Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Dié Toyota het Franse flair
Jul 25 2007 12:09:25:523PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Marnus Hattingh

Goed, daar’s goeie nuus, maar daar’s ook ’n tikkie slegte nuus.

Die Auris, die RunX se opvolger, word oor twee weke in Suid-Afrika bekend gestel, en nadat ons hom ’n paar weke gelede in Brittanje op die proef gestel het, kan ’n mens verklap dat hy – soos sy voorganger – ook ’n lekker sagte, voorspelbare rit sal bied.

Nog goeie nuus is dat die Auris met ’n baie moderne binneruim spog, amper soos ’n Yaris wat grootgeword het. Voeg hierby die groep se bestaande reeks kanniedood-enjins, goeie gehaltebeheer by hul fabriek in Engeland en ’n reusehandelaarsnetwerk.

En die slegte nuus dan? Wel, Toyota kon gewis darem meer moeite gedoen het om die vabond se voorkoms so ’n raps lewendiger te kry. Een vinnige kyk en hy lyk op ’n druppel soos sy afgestorwe RunX-voorganger.

Toyota maak geen geheim daarvan nie dat hy besorg is dat sy Corolla-reeks al hoe ouer kopers lok. As jy egter deesdae in die C-segment wil meeding, kan jy dié tendens nie in jou kopersprofiel bekostig nie.

Toe Honda boonop verlede jaar met sy hipermoderne Civic vorendag gekom het, moes Toyota ’n plan maak met sy Corolla-reeks. Die Franse ontwerpgroep ED2 is toe met die taak gelaat om die Auris ’n voorkoms te gee wat jong Europese kopers lam in die knieë sal maak.

Wat die buitekant betref, het die Franse die Peugeot’s, Citroëns en Honda Civics ’n guns gedoen. Die Auris, wat terloops ’n aks hoër, wyer en langer as die RunX is, lyk maar taamlik besadig met sy vier deure en breë C-pilaar agter. Geen parmantigheid hier te siene soos wat jy by sy mededingers sal aantref nie.

Dis egter binnelangs waar ED2 hul merk gemaak het. Net soos die kleiner Yaris het die Auris ook ’n prominente sentrale paneel met die fokus wat vertikaal eerder as horisontaal is. Om ’n moderne voorkoms te skep, is die voorruit baie skuins na agter gekantel.

Tien modelle sal aanvanklik na Suid-Afrika kom (Toyota SA het terloops 80 veranderings aangevra van die weergawe wat in Europa verkoop gaan word). Dit sluit in ’n 1,4 liter-petrol (71 kW en 130 Nm), ’n 1,6 liter-petrol (91 kW en 157 Nm) en ’n 1,8 liter-petrol (100 kW en 175 Nm), asook ’n lewendige 2,0 liter-turbodiesel-weergawe (93 kW en 300 Nm). Daar is twee diesels in Europa beskikbaar, maar die kragtiger 2,2 liter-model sal weens ons swakker gehalte brandstof nie kom nie

Vir elke enjinmodel sal jy tussen drie spesifikasievlakke kan kies, naamlik RT, RS en RX. Toerusting is van ’n hoë standaard in die Auris, met die luukste weergawes wat oor ses lugsakke, Xenon-hoofligte, ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en sleutellose toegang sal beskik.

Die 1,4 en 1,6 liter-petrolmodelle het ’n vyfgang-handratkas, terwyl die 1,8 petrol- en 2,0 dieselweergawe ’n sesgangkas kry. Die turbodiesel het ons beïndruk, want behalwe dat hy lewendig is, is hy danksy moderne tegnologie ook lekker stil.

Dis nogal ’n algemene, blywende indruk wat ’n mens van die nuwe Auris gekry het, dié algehele klem wat Toyota op gehalte plaas.

In die geheel gesien sit die Auris nie veel van ’n voet verkeerd nie. Hy bied wat sy teikenmark van hom verwag, met dan nog ’n tikkie astrantheid in die binneruim bygevoeg.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |