Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Vader van Afrikaanse rock praat
"Ek is kwart oor vyf eers uit Valiant (Swart) se huis uit. Ek het veertig minute gelede uit die bed opgestaan en 'geshower' en stad toe gejaag." Dat Dirk ná 'n nag se harde kuier met sy rockbroers vroeg is vir 'n onderhoud spreek boekdele oor dié "vader van Afrikaanse rock" se missie om rockers se "image" te verander. Om rockers se roekelose beeld nog verder af te breek, stuur Uys 'n dag ná die onderhoud 'n e-pos met ellelange antwoorde op vrae wat hy voel hy nie "deeglik genoeg" beantwoord het nie. Uys, wat vanjaar weer aan die stuur staan van die Tassenberg Stalteater op Oudtshoorn en die Kaktus op die vlaktes-konsert (die rockhoogtepunt van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees) organiseer, het nie tyd vir mense wat dink rockmusikante is 'n spul "slapgat leeglêers" nie. As iemand met gesag kan praat oor Afrikaanse rockers, is dit Uys, wat as musiekkenner, organiseerder, vervaardiger, promotor en gesoute "rockgroupie" al goed op pad is na twee dekades aan die voorhoede van Afrikaanse rock. Uys is ook die dryfkrag agter 'n CD-oorsig van Afrikaanse rock wat vandeesweek op die KKNK uitgereik is. Die uitreiking van Vloek van die kitaar: 18 Afrikaanse rockers 1979 tot 2001 is 'n poging om die Afrikaanse rocktoneel in perspektief te plaas, sê Uys. "Dit het nodig geraak, want mense wat nie agtergrond het nie, het 'compilations' begin maak, soos Alternatief op sy beste. Iemand wat deel was van die beweging, moes die 'record straight set'. "Ek het probeer om 'n klomp goed op een slag te doen. Ek wou die musiek in 'n historiese perspektief plaas om vir mense te wys hoeveel 'great' songs daar al was en hoe dit ontwikkel het en waar ons nou staan. "Ek wou ook wys hoe lewenskragtig ons musiek is en hoe wyd die omvang is. Daar is van Anton Goosen se Blommetjie gedenk aan my, wat ek beskou as die eerste Afrikaanse 'rocksong', tot Bernoldus Niemand en Koos (2 'songs' van Niemandsland, volgens my sy beste album), Valiant is daar, Springbok Nude Girls, Beeskraal, Akkedis, Spinnekop, Brasse vannie Kaap en Battery 9." Waarom niks van Johannes Kerkorrel nie? "Vriend Kerkorrel 'didn't make it', want ek het regte rock 'n roll gesoek. Buiten 'n 'song' van David Kramer wat ek wou gebruik en nie kon kry nie, is almal daar." Uys se toewyding aan Afrikaanse rock is onlosmaaklik gekoppel aan sy rebelse streep. Ná skool het hy kommunikasiekunde gestudeer, iets wat hom later baie nuttig te pas gekom het. "My kennis van bemarkingstrategie het my baie gehelp. 'Ek verpes Bles' was een van my 'lines' gewees en ek het die 'T-shirt' laat maak. "Op die Voëlvry-toer het dit my ook baie gehelp dat ek offisierskursusse in die 'army' gedoen het. As jy leer om 'n operasie te 'run', om 'orders' uit te gee, kom dit jou nuttig te pas saam met die kennis van 'marketing' en 'advertising'." Hoewel Uys nie illusies het oor sy eie sangtalent nie, het hy wel as liriekskrywer 'n impak gemaak. Die treffers Anargie, BMW en Almal moet gerook raak was glo sy woorde. Dat hy nie erkenning kry vir sy kreatiewe bydraes nie, besorg hom nie slapelose nagte nie, sê Uys. "Dit maak natuurlik seer om nie die erkenning te kry wat jou toekom nie, maar ek het geleer dat tyd die ware toets is en dat daar 'n veel groter beloning wag as die stof eers gaan lê het. "Die 'eighties' was 'n verskriklike oorlewingstryd vir Afrikaanse rock, maar met die Voëlvry-toer het ons 'n muur afgebreek wat 'n klomp dinge moontlik gemaak het. Ek het van die begin af geweet Afrikaanse rock gaan werk. Ek moes 'n klomp mense oortuig, onder andere Johannes Kerkorrel, wat eintlik maar 'n 'cabaret artist' was. Selfs Piet Botha het daai jare geglo Afrikaanse rock sal nie kan werk nie." Hoekom het dit so lank gevat voordat 'n vrou soos Karen Zoid opgang gemaak het in Afrikaanse rock? "Is dit 'n 'gender'-ding? Ek weet nie. Karen is fenomenaal - die eerste Afrikaanse 'girl' wat regtig rock 'n roll uit die heup uit speel. My grootste wens is dat sy 'n paar ander 'girls' aanspoor om uit die kas uit te klim." Oor die kloof tussen populêre ligte Afrikaanse musiek en Afrikaanse rockers is Uys ook baie uitgesproke. "Hulle verstaan ons nie. Hulle dink ons is alternatief en 'weird'. Mense is moerse verras as hulle vir my kom kuier en sien ek het 'n 'nice' huis en 'nice' kinders en 'n vrou en alles is skoon. Mense is verbaas om te hoor Valiant het 'n kunsversameling." Die enkele groot struikelblok wat Afrikaanse rock se uitbreiding kortwiek, is volgens Uys "brain drain". "Dis baie erger as wat mense dink. Ek het dit die laaste twee jaar begin besef dat van die 60 000 mense wat ons met die Voëlvrytoer bereik het, amper die helfte oorsee sit. Dit het SA rock 'n moerse 'blow' gegee. "Die aanhangers van ligte Afrikaanse musiek, die 'eisbein'-blok wat 'thrive' op Ek en my meisie woon in 'n huisie is nog steeds hier. Die 'breindrain' het kultuurverarming tot gevolg." Uys is besig om 'n boek te skryf oor sy ervaring van die Afrikaanse musiektoneel. "Die voorlopige titel is Vroumense en ou karre - die verhaal van Afrikaanse Rock 'n Roll. Soos ek praat, so skryf ek. Dis nogal outobiografies - dit begin so in die middel-tagtigs. Dit gaan 'n moerse storie wees."
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|