Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Sal Britte dié ‘nuwe soort terroris’ kan keer?
Jan 05 2009 07:13:43:707PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Brittanje sukkel toenemend om die deksel op die kookpot van terreurkomplotte teen hom te hou, skryf Anesca Smith in Londen.

Een van die probleme waarmee die VSA se naaste bondgenoot in die oorlog teen terreur worstel, is die sogenaamde “radikalisering” van jong Moslems – hetsy dié ekstremiste wat gekweek word op eie bodem of wanneer hulle vir kort besoeke na hul Islamitiese lande van herkoms terugkeer.

Die media in Londen noem hierdie mense “die eerste geslag van ’n nuwe soort Britse terroris” – dit wil sê: intelligent, in ’n beroep, welopgevoed en jonk.

Mense soos Bilal Abdulla, die 29-jarige staatsdokter wat net voor Kersfees ’n lewenslange vonnis begin uitdien het weens sy poging om honderde jong nagklubgangers in Londen se West End met twee motorbomme te teiken.

Toe hierdie plan misluk, het hy en ’n medepligtige met ’n vierwielaangedrewe voertuig – gelaai met plofstof – in Glasgow se lughawegebou vasgejaag.

Abdulla is in Aylesbury, sowat 60 km noordwes van Londen, gebore.

Vergeelde foto’s wys hom as baba aan die rondkruip op Brighton se klippies-strand, ’n ander waar hy duiwe op Trafalgar-plein voer.

Toe hy drie jaar oud was, het die gesin na Irak getrek, maar Abdulla het in sy 20’s na Brittanje teruggekeer om sy mediese opleiding te voltooi.

Dit was ná ’n besoek aan Irak in 2006 dat die terreurplan skynbaar in sy kop begin vorm aanneem en hy ’n ingewikkelde dubbele lewe begin lei het: dokter bedags en terroris snags.

Sy geval het vrae op die voorgrond gedwing wat Brittanje in die komende maande sal noop om sy benadering ten opsigte van binnelandse terreur te wysig.

Dit is vrae soos: Waarom het ’n hardwerkende jong man – iemand wat volgens sy familie eens so trots was op die feit dat hy in Brittanje gebore is dat hy gehoop het om as dokter in die Britse weermag te dien – teen sy geboorteland gedraai en sy beroep se etiek verraai?

Die antwoord lê dalk in die woorde van sy ma.

Sy het aan die Daily Telegraph vertel hy het op besoek aan Irak drie dae lank gehuil toe hy die verwoesting in Bagdad sien.

Pakistan se rol

Dit is ook ontstellend dat Abdulla se geval nie ’n uitsondering is nie.

Net dae ná sy vonnisoplegging is ook Rangzieb Ahmed van Manchester skuldig bevind op ’n klag dat hy ’n terreur-selgroep van drie mense georganiseer het om te reël dat Britse burgers na opleidingskampe in Pakistan gestuur word.

Die groot vraag hier is: Hoe onderskei jy mense soos Ahmed van gewone Pakistanse immigrante – van wie daar na raming nou al meer as ’n miljoen is – wat bloot ’n beter toekoms vir hulself in die Weste kom soek het?

Volgens die Londense joernalis Douglas Davis het MI6 se begroting sedert die terreuraanvalle in die VSA feitlik verdubbel.

Desondanks sukkel die intelligensiediens steeds om sy oog op die sowat 2 000 top-Britse “terreurteikens” te hou wat geïdentifiseer is – ’n syfer wat glo ses keer hoër is as in 2001.

Intussen het mnr. Gordon Brown, die Britse premier, die druk op Paki?stan verhoog om die broeikas van terreur op sy grens met Afganistan en binnelands behoorlik vas te vat.

Brown het middel Desember binne een naweek ’n blitsbesoek aan Afganistan, Indië en Pakistan gebring. Dit was toe dat hy bekend gemaak het dit blyk daar is bande met Pakistan in meer as driekwart van die ernstigste terreursake wat die Britte ondersoek.

Die Britse intelligensiediens is ook tans bewus van minstens 20 sameswerings wat teen teikens binne sy grense beplan word.

“Wat hom in die berge van Afgani?stan en Pakistan afspeel, kan regstreeks ’n rol speel in wat in ons dorpe se strate gebeur. Ek wil die ketting-reaksie van terreur verbreek,” het Brown ná samesprekings met Pakistan se pres. Asif Ali Zardari gesê.

Brown het by sy besoek aan Paki?stan ’n ooreenkoms van ?6 miljoen (meer as R90 miljoen) met dié land in die stryd teen terreur aangekondig.

Die geld moet onder meer gebruik word om die land se bomontlontingskapasiteit te verhoog, die aankoop van skandeermasjiene wat motorbomme kan uitwys, en die beveiliging van lughawens.

Brown het die ooreenkoms bestempel as die omvattendste teenterreurprogram tot nog toe tussen Brittanje en enige ander land.

Maar of dit die gewenste vrugte gaan dra en nie net geld in die water gaan blyk te wees nie, kan ’n mens net raai.

  • Anesca Smith is Media24 se verteenwoordiger in Londen.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |