Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Beeld-forum:
Dit was toe sy dogter, 'n gegradueerde, 'n IK-toets moes aflê om 'n verkoopsassistent in 'n skoenwinkel in Montreal te word dat hy haar aangeraai het om werk in die VSA te gaan soek (waar hy self toe gewerk het). Min of meer dieselfde het met sy seun gebeur en dié werk nou in Arizona in 'n hospitaal. Dit het my aan die dink gesit oor baie van ons jong mense, wit en swart, se posisie hier in Suid-Afrika. Wanneer is dit ras wat hulle uit werk uit hou en wanneer is dit normale, maar pynlike markwerklikhede? Baie wit mense sê hulle kry nie werk nie, want daar is te veel regstellende aksie. Swart kinders sê weer daar is nie genoeg regstellende aksie nie, daarom kry hulle nie werk nie. Soos 'n swart taxibestuurder wat my vertel dat sy kinders nie kan werk kry nie en dat regstellende aksie net in wit mense se koppe bestaan. Daar is nie so iets nie, sê hy. Ek aanvaar dat ras vir wit én swart 'n rol speel, maar is dit die volle storie? Gestel daar was nie iets soos regstellende aksie nie; maar dat al 46 miljoen mense in SA wel behoorlike opleiding gehad het. Hoe moeilik sou dit dan vir werksoekers gewees om werk in die nuwe Suid-Afrika te kry? In sulke omstandighede vermoed ek baie van ons kinders sou ook 'n IK-toets moes aflê om 'n assistent in 'n skoenwinkel te kan word. Wit mense in Suid-Afrika het grootgeword met jy kies wat jy wil doen en daar is wel werk. In meer normale omstandighede sou dinge nie so maklik gewerk het nie. Dan sou gewone kompetisie, en nie ras nie, die wêreld vir hulle warm gemaak het. Nou is daar weliswaar meer kompetisie, en 'n deel kom uit regstellende aksie uit. Die arbeidsekonoom Haroon Bhorat het 'n paar jaar gelede uitgewys dat Suid-Afrika gegradueerde werkloosheid begin ontwikkel. En dat dit baie groter onder swart en bruin gegradueerdes is as onder wittes of Indiërs. Hoe verklaar 'n mens nou dat regstellende aksie werkloosheid veroorsaak? 'n Mens kan die frustrasie van almal wat nie werk kan kry nie, verstaan. Des te meer so as jy opgelei is. Uit hierdie frustrasie blameer mens (die ander) ras. Maar die basiese rede is gewoon te min vakatures. Meer as 80% van alle werk is in die private sektor en geen maatskappy wat vaardighede nodig het, gaan sy eie werkverrigting torpedeer deur poste net vakant te laat nie. Maar as daar net een pos en twee aansoekers is, is jou kanse klaar net 50%, ongeag ras; en as daar drie aansoekers is... Te min werk word nie veroorsaak deur regstellende aksie nie; dit word veroorsaak deur te min werk. Net meer werkgeleenthede gaan dít regstel. En dit bring ons maar net weer terug na die "ou, ou verhaal": meer ekonomiese groei. Groei, groei en nog 'n duisendmaal groei. In dié opsig lyk dinge nou beter as in 'n baie lang tyd, maar laat ons nie nou op dié spoor gaan nie. Dit kan egter nie net groei wees nie. Daarvoor is Maleisië die voorbeeld. Ná onafhanklikwording het Maleisië baie sterk gegroei, sommige jare meer as 8%. En toe bars erge rasse-onluste los. Die bumiputras, oftewel kinders van die grond en verreweg die grootste bevolkingsgroep, was opstandig omdat die Chinese en Indiër-minderhede die ekonomie gemonopoliseer het. Om dié spanning te bestuur is die ingrypendste regstellende-aksie-programme in werking gestel. Tot op die punt waar as 'n ontwikkelaar 'n blok huise of woonstelle bou, 'n deel daarvan vir elk van die drie rassegroepe gereserveer moes word. 'n Geslag later het dieselfde party wat dit ingestel het, dié maatreëls begin afskaf. Want intussen het die bumiputras gevorder, die ekonomie het kere verdubbel in grootte en daar was genoeg plek vir almal. Die les uit Maleisië is dat transformasie en groei gelyktydig nagestreef moet word. En inderdaad gelyktydig nagestreef kan word. Daar moet groei wees en die meeste mense moet in die groei kan deel. Die óf-óf-manier waarop ons daarna kyk, moet eerder vervang word deur 'n én-én-benadering. Ras gaan nog lank saam met ons wees. Maar ons kan begin wegbeweeg daarvan wanneer ons begin onderskei tussen ras en normale kragte.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|