Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Tim du Plessis se rubriek
Nzimande spel onheil vir SA se vernielde universiteite.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Beeld-forum: Ekonomiese groei bedreig ons
Nov 20 2008 06:47:24:163PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Ferdi Greyling

Daar is reeds uitgewerk dat die wêreld vandag soveel hulpbronne uit die natuur gebruik om ons manier van lewe vol te hou dat ons een van die dae meer as een aarde nodig gaan hê.

Anders gestel beteken dit dat die hulpbronne binnekort te min gaan wees en dat ons ekonomiese stelsel en ons samelewings in duie gaan stort.

As daar byvoorbeeld nie genoeg olie is om petrol vir al die motors in die wêreld te maak nie, gaan ’n klomp van die motors nie meer kan ry nie.

En as dit die motors in jóú stad is, gaan jy nie by die werk uitkom nie. Die ander werkers ook nie. En as dít gebeur, gaan jy nie meer geld kry om kos mee te koop nie – selfs al het die winkels nog kos (wat van iewers af aangery moet word).

Dan gaan jy nie geld, vervoer of kos hê nie. Dis min of meer dan die einde.

In een van verlede maand se uitgawes van die Britse wetenskap-tydskrif New Scientist het ’n klompie denkers en ekonome oor die kwessie geskryf.

Hulle het min of meer tot die gevolgtrekking gekom dat die wêreld se ekonomie een van die dae sal moet ophou groei as ons wil oorleef.

Die logika is eintlik baie eenvoudig. Ons leef in ’n werklikheid wat beperkinge het.

’n Pampoen hou die een of ander tyd op om te groei.

Dieselfde met ekonomieë wat gevoed word met wat uit die aar-de gehaal word – olie, bome, me-tale . . .

Hulle voer aan dat daardie punt waar die wêreld se ekonomie nie meer groter kan word nie, op ons is. Dus – as ons wil oorleef – gaan ons moet gewoond raak aan wat hulle noem ’n “solid state economy”.

’n Ekonomie wat nie groter word nie.

Hy kan nog altyd lekker aan die gang gehou word, maar hy gaan nie groter word nie.

In so ’n samelewing, sê hulle, sal mense byvoorbeeld minder werk, minder reis en nie gereeld nuwe modelle van dit en dat koop nie.

Goed gaan weer gemaak word om lank te hou en as dit breek, gaan dit reggemaak word.

Wat ’n mens by die snelweg tussen Johannesburg en Pretoria bring, die een wat elke oggend en aand volgeprop teen ’n slakkegang beweeg.

Die vraag is eenvoudig: Is dit rêrig nodig dat al daardie mense elke dag tussen die twee stede moet ry?

Wat ’n mens by ons minister van kommunikasie, dr. Ivy Matsepe-Casaburri bring. En by Telkom.

Die skrywers van die artikels in New Scientist sê die wêreld het reeds die raamwerk vir ’n vinnige en kragtige kommunikasienetwerk – die internet.

Dit kan ingespan word sodat mense nie meer so baie hóéf te reis nie. Tele-oproepe tussen vastelande kan (uiteindelik) vliegtuigreise vervang.

In plaas van om na eksotiese plekke te reis, kan mense virtueel reis.

Soos byvoorbeeld tussen Johannesburg en Pretoria.

Van my kollegas reis van Pretoria na Johannesburg om in Johannesburg óf met kollegas te sit en praat in ’n vergadering óf om op ’n rekenaarstelsel te sit en werk.

As ons ’n behoorlike breëband-netwerk plaaslik gehad het – wat ons maklik kan hê, want die kabels tussen Johannesburg en Pretoria is daar of kan maklik gelê word – kan baie mense tele-konferensies met mekaar hou in plaas van fisiek te reis tussen Johannesburg en Pretoria.

Dit is op die oomblik nie baie haalbaar nie omdat sulke oproepe duur en van swak gehalte sal wees. Klein skermpies wat rukkerige beelde vertoon, is nie so goed soos om iemand oor ’n tafel te sien nie.

Maar as die breëband behoorlik is, kan die skerms groot wees, die klank helder en die beelde glad en in hoë definisie. ’n Vergadering kan dan ’n konferensie-oproep wees. Mense sal nie elke dag heen en weer hoef te reis nie.

Dan sal hulle ook van hul huise op ’n netwerk kan konnekteer en werk asof hulle in die kantoor sit.

Hoekom het dr. Ivy dit nog nie laat ontwikkel nie? Is dit omdat die regering aandele in Telkom het?

Dit raak nou meer as net ’n snelweg wat elke dag verstop is. Dit raak nou iets wat ons voortbestaan begin bedreig.

  • Om kommentaar te lewer, gaan na die blog Wêreld se Goed by www.beeld.co.za.

  • Ferdi Greyling is ’n senior redaksielid van Beeld.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |