Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Paaltjies reën in Bloem
Bloemfontein. – Die plaaslike stadionbestuurder se voorspelling dat die eerste kriekettoets hier tussen Suid-Afrika en Bangaladesj binne drie dae kan eindig, blyk in die kol te wees nadat 19 paaltjies gister op die tweede dag gekantel het. Die Tiere is met die rug teen die muur op 20/1 in hul opvolgbeurt. Hulle het ’n agterstand van nog 268. Suid-Afrika het vroeër sy eerste beurt op 441/9 gesluit. Die toerspan het van meet af aan paaltjies verloor en moes ondanks ’n hardnekkige eindpoging opvolg nadat hy vir net 153 in sy eerste beurt uitgeknikker is. Hoewel die Proteas nie veel moeite ondervind het nie, behoort daar tog kommer te wees oor Morné Morkel wat weer met sy boulritme gesukkel het. Die Protea-middelorde met die uitsondering van Ashwell Prince het ook kleigetrap. Een van die twee oornagkolwers Hashim Amla erken hulle het heelwat minder lopies aangeteken as wat die plan was. Amla en die kaptein, Graeme Smith, het gister op 299/1 kom voortkolf. Amla is vir 112 uitgehaal en Smith vir 157 waarna daar ’n effense insinking was. Amla meen dit was nie so maklik soos dit gelyk het om op die blad te kolf nie. “Ek het vandag (gister) aanvanklik gedink dit was makliker om op te kolf, waarna hul draaiers toegeslaan het.” Die draaier Shakib Al Hasan (5/130) het gister 5/35 platgetrek waarmee hy Suid-Afrika se voorneme op ’n groter telling verydel het. Amla sê hoewel dit teleurstellend was, het dit goed vir hulle uitgewerk. “Ons wou waarskynlik tot die teepouse toe nog gekolf het, maar dit het toe ook soort van in ons guns getel. “Ons het daarna geslaag om hulle uit te boul en te laat opvolg.” Al die Protea-boulers het gister welslae behaal, maar Morkel (2/55) se ritme en bouldissipline behoort in dié stadium ietwat kommerwekkend te wees. Amla sê Morkel werk hard saam met die afrigters om sy ritme terug te kry. “Dit is ’n goeie ding ons speel teen Bangladesj teen wie daar nie soveel druk is nie. Hy is volgens my ’n fantastiese bouler. Hy het alles wat ’n bouler moet hê en as hy eers weer sy ritme terug het, sal dit ’n plesier wees om dit te aanskou. Dit is maar ’n proses.” Hy sê hy het aan die begin van sy loopbaan ook gesukkel. “Dit is soos dit in krieket gaan, dit neem soms maar tyd.” Al Hasan was vroeër die derde bouler en tweede draaier wat ’n vyftal aan paaltjies teen Suid-Afrika laat kantel het. Hy sê hy het gister daarin geslaag om die bal op die regte plek te plant en die regte lyn en rigting te handhaaf. Hy sê sy span sal vandag karakter moet wys.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|