Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Politieke Beeld: Suzman-erflating moet voortleef
Laat ek my sentiment eerlik op die tafel plaas: Vir my is daar geen politieke nalatenskap groter as dié van die pas ontslape mev. Helen Suzman nie. Kom ons kyk na die werklikhede waarbinne sy moes werk en die ideale waarvoor sy geveg het. Suzman het te staan gekom teen ’n bykans almagtige politieke party wat haar pogings om menseregte te laat gedy, en diegene wat nie die regering se noodwendigste ondersteuners was nie ’n stem in die parlement te gee, sover moontlik ondermyn het. Vir haar moeite het die regering en opposisiepartye wat nie die nie-rassige ideaal onderskryf het nie, haar uitgeskel en daarvan beskuldig dat sy en haar party nie Suid-Afrika se belange op die hart dra nie; dat sy onpatrioties is omdat sy eerstens die regering van die land kritiseer en tweedens weier om haarself primêr tot ’n spesifieke etniese groep te bind. Ja, wel, dinge verander en dinge bly dieselfde. Vandeesweek het elke Jan Rap en sy maat haar lof besing, en dis goed so. Sy verdien dit, hoewel haar sardoniese sy waarskynlik veel te sê sou hê oor wie skielik haar lof besing. Suzman was nooit een vir valsheid nie. Wat mens eerder sou wou sien, is dat hierdie lofsangers meer aandag gee aan die inhoud eerder as die aard van haar stryd, en haar nalatenskap sal laat voortleef. Haar nalatenskap is die liberale ideaal: dat elke mens ’n gelyke kans moet kry, dat ras geen rol moet speel nie, dat regering skoon moet wees, dat nasionalisme geen plek het nie, dat ’n kritiese ingesteldheid en onafhanklike denke voorop moet staan, dat ’n sterk opposisie net so belangrik is as ’n sterk regering en dat al die o so belangrike politici se ampstitels en prestige eintlik algehele onsin is. Haar nalatenskap is voorts dat mense sonder aansiens des persoons volgens meriete moet kan funksioneer. Dit is die wesenlike onselfsugtigheid, maar terselfdertyd vir sommige die meedoënloosheid van Suzman se onverbiddellike liberalisme. Want dit beteken jy kan nie vasval in wat op die oog af die belang is van die etniese groep waartoe jy behoort nie. Jy kan trouens glad nie die etniese kaart speel in die politiek nie – nie as jy in die magsposisie is, soos die ANC nou en die NP vroeër nie, en nie as jy gemarginaliseer word, soos swart mense vroeër en wit, bruin of Indiër nou nie. Suzman se nalatenskap verg ’n verbete nie-rassigheid, al dink almal om jou jy is mal om nou en hier in raad en daad daarin te glo. Dit eis dikwels dat jy bo die onmiddellike belang van jouself en enige vorm van bevoorregte groepering moet uitstyg om hulp te verleen aan die persoon wat swaarkry, veral van die etniese groepering waartoe jy nie behoort nie. Juis daarom het Suzman die NP en die KP se ou nasionalisme so verbete beveg. Juis daarom was sy in hierdie dae ewe uitgesproke teen die ANC en die VF+, die KP se erfgenaam, se nuwe nasionalisme. Dit sou haar nooit gewild maak nie, net soos dit nie vandag haar ondersteuners gewild sal maak nie. Dit is makliker om te kies vir eiebelang. Vir diegene van ons vir wie Suzman se nalatenskap ons plig en ons erns is, is dit eerstens belangrik om in ons handel en wandel velkleur nie raak te sien nie. Ons moet mense sien as individue, geskape om gelyke geleenthede te kan geniet. Tweedens moet ons haar volkome integriteit probeer nastreef, en dus eerlik optree, gedryf deur beginsel eerder as belang. Derdens moet ons nie skrik vir mense in belangrike posisies nie. Hulle is feilbaar. Vierdens moet ons sorg dat ons, soos sy, ons feite regkry deur self te kyk wat gebeur sodat ons weet waarvan ons praat. Vyfdens moet ons weet dat die meerderheid se wil altyd aanvaar moet word, maar dat die meerderheid nie altyd in die politiek reg is nie. Ek het die laaste paar dae baie nagelees oor hoe die magtiges van destyds Suzman uitgetrap het. Die bewerings dat sy onpatrioties was omdat sy die regering gekritiseer het en dat nie-rassigheid onhaalbaar is, was so bekend. Dat sy deur haar ideale oorleef word, wys die kritiek se tydsgebondenheid, en haar gewaardeerde universele tydloosheid. Hierop kan ons gerus in hierdie verkiesingsjaar let.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|