Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Siddle wys hoe Protea-kolfstert geknoop moet word
Sydney. – Peter Siddle het gister hier gewys hoe ’n kolfstert geknoop moet word deur nóg ’n Houdini-agtige terugvegpoging deur die Proteas te fnuik en toe te sien dat die besoekers in die laaste kriekettoets om oorlewing moet veg. Dié Australiese snelbouler het die Suid-Afrikaanse kolfbeurt laat op die derde dag tot stilstand geruk nadat Mark Boucher en Morné Morkel met ’n vennootskap van 115 lopies om die sewende paaltjie gedreig het om die span uit ’n diep gat te grawe. Siddle (5/59) het net 22 aflewerings benodig om die paaltjies van Morkel, Paul Harris, Dale Steyn en Boucher plat te trek en die besoekers in ’n oogwink van 308/6 tot 327/9 te laat steier. Met Graeme Smith, die beseerde Suid-Afrikaanse kaptein wat nie verder in dié toets kan kolf nie, het die beurt geëindig toe die negende paaltjie kantel. Om verder sout in die wonde te vryf, moes Boucher (89 lopies, 266 minute, 170 balle, 8 x 4, 1 x 6) ná meer as vier uur se walgooi, ’n sesde toetshonderdtal prysgee in ’n poging om vinnig meer lyf aan die Proteas se telling te gee. Matthew Hayden (18*) en Simon Katich (9*) sou die Aussies se tweede beurt vanoggend op 33/0 hervat het – ’n voorsprong van 151 op ’n kolfblad wat dreig om in die oorblywende twee dae onspeelbaar te wees. “Dit is fantasties om my eerste vyf paaltjies in ’n toetsbeurt te kon kry, want dit was nie nie so maklik soos dit dalk gelyk het nie,” sê Siddle. “Enige voorsprong op dié kolfblad is goud werd, want dit het feitlik oornag onherkenbaar verweer.” Volgens hom sal die tuisspan vandag probeer om teen teetyd reeds 300 lopies voor te wees. “Die krake sal selfs groter word en ons moet die eerste paar sessies oorleef en terselfdertyd aan ’n stewige voorsprong bou. “Ons moet net geduldig wees en teen teetyd herbesin oor hoe om te werk te gaan.” ’n Onwaarskynlike reddingspoging wag op die besoekers, wat die reeks reeds met hul sege in verlede week se tweede toets in Melbourne beklink het, veral met Smith, die span se lopiemasjien, wat weens ’n gebreekte hand op die beseringslys is. Die dag kon beswaarlik meer rampspoedig vir die Suid-Afrikaners begin het. Jacques Kallis (37, 62 m, 55 b, 6 x 4) het in die tweede boulbeurt na ’n wye aflewering van Mitchell Johnson gespeel en is deur Hayden uitgevang. Johnson het 16 boulbeurte later weer toegeslaan. Dié keer met veldwerk toe hy die waaksame beurt van AB de Villiers (11, 70 m, 52 b, 1 x 4) met ’n voltreffer van middeby af beëindig het. Hashim Amla (51, 202 m, 134 b, 7 x 4) het kort daarna – met komplimente van die eerste van talle witjasblapse – Andrew McDonald (1/41) se eerste toetsslagoffer geword voordat Boucher en Morkel bykans drie uur lank vasgeskop het. Die geluksgodin het breed vir albei kolwers geglimlag. Morkel het ’n handvol oortuigende appèlle vir been voor paaltjie oorleef en die paaltjiewagter se dwarsbalkies het op onverklaarbare wyse onversteurd gebly nadat dit deur ’n aflewering van Nathan Hauritz (0/68) getref is. Die tuisspan het egter laaste gelag toe Siddle ná die vertrek van Morkel (40, 171 m, 134 b, 5 x 4) korte mette het van Harris (2), Steyn (6) en Boucher gemaak het. Die skeidsregter Asoka da Silva het sy bynaam “A Shocker” gestand gedoen deur ’n appèl vir been voor paaltjie in Steyn (0/17) se eerste boulbeurt te weier. Hayden het tien lopies van dié beurt gemoker om die momentum nóg verder in die Aussies se guns te swaai.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|