Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Tyd vir ’n nuwe struggle
Ons het in Suid-Afrika ’n gehalterevolusie op onderwysgebied nodig. Dit is egter nie ’n revolusie wat net deur die regering teweeggebring kan word nie. Natuurlik is openbare onderwys in die eerste plek die verantwoordelikheid van die regering. Natuurlik het die regering ’n deurslaggewende rol te speel om ’n werkbare kurrikulum en hoë standaarde daar te stel. Natuurlik moet die regering toesien dat skole oor die nodige menslike en fisieke hulpbronne beskik. Maar ons kan net daarin slaag om ’n onderwysstelsel te hê wat in alle opsigte slaag as nie net die regering nie, maar elke Suid-Afrikaner onderwys tot ’n topprioriteit verklaar en meehelp tot ’n gesindheidsverandering onder alle rolspelers – skoolhoofde, onderwysers, ouers, leerlinge, amptenare en die breë gemeenskap. Ons het ’n nuwe soort aktivisme nodig wat uitnemendheid op onderwysgebied absoluut ononderhandelbaar maak. Ja, daar is skole in Suid-Afrika wat werk en baie goed werk. Daar is egter te veel skole waar daar nie sprake van onderwys van gehalte is nie. Daar is te veel skole waar onderwysers elke moontlike geleentheid gebruik om van die skool af weg te bly. Skole waar ouers en distriksamptenare nie die rol speel wat hulle behoort te speel nie. Skole wat swak bestuur word en wat sonder geesdrif en sonder visie aankarring. Slegs ’n gesindheidsverandering kan die situasie by hierdie skole omkeer. Beter fisieke hulpbronne kan baie help, maar dit kan nie die geesdrif en passie bring wat nodig is om hierdie skole te laat vlamvat nie. Net die beste Die regering se “Gehalte-onderwys-en-leer-veldtog” beoog juis om alle onderwysrolspelers betrokke te maak by die ommekeer van ons sukkelende skole. Dit spel die taak van skoolhoofde, onderwysers, ouers, leerlinge, onderwysamptenare en die breër gemeenskap uit en vra hierdie rolspelers om hulle daartoe te verbind om hul rolle na die beste van hul vermoë te vertolk. Veral ouers en die breë gemeenskap behoort aktivisties betrokke te raak en moet aandring op die beste – nie die tweede of derde beste nie – vir ons land se kinders. Skole moet weet die hele land se oë is op hulle gerig en dat Suid-Afrika en haar mense slegs met harde werk en ’n verbintenis tot gehalte-onderwys tevrede sal wees. Die nuutgestigte netwerk vir openbare deelname in onderwys (PPEN) met sy prominente onderwysleiers kan ’n belangrike bydrae lewer om ’n breë beweging aan die gang te kry ten einde aan ’n revolusie vir gehalte stukrag te gee. Ouers en gemeenskappe moet ook help verseker dat skole veilige hawens sal wees waarop die hele gemeenskap trots is. Ons moet seker maak dat ons kinders elke dag skool bywoon en tot gr. 12 skoolgaan. In aansluiting by die regering se veldtog vir gehalte-onderwys het dit nou tyd geword om die skroewe aan te draai vir skole wat, ondanks grootskaalse regeringshulp en -ingryping, jaar ná jaar nie die mas opkom nie. Ons sal moet vasstel wat die probleme in hierdie skole is – hetsy gebrekkige onderwys of gebrekkige skoolbestuur – en dan moet ons ingryp. Met die hulp van vakbonde sal ons in sommige gevalle mentors of kurators in sulke skole moet plaas om te help dat skoolbestuur reggeruk word. Ons sal ook moet seker maak dat geen onderwyser sonder ’n goeie rede afwesig is nie. Hiervoor is ’n bywoningsregister in elke skool nodig, asook gereelde verslagdoening aan distrikskantore en behoorlike monitering deur distriksamptenare. Somme en spelling 2013 is die afsnydatum vir alle onderwysers om oor die nodige kwalifikasies te beskik. Onderwysers moet gemotiveer word om gebruik te maak van die geleenthede wat vir hulle geskep is om kwalifikasies te bekom. Aan die ander kant moet distrikskantore aan onderwysers die ondersteuning gee waarop hulle geregtig is, veral ten opsigte van vakadvies. Die kapasiteit van distrikskantore sal merkbaar verbeter moet word. En onderwysers wat hul kant bring, moet daarvoor beloon word. Dit is dan ook presies wat die beroepspesifieke salarisbedeling, waarvan die besonderhede tans onderhandel word, beoog. Die werkomgewing van onderwysers en skoolhulpbronne kry ook tans besondere aandag. Die kabinet het onlangs, onderhewig aan goedkeuring deur die tesourie, ’n plan aanvaar waarvolgens skole se infrastruktuurprobleme binne tien jaar uitgewis kan word. Daar kan egter vanselfsprekend nie gewag word totdat al hierdie probleme eers uit die weg geruim is nie. Hoe belangrik sommige van die kwessies ook al is, dit bied nie ’n verskoning vir gebrekkige prestasie nie. Daar is immers genoeg voorbeelde van skole wat, ten spyte van die probleme wat hulle te bowe moet kom, goed presteer. Nog ’n kritieke en onmiddellike uitdaging is leerlinge se gebrekkige geletterdheid- en syfervaardighede. Hoe daar ook al na dié saak gekyk word, die situasie is onverskoonbaar. Ek glo egter dat ons die nodige strategie en plan daargestel het om hierdie probleem trompop te loop. Dit is ’n plan genaamd Foundations for Learning, wat bedoel is om die basiese metodiek om leerlinge te leer lees, skryf en reken, voorop te stel. Uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) het die wanindruk laat ontstaan dat die aanleer van hierdie vaardighede “gefasiliteer” kan word. Ons maak dit nou vir onderwysers duidelik dat leerlinge onderrig moet word, en dat jy nie ’n leerling leer lees en skryf deur “fasilitering” nie. Klanking, woordeskat, spelling, voldoende leestyd, tafels en so meer speel nou ’n kernrol. Moedertaal ís beter Ons sal ook toenemend aandag gee aan onderwys met moedertaal as grondslag, wat myns insiens behoorlike funksionele geletterdheid ten grondslag lê. Alle navorsing dui daarop dat moedertaalonderwys minstens van grade R tot 6 moet plaasvind. Een van die groot probleme is dat baie ouers dink hul kinders sal vlotter in Engels wees as hulle van meet af aan deur middel van Engels onderrig word. Ouers moet daarvan oortuig word dat die teenoorgestelde juis waar is – ’n tweede taal soos Engels word baie beter deur middel van ’n mens se moedertaal aangeleer. Ouers behoort, in hul kinders se belang, op moedertaalonderwys aan te dring! Die regering is op die regte pad wat onderwysbeleid en -visie betref. Die uitdaging is die behoorlike inwerkingstelling van die beleid, en ons skole is die hoofagente om dit te laat gebeur. Ons het elke Suid-Afrikaner se hulp nodig om te verseker dat ons skole die nodige hulp en ondersteuning ontvang om instellings van uitnemendheid te wees, verantwoordbaar aan Suid-Afrika en al sy mense. Ons is dit aan ons kinders verskuldig.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|