Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Wie het wie verneder?
Weideman het dalk bietjie tee oor haar gekry voor 10 of 20 of 100 mense...

Leserskommentaar onderaan.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Fugard-ontdekkingstog
Apr 27 2004 06:05:40:610PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Die internasionaal gevierde Suid-Afrikaanse dramaturg Athol Fugard tree tans in die land op om oor sy lewe en werk te gesels. Temple Hauptfleisch het die geleentheid op Stellenbosch bygewoon en gee sy indrukke.

Die Protea Boekwinkel in Stellenbosch het nog nooit só gelyk nie. Propvol gange wat druis van gesprekke en opwinding. Stoele word ingedra, maar steeds sit mense op die vloer.

Volgens Louis Esterhuizen is daar meer as honderd gaste ingeprop by hierdie buitengewone voorlesing. En dit alles om Athol Fugard te sien, die man wat al beskryf is as "the greatest living playwright in the English language" (die tydskrif Time) en wie se werke volgens 'n onlangse peiling net deur dié van Shakespeare oortref word wat betref die getal opvoerings wat jaarliks in Amerika plaasvind.

Anders as die hiper-teruggetrokke J.M. Coetzee is hierdie Engels-Afrikaanse skrywer, regisseur en akteur 'n heerlike gas, 'n ekstrovert wat gemaklik, onderhoudend en nogal aanhoudend kan gesels, by tye in lekker Afrikaans, met deurlopende verwysings na "my mother's people".

Hy kom in, en die byeenkoms vat onmiddellik vlam toe hy spontaan oor sy terugkeer na die Kaap praat, terwyl die organiseerders nog stoele en deurlope organiseer. Hy sit stil en luister met 'n glimlag terwyl hy omvangryk voorgestel word.

Dit afgehandel, staan Fugard nader, 'n veel gemakliker, rustiger mens as die intense en asketiese figuur wat ons oor die jare in foto's en op die verhoë leer ken het. Dalk ook 'n bietjie voller om die lyf soos baie van ons, hoewel hy nog merkwaardig fiks en aktief voorkom.

En toe begin hy praat - of eerder, voorlees uit sy joernaal wat hy tans vir publikasie voorberei. Soos ons uit ander voorbeelde weet, is die joernaal van enige skrywer 'n merkwaardige dokument, wat op die beste van tye aan ons 'n toegang bied tot die unieke prosesse en teenstrydighede wat in die gees van 'n skrywer woed op pad na die volgende werk. In hierdie geval word dit veel meer; dit word 'n belewing van die stryd.

Soos hy lees, práát Fugard met ons, bespreek hy, daar voor ons, met 'n stem vol passie, genot, pyn en trane van deernis of woede, oor enkele dae in sy lewe, daar ánderkant aan die kus van Kalifornië - en sy geestelike lewe hier, by ons, oor ons en ons mense.

En by uitstek word sy keuse van leesstof 'n indringende werksessie in die werkproses van 'n skrywer wat sy roeping ernstig opneem.

Merkwaardig genoeg is hierdie werksessie nie gefokus op die stuk wat geslaag het nie, maar eerder op die toneelstuk wat gefaal het. Die storie wat hy nie kon vertel nie. Hy lees die koerantberig oor Pumla Lolwana en haar drie kinders - Lindani (2), Andile (3) en Sesanda (5) - soos opgeteken in Die Burger, Beeld se susterkoerant, in 2000, aan ons voor. Dit vertel ons van 'n mooi somersdag op die Kaapse Vlakte, toe hierdie moeder uit die Samora Machel-nedersetting tussen Philippi en Nyanga met 'n kind op die rug en die ander in die arms op die spoor voor 'n aankomende Metrorail-trein gaan staan het. Hy sukkel om die name in die berig te lees, sy stem dik van aandoening, trane in sy oë.

Die meeste van die gehoor is soortgelyk getref. En dan vat hierdie meester- storieverteller ons, deur middel van sy joernaalgesprekke met sy skrywers- alterego, op sy ontstellende reis om te verstáán en sy soektog na daardie kern-element in elke Fugard-drama: 'n sentrale metafoor, daardie visuele beeld wat sowel die invalspunt verskaf vir die vertelling as die struktuur wat die stuk bepaal. (Dink maar: 'n Vrou met bagasie op haar kop = Boesman en Lena; 'n foto van 'n man met 'n pyp en 'n sigaret in die hand = Sizwe Bansi is dead; 'n werf vol vreemde beelde = The Road to Mecca, ensovoorts).

In hierdie geval is die beeld vir ons almal tog baie duidelik: 'n vrou op die spoor, kinders teen haar aangedruk, en 'n hulpelose treindrywer wat met die dood op haar afpeil. Aangrypend, ontstellend.

Maar dan neem Fugard, die filisoof-skrywer, ons mee op sy soektog vir die toneelstuk wat in daardie beeld moet lê, wys ons die komplekse prosesse van ontleding en spekulasie waarmee hy die beeld ontrafel, bevraagteken, uiteindelik probeer omskep. Hy bied ons eindelose ontleding en herontleding van die enkele beriggie, en geleidelik deel ons sy groeiende twyfel en ontsteltenis by elke doodloopstraat, sy kortstondige jubeling by elke skynbare deurbraak wat voorkom, maar dan ook vasval in die sentrale misterie van Pumla Lolwana en haar kinders.

Geleidelik besef die luisteraars dat hy juis nie vir die voor die hand liggende beeld wil staan nie, maar alternatiewe soek, interpretasies, insigte, wat die skryfproses vir hom 'n ontdekkingstog maak, 'n pad van verryking vir hom en sy gehoor.

En só bring hy ons tot die skokkende slotsom, naamlik dat selfs hy - 'n meester van sy vak en by uitstek die dramaturg van die klein en vergete mens in ons land - nie hierdie storie kan vertel nie. En die rede, wat hy uiteindelik aan homself moet erken, is dat anders as al sy ander groot heldinne (aan wie hy ons in die loop van die reis ook voorstel), wat almal tragiese omstandighede moet konfronteer, eindig dit altyd daarmee dat hulle kans sien om aan te gaan - Lena, Hester, Millie en (danksy sy herskrywing van die werklike einde) Helen Martins.

Pumla Lolwana se werklikheid is dat sy werklik by 'n punt van geen hoop gekom het. En daaroor kan Athol Fugard nie skryf nie. Hy dink hy verstaan nou, maar hy kan dit nie vertel nie.

Die stilte ná hierdie storie word met applous verbreek, en Fugard beantwoord enkele vrae oor sy aanpassing ná die nuwe bedeling (en hy erken darem die dilemma dat die wegval van die politieke dryfveer hom 'n tyd lank gekniehalter het, maar nou glo hy ons het nuwe uitdagings - selfs meer komplekse uitdagings - en dit is kos vir die skrywer).

Sy huidige werk sluit blykbaar 'n stuk oor André Huguenet en Eugène Marais in, een rede vir sy onlangse besoeke aan Stellenbosch en die Kaap. 'n Ander verbasende erkenning is dat hy teen verlede jaar sy twee rolle as toneelspeler en as regisseur geleidelik afgesweer het, deels omdat hy glo hy is daarvoor nie werklik natuurlik aangelê nie, maar grootliks omdat dit in die pad van die skrywer kom.

Hy fokus dus nou op sy lewe as skrywer en het vir dié doel uiteindelik 'n nuwe lessenaar gekoop.

Mag nog veel toneelwerk van daardie lessenaar voortkom, want ons het sy soort diepgang in ons teater bitter nodig.

  • Temple Hauptfleisch is voorsitter van die Universiteit van Stellenbosch se drama-departement.

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |