Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Beeld-forum: Grense hou nie cholera buite SA
Die cholera-epidemie wat nou soos ’n dief oor die Zimbabwiese grens met Suid-Afrika gesluip het, behoort ’n laaste waarskuwing te wees aan diegene wat nog glo dat nasionale grense die buitewêreld kan uithou. Wanneer ’n jong toerleier uit Zambië met ’n dodelike siekte die personeel in ’n hospitaal in Johannesburg besmet, word ’n mens weer met dié besef gelaat: Hoeveel draadheinings en immigrasieburo’s ons ook al oprig, ons leef in ’n ineengeskakelde werklikheid. Almal het die Suid-Afrikaanse regering gewaarsku dat as hy niks oor Zimbabwe se krisis doen nie, gaan die probleem oorspoel hiernatoe. Tog was niemand seker watter vorm dit gaan gaan aanneem nie. Vlugtelinge? Dit het al gebeur, maar die regering verkies nog om oë toe te knyp. Militêre opstand in Zimbabwe met basisse op Suid-Afrikaanse grondgebied? Dit het gelukkig nog nie gebeur nie. En nou, cholera. Die krisis waarvoor Suid-Afrika nou staan, moet in ’n internasionale konteks beskou word. Volgens ’n studie van die Britse nie-regeringsorganisasie Chris-tian Aid, wat deur die Franse skrywer Paul Virillio aangehaal word, sal daar in 2050 meer as ’n miljard mense buite hul geboorteplek woon. Die wêreld huisves reeds 200 miljoen migrante en vlugtelinge – ’n groter bevolking as in enige land in Afrika. Die skeidslyn tussen swerwer en tuisblyer word al hoe vaer, sê Virillio in ’n artikel by ’n fototentoonstelling oor migrante wat tans in Parys gehou word. Die tuisblyer sit voor sy rekenaar en besoek die wêreld, terwyl diegene wat voorheen koloniseerders se inval ervaar het, nou die koloniale magte binneval – nie met gewere en die Bybel onder die arm nie, maar op bootjies en weggesteek in treine. Hulle leef daagliks in vrees as onwettige immigrante. Dit is tog verstaanbaar dat mense na ’n ryker, meer georganiseerde plek gaan vlug om aan hul haglike situasie te probeer ontkom? Elders word genoem dat daar glo meer as 70 tonnels onder die grond gegrawe is op die grens tussen Mexiko en die VSA deur immigrante wat desperaat is om in die VSA te gaan werk. So ook is daar glo tientalle tonnels onder die grond tussen die Gasa-strook en Egipte – gegrawe deur Palestyne wat uit Gasa wil kom. Die Christian Aid-studie voorspel dat 250 miljoen mense weens die gevolge van klimaatsverandering sal moet vlug. Wie gaan vir hulle plek maak? Mnr. Michel Rocard, voormalige Franse premier, het gesê: “Ons kan nie die hele wêreld se ellende hier by ons verwelkom nie.” Europa het die laaste paar dekades al hoe strenger geword teenoor immigrante en sy grense al hoe digter gemaak. Dit help nie veel nie. Die wêreld is almal se probleem en armoede op een plek gaan vroeër of later na jou toe oorspoel. Minstens snap die Verenigde Nasies, die G8 of G20 en internasionale hulporganisasies soos Dokters Sonder Grense dit. Gesprekke oor globale krisisse en die oneweredige verspreiding van rykdom hou die sleutel tot die opheffing van die wêreld se ellendiges – waar hulle ook al woon. Ander Afrika-lande is jare lank al onderworpe aan die fenomeen van vlugtelinge wat met siektes, pyn en haweloosheid op hul grondgebied kom hulp soek. Vlugtelingkampe bly soms dekades lank oop, soos dié in Guinee, die Westerse Sahara en Burundi. Die laaste paar weke het duisende vlugtelinge uit die Demokratiese Republiek van die Kongo weer na Uganda gevlug. Die Ugandese regering het nog niks gedoen om hulle uit te gooi nie, of om hulpverleningsorganisasies se werk in die wiele te ry nie. Suid-Afrika, hierteenoor, weier om vlugtelingkampe op te rig en het tot dusver ’n hartelose benadering gevolg teenoor veral die Zimbabwiërs wat hier kom toevlug soek. Die paar kampe wat vir xenofobie-slagoffers opgerig is, is met geweld afgebreek. Gaan die cholera-gevaar dié houding verander? Die regering se eerste reaksie vandeesweek lyk tog positief, en daar is aanduidings dat mediese hulp na die grens gestuur gaan word om choleralyers te help. Maar gaan dit werklik die beleid verander van ’n regering onsimpatiek jeens vlugtelinge en immigrante? Meer nog, gaan daar ’n groter dringendheid wees in die soeke na ’n politieke oplossing vir die Zimbabwe-krisis?
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|