Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Beeld-forum: Obama se beleid is konserwatief
Nov 25 2008 03:31:32:907PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Rhoda Kadalie

Die nuustydskrif Time se gedenkuitgawe op 17 November 2008 oor Barack Obama se oorwinning as die eerste swart president van die VSA was heeltemal oordrewe.

’n Mens kan nie anders as om ’n bietjie naar te voel oor die hagiografie wat jou oorweldig met die lees daarvan nie.

Een van die stories is spesifiek die moeite werd om van kennis te neem: Wes-Kenia, waar Obama se vaderlike voorouers vandaan kom, het ter ere van hom ’n bul geslag.

Die Keniane vereenselwig hulle so duidelik met ’n president wie se stamboom uit die gebied kom. (Dit is nou ongeag die feit dat sy wit ma hom vrou-alleen moes grootmaak en die opvoeding verskaf het wat hom tot in die presidensie gelanseer het.)

In hul woorde oor die Keniane wat hom as een van hul eie opeis, het die ironie van hul ophemeling die artikelskrywers heeltemal ontgaan. Die Keniane het oor Obama se sege gejuig terwyl hulle nie daartoe in staat is om hul eie president te erken nie, omdat sy verkiesing ’n gemors was wat in ’n verwoestende, etniese vlammesee van tragiese omvang geëindig het.

Hierdie verhaal daar gelaat: Hoekom het Obama gewen terwyl soveel van sy beleid baie konserwatiewer as John McCain s’n is?

Time skimp meer as een keer daaroor, maar is nie juis eksplisiet oor die redes nie omdat sy skrywers volhou dit was ’n post-rasse-verkiesing – geopper teen ’n agtergrond met sterk rasgebaseerde debatspunte. Klaarblyklik was die keuse oorweldigend teen pres. George W. Bush, en dit het eintlik die konserwatisme van Obama se beleid verbloem.

My dogter het ’n steekproef gedoen onder haar medestudente in ekonomie aan Harvard (wat almal Obama ondersteun het), deur aan hulle tien vrae te stel. Só het hulle geantwoord:

Ondersteun jy Nafta (die Noord-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms) en Cafta (die Sentraal-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms)? “Ja.”

Ondersteun jy die Colombiaanse Vryhandelsooreenkoms? “Natuurlik.”

Ondersteun jy die Suid-Koreaanse Vryhandelsooreenkoms? “Ja.”

Ondersteun jy die drastiese verhoging van tariewe op Chinese goedere? “Nee.”

Ondersteun jy massiewe subsidies vir die Amerikaanse landbou? “Nee.”

Ondersteun jy subsidies vir mielie-etanol? “Nee.”

Is jy gekant teen die invoer van doeltreffender suiker-etanol van Brasilië? “Nee.”

Ondersteun jy die Byrd-ooreenkoms (wat Amerikaanse maatskappye wat prysklagte aanhangig maak, beloon)? “Natuurlik nie. Dit weerspreek alles wat ons van ekonomie weet.”

Wil jy afsien van die geheime stemming wat betref gay-huwelike (certifying of unions)? “Watter regdenkende mens sal daarvoor stem?”

Wil jy die getal visums vir buitelandse geskoolde arbeiders verminder? “Hoegenaamd nie.”

Die antwoorde was 10/10 ten gunste van McCain vir die senaatstemming, en 10/10 teen Obama.

Hier is vir ons ’n les. Met ’n verkiesing in Suid-Afrika op hande, weet ons waarvoor ons stem?

Die media gee oordrewe aandag aan Julius Malema en kyk die veranderinge in die ANC-administrasie sedert Kgalema Motlanthe as staatshoof oorgeneem het, mis. In my omgang met die regering het ek reeds ’n verfrissende wyse van optrede bespeur.

Me. Lynne Brown, die Wes-Kaapse premier, byvoorbeeld, ruim op in haar provinsie se finansiële administrasie op maniere wat ons nie tevore gesien het nie.

Deur ontslae te raak van kabale en netwerkgroepe wat skadelik vir die bestuur van die provinsie was, fokus sy nou op gebiede wat aandag nodig het en ken sy geld toe volgens die regering se prioriteite.

Met ’n beter verhouding met Helen Zille, haar politieke opponent en uitvoerende burgemeester van Kaapstad, wys Brown ook ’n volwassenheid van gees wat by die vorige premier ontbreek het.

Sowat ’n week gelede het ek ’n vergadering met mnr. Yousuf Gabru, die provinsiale minister van onderwys, aangevra, en dit is onmiddellik toegestaan.

Die nuwe regime, minstens in die Wes-Kaap, wek die indruk dat hy inderdaad meer gefokus op mense en ernstig oor dienslewering is. Boonop beantwoord hulle telefoonoproepe.

  • Rhoda Kadalie is ’n menseregte-aktivis.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |