Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Sharks se vinne dalk geknip oor ruil van spelers
Die Sharks se verbeeldingryke gebruik van hul plaasvervangers in die voorry is straks op ’n einde nadat dit aan hulle duidelik gemaak is dat die omruil van dié spelers ook onder die maksimum van sewe veranderings per wedstryd tel. Die Sharks het dié seisoen by verskeie geleenthede beginspanspelers in die voorry weer ingespan nadat hulle reeds vervang is. Dit is natuurlik toelaatbaar as ’n speler wat bloei die veld moet verlaat en wanneer daar nie genoeg spelers in die voorry is wat in die skrum kan sak nie. Hulle het hulle juis verlede naweek teen die Blues misgis deur ’n vervangde stut vir ’n tweede maal in te span en kon op die ou einde nie al hul plaasvervangers gebruik nie. Die Sharks speel môre teen die Lions op Ellispark en het reeds by die skeidsregter Mark Lawrence kers opgesteek oor wat in dié opsig toelaatbaar is. “Ek het dit aan hulle duidelik gemaak dat spelers wat ’n oop wond het wat bloei, tydelik vervang kan word wanneer daar nie genoeg voorry-spelers is nie. Dit moet ook die goedkeuring van ’n dokter wegdra,” het Lawrence gister gesê. Dick Muir, die Sharks se afrigter, het ná die wedstryd teen die Blues toegegee dat hy nie bewus was dat die omruil van ’n speler in die voorry as ’n amptelike plaasvervanging getel word nie. Die Sharks het vanjaar hul plaasvervangers met groot vrug aangewend en die meer rigiede gebruik van hul voorry-spelers behoort hulle allermins uit rat te gooi. Al is die twee spanne aan die teenoorgestelde kant van die punteleer, sê Lawrence hy verwag ’n skouspel as albei spanne doen wat hulle moet by die afbreekpunte. “Dit gaan tot ’n oop en aanskoulike wedstryd bydra as spelers die bal onmiddellik plaas nadat hulle doodgevat word,” het Lawrence gesê. Lawrence wat môre die vierde keer vanjaar die fluitjie in ’n Super14-wedstryd blaas, was juis genadeloos teen spelers wat nie die bal onmiddellik beskikbaar stel nie. “Ek voel dat die baldraer wat doodgevat word genoegsaam deur die reëls beskerm word. Hy het die geleentheid om die bal onmiddellik te plaas, want die teenstanders kan nie deur die onkantlyn kom om die bal te speel nie.” Lawrence sê Suid-Afrikaanse spanne pas nie die reël altyd goed toe nie. “Ek dink die Lions is slim met die manier waarop hulle die bal plaas, want hulle kry dan vinnige besit. Spanne doen dit al hoe beter,” het Lawrence bygevoeg. Dit geld ook, voel dié blaser, die manier waarop spanne by die nuwe proefreëls aangepas het. “Die meeste gebrom gaan nie oor die proefreëls nie. Dit gaan maar oor gevaarlike duikslae.” Vir diegene wat redeneer dat die proefreëls teen die swaarste spelers diskrimineer, het Lawrence ook ’n boodskap. “Dit is nie so nie. Vaste voorspelers sal seker meer aërobiese oefeninge doen, maar daar is steeds baie skrums.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|