Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Wie het wie verneder?
Weideman het dalk bietjie tee oor haar gekry voor 10 of 20 of 100 mense...

Leserskommentaar onderaan.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


3 ontkomings met krokodille maak einde aan visvang
Apr 25 2007 10:22:26:447PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Dries Liebenberg

Durban. – ’n Vrou van dié stad en haar pa het in minder as twee dae drie noue ontkomings met krokodille beleef.

Dit het alles gebeur tydens ’n hengeluitstappie by St. Lucia aan die KwaZulu-Natalse noordkus.

“Dit het later gevoel dit word só erg dat ons maar eerder die visvangery gelos het,” het me. Jill Munro van Pinetown gister vertel nadat hulle verlede naweek hul eerste hengelbesoek in jare aan dié kusoord kortgeknip het.

Die KwaZulu-Natalse natuurbewaringsdienste (Ezemvelo) het gister gewaarsku dat mense dié tyd van die jaar versigtig moet wees vir krokodille omdat hulle veral nou op jag is om gereed te maak vir die winter.

Mnr. Jeff Gaisford, Ezemvelo-woordvoerder wat ook tien jaar lank by St. Lucia se krokodilsentrum gewerk het, het twee van die drie voorvalle wat me. Munro beskryf het, as potensieel gevaarlike situasies beskryf.

Me. Munro het vertel ’n krokodil het Saterdagoggend by Sugarloaf naby die monding twee bejaardes bestorm wat in stoele gesit en hengel het.

Daardie middag het ’n krokodil vir haar en haar pa eers van die een kant en toe van die ander kant probeer bekruip.

Die ander voorval was toe skiboothengelaars die vorige aand hul boot uit die water gehaal het. ’n Krokodil wat die groep lê en beloer het, het sy bek oopgemaak toe een van die mans afgebuk het, het Munro gesê.

Krokodille is opportunistiese jagters wat stilletjies nader kom, hul prooi teiken, dit vinnig bestorm en dan die water insleep, het Gaisford gesê.

Bly eerder uit die water waar daar krokodille is, wees in jou pasoppens teen laatmiddag want dis dan jagtyd en bly weg van die kant, was Gaisford se raad.

“Dis ’n goeie idee om die lengte van ’n krokodil tussen jou en die water te hou, want dís gewoonlik die afstand wat die dier sal storm om sy prooi te vang,” het Gaisford gesê.

Die krokodille wat nou by St. Lucia se monding te siene is, is sowat 3 m lank.

Mnr. Richard Penn-Sawyer, bewaringsbestuurder in die St. Lucia-park, het gesê daar is nou heelwat minder krokodille by die monding as die 20 tot 30 wat daar gesien is toe die strandmeer nog toe was.

Hengelaars moet egter nie vergeet dat hulle binne ’n natuurreservaat is nie.

Daar is waarskuwingsborde, maar bewaringsowerhede het ook streng begin optree teen mense wat vroeër krokodille begin voer het, het Penn-Sawyer gesê.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |