Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Tim du Plessis se rubriek
Nzimande spel onheil vir SA se vernielde universiteite.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Jong vrou gryp 2de kans
Nov 20 2008 11:14:07:307AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Marilize Kalis. Foto: Arisja Jacobs
Arisja Jacobs

Secunda. – Geniet jou jongmenslewe, maar neem wyse besluite.

Dít is Marilize Kalis (25) van Secunda se boodskap aan die jeug.

Haar lewensideaal is om ’n motiveringspreker te word en haar storie van ’n tweede kans op die lewe met ander te deel.

Hierdie begeerte lê diep in die jong donkerkopvrou se bruin oë as sy praat. Dis eers wanneer sy stap dat jy agterkom sy loop moeilik en van nader gesien besef jy dat die klein voetjie wat by haar langbroek uitsteek, ’n prostese is.

Marilize het op die harde manier geleer dat impulsiewe besluite jou lewe kan beëindig of met ’n handomkeer kan verander.

Sy het twee jaar gelede ingestem om saam met ’n vriendin in ’n onbekende man se motor te klim. Die motor het in William Nicolrylaan in Johannesburg teen 200 km/h ’n boom getref. Marilize se vriendin en die bestuurder is op slag dood.

“Die motor het letterlik uitmekaar gebars. Ek het uit die wrak gekruip en op die middelman gaan lê.”

Craig Wright, ’n voormalige paramedikus, het op die toneel afgekom en Marilize aan die lewe probeer hou terwyl hulle vir ’n ambulans gewag het.

Marilize se ma, Marna Nel-Steyn, vertel van die graad van haar beserings.

“Lizi se twee femurs en linkerarm was vergruis, haar sleutelbeen gebreek, die bekkenbeen was op sewe plekke gebreek, haar longe was vergruis en het platgeval, haar blaas het gebars, sy het ’n gat in haar regtervoet gehad, haar ribbes en rug was beseer en sy het geweldige harsingskudding gehad.”

Marna sê die dokters het vir twee weke lank daagliks gesê Marilize sal sterf. Haar organe het begin ingee. Al wat hoop gegee het, was dat sy jonk en fiks was.

Haar linkerbeen is eers bo die enkel en toe later by die knie afgesit.

Sy kort ’n nuwe kunsbeen. Dié een se vel trek al af, maar Marilize bly positief. “Ek is met ’n doel hier. So ’n ondervinding versterk ’n mens se geloof.”

Sy stry steeds teen depressie. “Voorheen was ek baie aktief en ingestel op my lyf. Ek was ’n aërobiese instrukteur. Vandag weet ek die lewe gaan oor meer as dit.”

Sy werk nou by die ontvangs van Sasol se veiligheidsmaatskappy.

“Sasol is die beste ding wat tot dusver met my gebeur het. Ek het dit nodig gehad om weer te kan leef.”

Sy soek nou iemand om haar as motiveringspreker op te lei sodat sy haar volle potensiaal só kan uitleef.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |