Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-deurloop: Private stralers vervoer dié ‘bedelaars’
Red nou ’n volk met dié ouens. Die uitvoerende hoofde van General Motors, Ford en Chrysler vlieg so wraggies die week van Detroit na Washington D.C. in duur private stralers om geld van die regering te bedel om hulle van bankrotskap te red. Rick Wagoner het die $20 000-reis (sowat R211 000) in GM se straler van $36 miljoen (sowat R379,8 miljoen) aangepak om $12 miljard (sowat R126,6 miljard) te bedel. ’n Kaartjie op ’n Northwest-vlug sou $288 (sowat R3 038,40) in ekonomiese klas gekos het. Die ouens se uurglas loop uit. Tot die Demokrate het vir eers opgegee om ’n vroeë Krismisboks van $25 miljard (sowat R263,75 miljard) in die drie se hande te druk. ’n Stemming is gister in die senaat gekanselleer nadat hulle agtergekom het te min lede gaan daarvoor stem. En pres. George W. Bush het ook nie “die aptyt” om die souspot oor Detroit om te keer nie. Dis nogal ironies. Verlede Vrydag het Bush die G20-leiers in die Withuis onthaal aan die begin van die eerste noodberaad om die ekonomiese krisis te takel wat miljoene mense hul huise en werk kos. Bush het ’n Shafer Hill?side Select 2003 bedien wat $499 op Wine.com kos – ’n yslike R5 264 per bottel. Mens moet byvoeg die wyn kos tussen $219 en $400 (sowat R2 310,45 en R4 220) elders. Die Withuis het teruggekap – hulle het die wyne goedkoper aangekoop. Hmmm, maar dit was seker ’n heerlike wyntjie saam met die gerookte kwarteltjie en ’n lamsrak. ’n Rrrryk sous met die feesmaal om die einde van kapitalisme mee te vier – of hoe, pres. Kgalema Motlanthe, wat Suid-Afrika en Afrika op die beraad verteenwoordig het? Dit het sommige Yanks laat dink aan die storie van Nero wat viool speel terwyl Rome brand. Maar nie almal dink dis verkeerd nie. ’n Paar reken dis hoe jy hogere gaste trakteer. Nietemin, GM het die dag van mister Wagoner se sessie voor die kongres ’n volblad advertensie in elke dagblad geplaas om die volk in te lig hulle het “aggressief beweeg om GM te posisioneer vir langtermyn sukses”. Jip, hulle het alle verhogings, bonusse en bydraes tot aftreefondse tot ná 2009 “geëlimineer”. Net vergeet om die private stralers soos Sarah Palin op eBay te plaas, lyk dit. Jy kan maar begin koebaai sê aan GM se tenks. Wie onthou die Hummers? Twee jaar terug het hulle vir Toyota se Prius gelag en Hummer-kopers se brandstof gesubsidieer. Die patriotte het dié tenks gekoop om die strate in te vaar. En nou? Die strate is vol Subarus, Toyotas en Hondas. Die Lincoln Towncars met die wapperende vlae het verdwyn. Hier in die hoofstad betaal GM jou die week $1 500 kontant (sowat R15 825) as jy ’n 2009 Hummer H3T van $31 495 (sowat R332 272,25) koop en nadat jy al $1 807 (sowat R19 063,85) afslag gekry het. Die vraag is of GM nog in 2009 gaan bestaan? En wie anders as die ANC-rykes ry nog Hummers? James Bond laat die bloed in Quantum of solace spat . Maar in die laaste toneel gee hy dié Hummer-mentaliteit ’n skop. Die dors boef in die woestyn vergryp hom aan ’n blik olie wat James vir hom gooi voordat hy koel in sy Ford Edge wegry. Die boef suip daai blik olie toe uit soos ’n bottel Shafer Hillside Select 2003.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|