Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Aussies kort ’n wonderwerk om toets te red, sê Ponting
Melbourne. – Australië kort ’n krieketwonderwerk as hulle Suid-Afrika vandag van hul eerste reekssege Doer Onder wil weerhou, sê die Aussies se kaptein, Ricky Ponting. Suid-Afrika het vroeg vanoggend net 153 lopies benodig om die tweede toets én die reeks te beklink nadat die tuisspan gister vir 247 in hul tweede beurt uitgehaal is. “Ons móét bly glo dat dit nog in die weegskaal is en ons planne vir die eerste keer in die reeks foutloos uitvoer,” het die Aussie-kaptein, wat gister ’n alleenstryd teen die Protea-boulers gevoer het, gesê. Hy is op 99 (257 m, 169 b, 8 x 4) uitgehaal, nadat hy in die eerste beurt 101 aangeteken het. “Dis ons enigste keuse en iets wat die Suid-Afrikaners tot dusver in die reeks baie beter as ons gedoen het. ’n Amperse wonderwerk, soos Mitchell (Johnson) se boulskof in Perth, sal beslis help.” Johnson het op die Waca vyf Protea-paaltjies in ’n raps meer as ’n halfuur platgetrek. “Alles is nog nie verlore nie. Suid-Afrika was in hul eerste kolfbeurt 198/7 en daar is geen rede waarom ons hulle nie weer in ’n soortgelyke posisie kan hê nie.” Die Aussie-nagmerrie, wat eergister in Melbourne begin het toe JP Duminy en die stertkolwers die besoekers se eerstebeurt-telling op 459 te staan kon bring, het gister voortgeduur toe Dale Steyn die tuisspan se toporde afgemaai het vir ’n ontleding van 10/154 in dié wedstryd. Hy het van albei die aanvangskolwers, Matthew Hayden (23, 48 minute, 28 balle, 3 x 4) én Simon Katich (15, 59 m, 40 b, 2 x 4) ontslae geraak, nadat die Aussies die dag met ’n agterstand van 61 lopies begin het. ’n Skeidsregterblaps het drie boulbeurte later Mike Hussey (2, 15 m, 8 b) se einde beteken, toe ’n Morné Morkel-opslagbal hom teen die kopskerm getref en hy deur Hashim Amla op regby “uitgevang” is. Die tuisspan se beste kolfvennootskap, 96 lopies tussen Ponting en Michael Clarke (29, 113 m, 79 b, 4 x 4), het gevolg voordat Steyn eers van dié onderkaptein ontslae geraak en Andrew Symonds (0, 4 m, 5 b) vyf balle later deur Jacques Kallis op glip gevang is. Kallis het kort daarna ook ’n vangkans van Brad Haddin (10, 38 m, 35 b, 1 x 6) benut, voordat Brett Lee (8, 23 m, 21 b, 1 x 4) oomblikke voor die teepouse sy 250ste toetsslagoffer geword het. “Hul boulers was vandag uitstekend. Dale Steyn was een van die ouens waarvoor ons voor die reeks die meeste planne beraam het, maar al die videomateriaal in die wêreld kan nie teen sulke boulwerk help nie.” Ponting se dapper beurt is deur Morkel (2/46) beëindig, een lopie duskant sy 38ste toetshonderdtal en tweede van die wedstryd. Dié lenige Pretorianer het sy beste boulvertoning van die toer gelewer en kan homself ongelukkig ag om deur Steyn oorskadu te word. “Niemand sal ooit weet hoe graag ons dinge vandag (gister) wou regstel ná ons swak boulvertoning nie,” het Ponting gesê. “Dalk kan ek met die tellinghouers reël dat een van my lopies in die eerste beurt oorgedra word.” Ná Ponting se vertrek het Johnson (43*, 110 m, 85 b, 5 x 4) moedig probeer, maar Kallis (2/57) het Nathan Hauritz (3, 33 m, 23 b) geboul, waarna Steyn met die paaltjie van Peter Siddle (6, 25 m, 18 b) beloon is om aan die besoekers ’n wenteiken van 183 te los. Graeme Smith (25*) en Neil McKenzie (3*) sou die beurt vroeg vanoggend op 30/0 hervat het, nadat die sukkelende Lions-kaptein kort voor die uitskeityd met ’n foutbal van Lee geboul is.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|