die inwoners kla. Die ergste is die verkeersdruk en die gepaardgaande verkeersopeenhopings in die middedorp. Dit kos jou 'n driekwartier om deur die dorp te ry, en dan moet jy jou oë oophou vir veral die vragmotors en minibustaxi's. 'n Advertensie op 'n winkelvenster wys op die ander gevare wat jou in Musina te beurt kan val: "Aids, cholera, crime, accidents." En dit bied jou ook 'n uitkoms indien die ergste gebeur: "If you die today, where will your soul go? Ask inside." Maar dit lyk of die menigte wat die strate ingevaar het, nie tyd het om aandag aan hul sielsaligheid te bestee nie. Hulle koop en pak - van kos, klere, beddens, kaste, stoele en rusbanke tot boumateriaal, houers en baie drank. Veral mieliemeel word by die tonne verkoop. Stapels mieliemeel staan onder die wakende oog van veiligheidswagte langs 'n kleinhandelsaak. En daar is padstalletjies wat slegs mieliemeel verkoop. "Hulle laat die mense hier rondhol," sê Faith Sibanda van die woonbuurt Nancefield wat met twee inkopiesakke straataf sukkel. "Jy weet, van die Zimbabwiërs kom hierso en dan maak hulle net wat hulle wil. Hulle stop enige plek met hul taxi's. Hulle is 'n probleem, want hulle maak asof Musina deel is van Zimbabwe. Hulle wil hul Zimbabwiese maniere in Musina kon uithaal. " 'n Mens kan nie meer hier in die winkels kom nie," sê sy. "As ek my eie kar gehad het, dan het ek ook soos baie mense Louis Trichardt toe gery om my shopping te gaan doen. Musina se winkels het ons nie meer nodig nie." Ek volg 'n bakkie met 'n vrag bier. Dit is só swaar gelaai dat dit straataf net kan kruie, op pad Beitbrug toe. Op 'n punt, omtrent 5 km van die grenspos af, begin die vragmotors ophoop. Ek volg 'n swaargelaaide motor sommer op die strook grond langs die N1, by die opgehoopte lorries verby. 'n Ent voor die Beitbrug-grenspos klim ons terug op die pad. 'n Fout, want daar staat ek toe byna 'n uur in die bloedige son vasgevang tussen die padreling en die lang ry vragmotors. "Hulle gaan dood van die honger," sê 'n vragmotorbestuurder wat toe reeds 'n ruk daar staan. "Maar kyk hoeveel trokke vol kos gaan daar in." Hy knik Beitbrug se kant toe. "Daar gaan soveel drank in en carriers wat vleis en groente elke dag deurvat soontoe. En dis uitvoerkwaliteit, dis nie stront nie. Kyk 'n bietjie op die pad as jy terugry watse lorries kom hierlangs," sê hy asof hy bewus is van 'n groot komplot. "Skryf hulle neer. Nou waantoe gaan hulle met daai goed?" Ek slaag uiteindelik daarin om die motor tussen twee vragmotors te maneuvreer en terug te ry Musina toe. Op pad terug kom die stroom Zimbabwiërs steeds aan na die grenspos. Gelukkig het Elias Moyo die situasie by die grenspos reg opgesom en besluit om onder 'n reuse-kremetart uit te span. Sy rooi Nissan 1400, staangemaak op 'n stapeltjie klippe, lyk dalk asof dit beter dae gesien het, maar Elias sê nee, hy en sy gesinnetjie gaan 'n rukkie uitspan totdat die ergste hitte verby is. Hy is rustig en 'n man met baie geduld. Sy vrou sit met haar bene uitgestrek in die boom se skaduwee, terwyl sy twee seuns die bakkie se bande omruil. Elias besit 'n spaza-winkel in Thaba Nchu. Hy woon daar, maar nou is hy na sy huis in Masingo naby Harare op pad. Hy het 'n groot stuk grond daar. Ons gesels oor hoe rustig die Zimbabwiese platteland is. Hy vertel van sy boerdery. Toe ek wegry, blaas sy vrou 'n soen daar van onder die kremetart. Cobus Ferreira van Naboomspruit en sy vriend Pieter Nel vat 'n blaaskans by die Spur voordat hy sy "spaarlorrie", gelaai met 30 ton mieliemeel, Harare toe vat. Hy sê baie vragmotors gaan tot by Beitbrug, waar die vragte dan oorgelaai word. "Maar ons vat hom tot in Harare. Daar is 'n sakeman daar wat dit koop. Daai mense kibbel nie, hulle betaal." In die Spur is Piet Senekal filosofies oor die Musina: "Het ons inwoners 'n sê?" wil hy weet. "Nee, ons het nie 'n sê nie. Wat moet ons doen? Teen die stroom swem?" Hy het 'n tekening van 'n kremetart vir een van die Spaanse joernaliste wat die cholera-uitbreking in Musina vir El Mundo kom dek het, gemaak. "Kyk, jy het 'n keuse," sê hy terwyl hy sy handewerk bewonder. "Jy kan teen die stroom stry of jy kan saam met die stroom dryf. Die beste is natuurlik om op die boot te spring. "Maar," sê hy, "don't let people bullshit you that cholera is not that bad." Dit is miskien nie hier so erg nie, maar daar anderkant? Dis 'n tragedie." Op pad terug, naby Polokwane (Pietersburg), sien ek 'n gesig wat my lank sal bybly: 'n stapel netjiese china bags en splinternuwe reistasse in die gras langs die N1. Die groot sleepwa (sonder wiele) waarin die bagasie was, is netjies en waterpas onderstebo langs die pad in die gras staangemaak. 'n Groep vroue het die sleepwa gerieflik ingerig as 'n beskutting teen die elemente. En daar sit hulle statig in hul "huisie" langs die pad. Langsaan, op 'n reistas, hou 'n eerbiedwaardige omie onder 'n sambreel die wag. Ek gaan vra hulle of hulle sal omgee as ek 'n foto van hulle neem. Ja, sê 'n jong vrou. Ja, hulle gee om. Hulle was op pad Malawi toe, sê sy, en hulle sit al van die vorige dag af daar. Ek twyfel of hulle betyds vir Kersfees in Malawi aangekom het. Maar dat hulle geweet hoe om op die boot te spring, dit is gewis.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|