Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Tim du Plessis se rubriek
Nzimande spel onheil vir SA se vernielde universiteite.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Ouers soek net antwoorde
Nov 20 2008 12:24:34:430PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Mike jr. en 'n skoolvriendin, Elisna Ferreira, by hul matriekafskeid 'n paar jaar gelede.
Nicolize van der Walt

Hartbeesfontein. – Hierdie ouerharte breek wanneer hulle oor hul vermoorde seun en die polisie se oënskynlike laksheid om leidrade op te volg, praat.

Mike en Hettie Jordaan is steeds verslae oor hul lieflingseun, wat Sondag 22 jaar oud sou wees, se wrede dood.

Mike jr., ’n oudleerling van die Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp, en sy vriendin (wie se naam aan Noordwes-Beeld bekend is) is na bewering op 12 Oktober in Rustenburg onderweg vanaf die Waterfall Mall gekaap. Dis onseker of die paartjie by ’n verkeerslig, ’n stopstraat of ’n toegeeteken gekaap is, want tot nou blyk die verklarings in dié verband verwarrend te wees.

Jordaan-hulle is toe blykbaar na die Rooikranskoppie gedwing waar hy glo herhaaldelik met ’n bofbalkolf geslaan en met ’n mes in sy kop gesteek is. Sy vriendin is volgens haar vier maal verkrag deur hul aanvaller – ’n man met een arm in gips en ’n mes as wapen.

“Te veel dinge maak net nie sin nie. Mike was ’n groot, fris man. Net die weergawes oor hoe Mike by die hospitaal beland het, is teenstrydig. Daar is ook niks gesteel nie. Daar was twee selfone, beursies, ’n duur radio, ’n motor… En die polisie het glo tot nou toe niemand ondervra of die misdaadtoneel behoorlik ondersoek nie,’’ sê Mike sr. hartseer.

Volgens hom het die polisie se forensiese eenheid sy seun se motor eers op 2 November, byna drie weke na die voorval, deursoek vir leidrade.

Hettie vee kort-kort trane af en vertel hoe Mike jr. aan masjiene gekoppel was voordat hy ’n paar dae later oorlede is.

“Dis vreemd, toe ons ’n paar uur na sy aanval by die hospitaal aankom, het ons sy trui, hemp en kouse in ’n sak gekry. Die trui was nog klam – iemand het dit kort vantevore gewas. Daar was geen bloed op sy klere nie,’’ sê sy.

Die denim en paar tekkies wat hy ten tyde van die voorval gedra het, was reeds ook silwerskoon geskrop en in sy kamer by die losieshuis wat hy met sy kollegas van Wesalarms, waar hy sedert Januarie gewerk het, gedeel het.

“Daar is sulke groot bloedkolle oral in die motor. Hy was so aangerand en het so gebloei, hoe is dit dat sy klere geen bloed op het nie?’’ vra die Jordaan-egpaar.

Kort nadat Mike jr. dood is, het sy ouers al sy besittings in tasse gepak en in die einste losieshuiskamer gestoor. Die trui wat hy op die betrokke aand gedra het, was ook in ’n tas en is sedertdien skoonveld.

“Daar is te veel stories. Te veel weergawes. Ons vermoed my broer het sy moordenaar/s geken,’’ sê Elize Breytenbach, sy suster.

Volgens Elize is daar aan haar gesê die ondersoekbeampte word nou deur ’n offisier bygestaan. “Ons hou ons opsies oop. Ons sal ’n private speurder aanstel indien nodig of alternatiewelik aandring dat ’n speurder soos dir. Piet Byleveldt hierdie ondersoek oorneem. Dis al hoe my ouers berusting sal kry. Die waarheid sal uitkom,’’ sê Elize.

Mike sr., wat kort voor sy seun se dood baie siek was, het vroeër gesê: “Hoekom het die Here my laat leef net sodat ek my seun moet sien doodgaan?”

Enigiemand met inligting kan Elize by 0 083 379 6134 bel.

Die familie is bereid om ’n beloning aan te bied vir enige inligting wat met die ondersoek kan help.

Die Noordwes- provinsiale polisiewoordvoerder kon nie teen druktyd kommentaar lewer nie aangesien die ondersoekbeampte glo in die hof besig was.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |