Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
China brand en Nero speel viool
Die Chinese regering is meesterlik daarin om al die moontlike munt uit sy prestasies te slaan en sy beeld gepoets te hou. Die vraag is egter of hy opgewasse daarvoor is om aan sy burgers se verwagtinge te voldoen – verwagtinge wat die regering self help skep het met sy selektiewe nastrewing van die sogenaamde hervormings- en oopmaakbeleid. Dit was met trots dat die Chinese Kommunistiese Party einde verlede jaar teruggekyk het op die afgelope 30 jaar sedert Deng Xiaoping sy veelgeroemde toer na die suide van China onderneem het om te begin werk aan wat vandag bekend staan as die hervormings- en oopmaakbeleid. Dié beleid het die land op die hoofweg na ekonomiese ontwikkeling geplaas en die ontstaan daarvan is in die laaste helfte van 2008 met konserte, uitstallings en spesiale televisieprogramme herdenk. Maar hoe het dit dan gebeur dat Chinese leiers in die 20ste eeu weer soos die Ming-keiser Zhu Di in 1423, by wyse van spreke, die skepe verbrand en die bamboesgordyn teen die buitewêreld dig getrek het? Steeds Mao-manie Mao Zedong het hom sedert die chaotiese 1930’s en 1940’s in China geposisioneer as die vyand van grondbesitters, Westerse imperialiste en kapitaliste wat hom aan die kant van verarmde boere, handearbeiders en wer-kers geskaar het. Enigeen met grondbesitterskap in sy familiegeskiedenis kon enige aspirasie om opgang in die party te maak, vaarwel toeroep. So ’n persoon is nie net met wantroue bejeën nie, maar selfs genadeloos vervolg. ’n Verbintenis met grondbesitterskap is beskou as net so erg soos ’n verbintenis, hoe verlangs ook al, met Chiang Kai-shek se Kuomintang, wat in 1949 deur die Kommuniste verslaan is en na Taiwan gevlug het. Mao, wat van sy jong dae af revolusie geleef en gepredik het, het die land verenig as kampvegter vir uitgebuites soos vroue en arbeiders, hoewel hy self die seun van ’n redelik welgestelde boer was. Hy kon egter nie sonder politieke onrus en omwenteling leef nie en het ná die Kommuniste se oorwinning die een katastrofiese veldtog ná die ander begin om die revolusionêre gees aan die brand te hou. Sy sogenaamde “Groot sprong vorentoe” het miljoene Chinese in die ergste hongersnood van die moderne tyd laat omkom. Daarna het hy met die Kulturele Revolusie lyding veroorsaak wat steeds in die kollektiewe gemoed van die ouer garde spook. Aangevuur deur slagspreuke uit sy sogenaamde “Klein rooi boekie” is die idealistiese jong geslag geïndoktrineer om alle gevestigde gesag omver te werp. Op die kruin van sy persoonlikheidskultus het kleuters hul tande gesny op slagspreuke soos “Lank lewe Mao vir 10 000 jaar”, ’n frase wat tradisioneel vir die keiser gereserveer is. Talle onvervangbare kultuurskatte en boeke is verwoes in ’n orgie van geweld en anargie wat die dekade tussen 1966 en 1976 soos ’n terugkeer na ’n intellektuele Steentydperk laat lyk het. En tog word die wasbeeld van Mao, met die kenmerkende blos op sy vlesige gesig, vandag nog deur ’n konstante stroom besoekers aan sy “mao-soleum” met religieuse toewyding vereer asof dit die groot voorsitter se liggaam is. Deng se nalatenskap Ná Mao se dood in 1976 het Deng Xiaoping as oorwinnaar uit die daaropvolgende politieke vakuum getree en met ekonomiese hervorming begin. In vandag se verbruikersamelewing lyk dit of Deng al hoe meer erkenning geniet. Dit was egter ook hy wat hardhandig ingegryp het in die Tiananmenplein-betogings van 1989. Buiten die ekonomie word nou baie aandag gegee aan die bewaring van volkskuns en -tradisies en Chinese kultuurerfenis, wat ook verlede jaar ingespan is om luister aan die feesvierings oor die hervormingstyd te gee. Die herformulering van die ekonomiese beleid om die groeiende gaping tussen die materiële en kulturele behoeftes van die mense en die agterlike ekonomiese stelsel aan te pak het gelei tot wat vandag ’n sosialistiese markekonomie met Chinese karaktertrekke genoem word. Daar is egter nie sprake van ’n vryemarkstelsel soos dit in die Weste verstaan word nie, aangesien die regering die beherende aandeel in die meeste nywerhede en banke behou het. Sommige China-kenners meen die ommekeer in die land se sosiaal-ekonomiese vooruitsigte is nie heeltemal aan Deng te danke nie, maar aan die oogluikende verslapping van beleidstoepassing deur regeringsamptenare wat kleinboere toegelaat het om familiegedrewe boerderye ten koste van die kommunestelsel te begin toepas. Kort ná Deng se geskiedkundige toer destyds is vyf suidelike stede naby Hongkong tot spesiale ekonomiese gebiede verklaar. Hulle het sedertdien meteoriese opgang beleef. Die suidelike stad Shenzhen is ’n voorbeeld van ’n plek wat binne ’n paar jaar van ’n vissersgemeenskappie tot ’n wêreldleier op tegnologiese gebied gevorder het. In Oktober 1992, met die sosialistiese markekonomie stewig op koers, is in ’n nuwe grondwet die modernisering van die landbou, nywerheid, wetenskap en tegnologie en die weermag in die vooruitsig gestel. Die hervormingsbeleid het ook op die gebiede van die regstelsel en politiek ’n invloed gehad omdat uitvoer?gedrewe groei buitelandse beleggers gelok het wat op regverdige ekonomiese wette en ’n stabiele regstelsel moes kon staatmaak. Dáárom – en nie om sy mense beter te dien nie – het die Kommunistiese Party volgens kritici die regstelsel begin hersien. Op politieke gebied, sê die ontleder Bissera Kostova van VN-radio, het hervorming gelei tot groter selfbeskikking vir die provinsies, maar dit het tot ’n ongesonde integrasie van regeringsamptenary en die ekonomie gelei, wat weer grootskaalse korrupsie veroorsaak het. Wit trourokke
Vandag het China ’n vooruitstrewende private sektor en staatsondernemings wat op vraag en aanbod reageer, hul werksmag verminder waar moontlik en in die aandelemark bedrywig is. Die land se aanvaarding van ’n leiersrol in vandag se beleërde wêreldekonomie lei noodwendig tot ekonomiese hervormings wat China al hoe meer in ooreenstemming met aanvaarde Westerse beleidsrigtings bring. ’n Geskatte 80 miljoen Chinese vorm die middelklas en word hoofsaaklik as verbruikers gedefinieer. Die land spog met tot 100 dollarmiljardêrs. Partyleiers wie se provinsies of stede vinnige groei toon, kan bevordering verwag. Hulle gebruik hul posisies om hul private belange te bevorder. Jonathan Fenby skryf in sy Penguin- History of China dat Chinese partyamptenare teen einde 2007 die rykste was, gevolg deur nyweraars, eiendomsontwikkelaars, aandelemakelaars, bestuurders van groot multinasionale organisasies en laastens kundiges wie se vaardighede in die gesond-heids- en onderwyssektor in aanvraag is. Hy sê partyleiers sorg ook dat ’n netwerk van familie, vriende, kollegas, sakevennote en minnaresse floreer, tot afguns van diegene wat buite hierdie burokratiese kapitalisme moet funk?sioneer. Die wêreldwye ekonomiese insinking raak China natuurlik ook in die lig van sy groot uitvoerkapasiteit, maar gelukkig vir die regering in Beijing val dit saam met sy voorafverklaarde strewe om die binnelandse mark te stimuleer. Die land se groeikoers was die afgelope vyf jaar meer as 10%, maar het nou afgeplat na 9,6%. ’n Chinese ekonoom het oor televisie gesê as China nie ’n groeikoers van minstens 8% kan bly handhaaf nie, sal hy nie sy 10 miljoen nuwe werksoekers jaarliks kan help nie. Omdat werkloses ontevredenes is, is dít iets wat die regering nie kan bekostig nie. Daar is onlangs aangekondig dat elektriese toerusting soos televisiestelle en yskaste aan boere gesubsidieer sal word. ’n Magdom kragstasies is in aanbou vir die opwekking van al die elektrisiteit wat in die volgende groeifase benodig gaan word. ’n Mens kry die idee die regering se erns met welvaartskepping neem die plek in van politieke toegewings. Vandag se jong Chinese het steeds daardie naïewe jeugdige idealisme wat Mao ingespan het om die samelewing tot in sy fondamente te skud, maar vandag is dit die slagspreuk “tyd is geld” wat hulle besiel. Soos in die tyd van die Confucius-eksamens is die onderwysstelsel gefokus op die onkritiese weergawe van leerstof wat volgens kritici kreatiewe denke versmoor. Die student wat nie bo ander kan uitstyg in die kollege-toelatingseksamens nie, verbeur waarskynlik vir altyd sy kans op ’n goeie opleiding. As jou ouers entrepreneurs is en jy kan Engels praat, kan jy die drukgang vryspring en oorsee gaan studeer. Die meeste jong Chinese is egter baie patrioties en streef daarna om na die moederland terug te keer en om dit wat hulle geleer het, terug te ploeg. Die Chinese omhels die Westerse verbruikerskultuur soos Kersliedere in winkels, wit trourokke en ringe asof hulle dit self uitgevind het. Maar met die vooruitgang in internettegnologie raak hulle ook al hoe beter ingelig en laat hulle hul stemme gou hoor as euwels in die samelewing hulle nie geval nie. Die regering reageer op kritiek en tree gou en streng op teen korrupte amptenare wat uitgevang word. Bloudruk nodig Tog wonder ’n mens hoe lank Chinese nog tevrede gaan wees met die regering se nastrewing van ’n sogenaamde harmonieuse samelewing ten koste van ingrypende politieke hervormings. Die China-kenner Rob Gifford glo dis ’n geval van Nero wat viool speel terwyl Rome brand. Hy sê daar kan ook net tot op ’n sekere punt kosmetiese verbeterings aan die politieke stelsel aangebring word. Wat China nodig het, is ’n bloudruk vir geleidelike politieke verandering om ’n herhaling van die ineenstorting van die land soos met die mislukte revolusie van 1912 vry te spring. Die knoop lê egter daarin dat die Kommunistiese Party daardeur dalk sy eie doodsvonnis onderteken. Dit is interessant dat hierdie datum weer bestem is om van deurslaggewende belang vir die toekoms te wees, aangesien die huidige regering in 2012 op die 18de partykongres sal moet uittree om vir die volgende geslag leiers plek te maak. Gifford sê dis dán wanneer probleme soos die agterstande op die platteland te groot sal begin word om te onderdruk. Die volgende geslag leiers sal egter weens meer blootstelling aan internasionale invloede hopelik minder dogmaties wees as pres. Hu Jintao en sy kollegas met hul benadering van “stabiliteit ten alle koste”. Ander China-waarnemers meen egter ’n demokratiese politieke stelsel was nog nooit eie aan China nie en daarom is daar nie so ’n verwagting by die Chinese nie. Die tyd sal moet leer.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|