Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Bokke pas traag aan
Edinburg. – Die Springbok-rugbyspan se traagheid om by die interpretasies van skeidsregters in die Noordelike Halfrond aan te pas, het hulle amper Saterdag teen Skotland op Murrayfield duur te staan gekom. Anders as hul kollegas in die suide, laat skeidsregters hier nie spelers van die span wat die bal dra toe om van hul voete te gaan wanneer hulle by losgemale probeer “skoonmaak” nie. Die Springbokke se momentum teen Wallis is deur ’n rits oortredings versteur en Saterdag was dit weer die geval toe die skeidsregter Dave Pearson veral in die eerste helfte die Bokke met sy interpretasies laat les opsê het. Volgens Tappe Henning, die voormalige skeidsregter wat deesdae vir die Internasionale Rugbyraad (IRR) werk, het die IRR skeidsregters juis aangesê om op dié soort oortreding te let en hy het die Bok-kamp hiervan bewus gemaak. Henning het gesê Pearson was korrek in sy interpretasies. Pearson se besluite het egter albei spanne laat kopkrap. Suid-Afrika het in die eerste helfte behoorlik aan die pen gery en Skotland het sy beurt in die tweede helfte gekry. Die Bokke moes volgens hul kaptein, John Smit, hul speelstyl wysig. “(Dit was) veral so toe ons op die aanval was en teen ’n vinnige tempo probeer speel het. Hoe vinniger ons probeer speel het, hoe meer is ons gestraf. “In die tweede helfte het ons langer op ons voete probeer bly in ’n poging om strafskoppe te vermy. “Ons het meer besit gekry. Ons het vir die hele 80 minute nie die geleentheid gekry om ’n lynstaan in ons teenstander se kwartgebied te wen nie,” het Smit gekla. Hy het in die eerste helfte gereeld met Pearson probeer praat. “Ek probeer altyd ’n begrip van die interpretasies kry. Ek het dit moeilik gevind met daai interpretasie in die eerste 40 minute,” het Smit gesê. Frank Hadden, Skotland se afrigter, voel die keerpunt het ná rustyd met die hulp van die skeidsregter gekom. “Ons het ná rustyd vyf agtereenvolgende vry- en strafskoppe afgestaan. Dit het die momentum van die wedstryd verander. “Ons was ook teleurgesteld met die laaste 10 minute toe ons kanse gehad het om te wen en dit nie gedoen het nie,” het Hadden gesug. Dit is nie net hul begrip van die reëls wat aan die Bokke krap nie. Hulle het 21 duikslae gemis nadat gebrekkige verdediging hulle teen Wallis ook gekortwiek het. Die hulpafrigter Dick Muir het gesê daar is in oefeninge hard aan die span se verdediging gewerk en al het die Bokke goed verdedig op hul doellyn, is hul lyn te veel elders op die veld gebreek.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|