Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Rugby-moordsaak gaan voort
Worcester. - Die aanklagte teen twee spelers van die Delicious-klub wat met die rugbydood van Riaan Loots verbind word, bly onveranderd nadat die direkteur van openbare vervolging vertoë deur die verdediging vir die terugtrek van die saak van die hand gewys het. Ben Zimri van Ceres, ten tyde van Loots se dood agtsteman van die Delicious-rugbyklub van Ceres, sal nou in Desember in die streekhof hier op aanklagte van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer tereg staan. Sy medebeskuldigde, Wayne Matthee van die Paarl (senter), sal verhoor word vir aanranding met die opset om ernstig te beseer. Streeklanddros P.J.J. van Rensburg het die verhoordatums gister as 10, 11 en 12 Desember aangedui. Hy het die jaar per abuis as 2002 aangegee, maar niemand het enige twyfel uitgespreek oor watter jaar bedoel word nie. Die aanklaer is mnr. Neville Simpson en mnr. Mushtak Parker verskyn vir die beskuldigdes. Loots (24) is noodlottig beseer toe hy in 'n Premierliga-kragmeting op 23 Junie 2006 tussen Delicious en Rawsonville met 'n stywe arm teen die strot geslaan en geskop is. Zimri, in 'n swart leerbaadjie, swart langbroek en wit T-hemp en Matthee, in 'n blou denimbroek en grys sweetpakbaadjie, het gister uitdrukkingloos die verhoordatum aangehoor. Hulle is in en buite die hof ondersteun deur 'n groepie lede en ondersteuners van Delicious, van hulle in groen klubklere geklee. Zimri is vroeër op appèl deur 'n tugkomitee van die Boland-rugby?unie lewenslank as rugbyspeler geskors en mag ook nie aan enige ander rugbyaktiwiteite deelneem nie. Matthee is vir ses weke uit rugby geskors. Adriaan Engelbrecht (25), 'n boesemvriend van Loots, het gister met 'n duidelik sigbare letsel van rugbygeweld aan sy onderlip ook die hofsaak bygewoon. Hy het in die agterste ry gesit saam met Loots se ouers, mnr. Willie en mev. Lana Loots, en hul seun Wimpie. Engelbrecht het ná Loots se dood besluit hy speel nie weer in Suid-Afrika rugby nie. Hy het Saterdag vir Helderberg se derde span teen Primrose in die Strand uitgedraf net om in oefening te bly voordat hy einde Julie na Engeland vertrek om sy rugbyloopbaan daar voort te sit. Engelbrecht voer aan hy is ná die wedstryd erg geskop en geslaan en het 'n klag van aanranding teen 'n Primrose-speler ingedien. Loots se ouers het gister hand aan hand die hof verlaat. Hulle wens so die hofsaak kan net afgehandel word, het mnr. Loots gesê. "Dis móéilik om hier te wees. Dis baie traumaties." Hy het vertel hoe die rugbyspanne van Rawsonville en Helderberg onlangs 'n herdenkingswedstryd gespeel het. "Ek was daar, maar (was) amper vir twee dae daarna tot niet." Hy het die hoop uitgespreek dat iets goeds tog net sal kom uit die veldtog teen geweld in sport wat mnr. Whitey Jacobs, provinsiale minister van sport, onlangs aangekondig en met hul toestemming na Riaan genoem het. Klubs en provinsiale besture moet begin om verantwoordelikheid vir swak dissipline te aanvaar, het hy bygevoeg. "Riaan was taai. En geweldig sterk. Maar hy het nooit 'n geel of rooi kaart gekry nie. Hy was werklik 'n voorbeeld vir spelers. Hoekom kan almal nie so speel nie?" Niks wat hier (in die hof) gebeur, kan Riaan terugbring nie, het mev. Loots sag bygevoeg. 'n Vriend in die noorde het vir hulle 'n grafsteen gemaak. Maar alles is nog so rou. Hulle kan nog nie daarna kyk nie.
Die grafsteen staan sedert Desember nog met sy voorkant na die muur.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|