Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Nuwe sensasie dra nou SA se vaandel
Die nuwe Suid-Afrikaanse tennissensasie, Kevin Anderson, is aanstaande naweek in Helsinki die vaandeldraer in die Davisbeker-kragmeting met Finland. Die 21-jarige Anderson het die afgelope paar weke die tenniswêreld regop laat sit met sy vertonings in die VSA, veral met sy sege oor Novak Djokovic die afgelope naweek in Miami. Djokovic is die beste speler tot dusver vanjaar in die wêreld, maar het hom Saterdag in Miami teen Anderson in die tweede ronde vasgeloop. “Ek weet nou ek kan met die bestes ter wêreld meeding,” het Anderson eergister gesê. “Ek het gehoop ek kan voor die einde van die jaar tussen die voorste 100 spelers ter wêreld wees. Maar ek is nou reeds 110de op die wêreldranglys en sal my teiken na die top-50 moet verstel,” sê hy. Anderson, ’n oud-leerling aan St. Stithians in Johannesburg, speel die afgelope paar jaar kollege-tennis vir Illionois. Hy sê hy mik daarna om die hoofloting van Wimbledon in Junie te haal. Anders as die meeste Suid-Afrikaners, hou hy daarvan om op klei te speel en sien uit na die kleibaanseisoen wat oor twee weke begin. Sy visier is op toernooie in Monte Carlo, Hamburg en uiteindelik die Franse Ope ingestel. “Nadat ek Djokovic geklop het, is daar veel meer aandag op my. Mense vra my handtekening en ek moet vir foto’s poseer. Dis ’n vreemde, maar lekker gevoel,” erken hy. “Ek geniet die gevoel van senuagtigheid voor ’n wedstryd. Ek glo egter in myself en meen ek kan enigeen klop as ek speel soos ek kan.” Anderson sê daar is nou ook veel meer van die groot name wat hom selfs in die kleedkamer groet. Benewens sy pa, Michael, is hy ook vol lof vir die rol wat sy afrigter by Illinois, Brad Dancer, en die voormalige Suid-Afrikaanse Davisbekerspeler Louis Vosloo in sy ontwikkeling gespeel het. John-Laffnie de Jager, Davisbeker-kaptein, glo Anderson se welslae sal ’n kettingreaksie tot gevolg hê. “Rik de Voest sal dink hy het Kevin nog onlangs in die Suid-Afrikaanse Ope geklop en kan ook regkry wat sy jonger landgenoot gedoen het. “Hulle sal mekaar help om ’n hoër vlak te bereik en dit sal net tot voordeel van Suid-Afrikaanse tennis strek,” sê De Jager. “Kevin is geestelik sterk. Wat baie in sy guns tel, is dat hy die hele tyd wil leer en verbeter. “By die Suid-Afrikaanse Ope het hy my een aand net voor middernag gebel en gevra om na ’n video-analise van sy spel te kyk.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|