Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Vegters gee nie moed op
Sydney. – As daar een span is wat kan terugveg uit die benarde posisie waarin die Proteas hulself in die derde kriekettoets teen Australië bevind, is dit die Suid-Afrikaners. Só gesels Mark Boucher, die Proteas se paaltjiewagter, oor sy span, wat vroeg vanoggend hier op die voorlaaste dag op die SCG, reeds 151 lopies agter die tuisspan is. “Dié toets is nog lank nie verby nie. “Jy hoef nie ’n kernfisikus te wees om te besef dat ons met die rug teen die muur is nie, maar ons moet ons net op die positiewe aspekte toespits,” sê Boucher, wat gister met 89 lopies verbete bly veg het. Een van dié aspekte is die Aussies se vertoningslys teen die Proteas op die SCG, meen hy. Die Australiërs het 15 jaar gelede die toets hier met vyf lopies verloor toe Fanie de Villiers hulle feitlik op sy eentjie vir 111 lopies in hul tweede kolfbeurt uitgeknikker het. “Hulle het nogal die neiging om vir lae tellings hier uitgehaal te word, terwyl ons regdeur die reeks gewys het dat ons nooit afgeskryf kan word nie,” sê Boucher. “Dis een ding waaroor almal saamstem. “Ons het ’n kleedkamer vol vegters, wat nog lank nie moed opgegee het nie.” Boucher meen die Protea-boulers sou boonop heelwat geleer het uit die vertoning van Peter Siddle. Dié snelbouler het gister die eerste keer vyf paaltjies in ’n toets platgetrek om die Suid-Afrikaanse herstelpoging binne die bestek van vier boulbeurte te laat ontspoor. “Hy het fantasties geboul en deurgaans minstens 142 km/h bereik omdat hy met elke aflewering ingestorm en die kolf hard getref het. “Ek en Morné (Morkel) het ’n goeie vennootskap gehad, maar dis jammer dat ons dit nie tot die einde van die dag kon deurvoer nie.” Morkel, wat saam met Boucher 115 om die sewende paaltjie opgestapel het, was die eerste van vier Siddle-paaltjies wat in 22 aflewerings ingeoes is. “Die kolfblad het vinniger verweer as wat enigiemand, selfs die opsigter, verwag het. Dit is waarskynlik een van die drie moeilikstes waarop ek nog op die derde dag van ’n toets moes kolf,” sê Boucher, ’n veteraan van 123 toetse. “Jy weet hier kom moeilikheid as jy langs die kant van die blad moet hardloop uit vrees dat jy dalk oor ’n krater sal struikel as jy dit in die middel van die blad waag.” Matthew Hayden en Simon Katich sou vroeg vanoggend op 33/0 voortgekolf het nadat veral Hayden in die ses boulbeurte voor uitskeityd soos ’n stoomtrein weggespring het. “Ek dink hy het die beste benadering gehad. Jy gaan een of ander tyd ’n bal kry wat laag bly. Jy kan dus net sowel aanvallend kolf. Trouens, dis die enigste manier om hier te oorleef,” sê Boucher. Suid-Afrika sal, veral sonder die dienste van die beseerde Graeme Smith, nie dié luukse hê nie, het Boucher erken. “As ’n mens inhaalkrieket speel, soos ons dit sal moet doen, is dit moeiliker om net jou houe van die begin af te speel. As ons egter met een of twee vroeë paaltjies die druk na hul middelorde-kolwers kan verskuif, is daar geen rede waarom ons hulle nie, soos in 1994, weer goedkoop kan uitboul nie.” Mark Taylor, ’n voormalige Aussie-kaptein, deel egter nie Boucher se optimisme nie. “Australië behoort wraggies nie te verloor nie. Die laaste ses boulbeurte met die kolf het waarskynlik meer vir ons selfvertroue beteken as al Siddle se paaltjies en ek het die idee gekry dat die Suid-Afrikaanse boulers se fut uit is.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|