Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Ellispark amptelik Coca-Cola-park; Luyt sê hy sou dit nooit gedoen het
Dit is amptelik: die Ellispark-stadion sal voortaan as Coca-Colapark bekend staan. Dié aankondiging is gister deur die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU) en Coca-Cola Suid-Afrika (CCSA) gedoen. “Ons wil die hele gebied rondom Ellispark verbeter en meer aantreklik maak vir besoekers. Hiervoor het ons ’n sakevennoot soos Coca-Cola nodig,” het prof. Jannie Ferreira, president van die GLRU, gesê. Ellispark, wat genoem is na mnr. J.D. Ellis, die raadslid wat in die 1920’s die gebied toegeken het waarop die stadion gebou is, het ’n ryk geskiedenis in Suid-Afrikaanse sport. Die eerste wedstryd, tussen die Springbokke en die All Blacks, is in 1928 daar gespeel en die Springbokke het ook in 1995 die Wêreldbeker daar verower. “Ons wil Ellispark se geskiedenis bewaar en terselfdertyd ’n nuwe besonderse ervaring vir besoekers skep,” het mnr. Ilan Sobel, bemarkingsdirekteur van CCSA, gesê. Beeld het vroeër vandeesweek berig Coca-Cola sal oor ’n tydperk van vier jaar R42,5 miljoen vir die naamregte betaal. Projekte wat beplan word om meer toeskouers te lok, sluit ’n museum in wat die stadion se geskiedenis ten toon sal stel. Op ’n vraag hoekom Ellispark nie deel uitmaak van die nuwe naam nie, het sowel Ferreira as Sobel gesê Coca-Cola het ’n lang verbintenis met sport in Suid-Afrika en dat hulle glo die publiek sal die naam aanvaar. Dr. Louis Luyt, Suid-Afrika se oud-rugbybaas, het egter gesê hy sou dit nooit gedoen het nie. “Die naam Ellispark is wêreldwyd bekend en buitelanders weet presies waar dit is. Coca-Cola-park kan enige plek wees.” Hy meen verbeterings en promosies kan toeskouers nie na ’n stadion lok nie, maar eerder goeie rugby. “As jy ’n stadion met 60 000 sitplekke wil volmaak, moet jy ’n wenspan kweek.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|