Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||||
|
Gif in die water
Vleis, vis, melk, mielies en ander gewasse wat naby die Wonderfonteinspruit geproduseer word, is waarskynlik gevaarlik vir mense omdat dit erg met onder meer radioaktiewe gifstowwe besoedel is. Dié besoedeling raak die gebied van Randfontein tot byna in Potchefstroom. Internasionale kenners meen mense wat hierdie produkte eet of drink, kan onder meer lewer- en nierversaking en kanker kry. Dit kan ook groei in kinders onderdruk en verstandelike gestremdheid tot gevolg hê. Volgens bevindinge in ’n verslag wat deur Duitse fisici onder leiding van dr. Rainer Barthel van BS Associates opgestel is, neem gewasse wat met water uit die Wonderfonteinspruit besproei word, polonium en lood, die radioaktiewe dogterprodukte van uraan en radium, op. Vee wat in die Wonderfonteinspruit water suip en die modder lostrap waarin die uraan vasgevang lê, kry hierdie radioaktiewe besoedelstowwe in. Hul vleis en melk is dus ook waarskynlik giftig. Die verslag deur die Duitsers – bekend as die Brenk-verslag – is opgestel in opdrag van die Nasionale Kernreguleerder (NKR), wat die afgelope drie maande geweier het om dit bekend te maak. Uittreksels uit die Brenk-verslag het intussen in Beeld se besit gekom. Mnr. Maurice Magugumela, hoofamptenaar van die NKR, het by navraag gesê daar is “geen rede tot kommer nie”. Volgens hom bestudeer die NKR die verslag en het hulle al “verskeie gesprekke met belanghebbendes” gevoer. Barthel is laas week gemuilband toe hy op die Environmin 2007-konferensie, wat in die Pilanesberg-natuurreservaat gehou is, twee voordragte daaruit sou lewer. Hy moes sy voordragte op kort kennisgewing onttrek. Twee uittreksels uit die verslag is toe al in die voorafdrukwerk vir die konferensie opgeneem. Barthel en sy mede-outeurs kom daarin tot die gevolgtrekking dat die grond in dié gebied – waar meer as 400 000 mense in Randfontein, Bekkersdal, Carletonville, Westonaria, Khutsong en Welverdiend woon – oor sowat 100 jaar van mynbou erg besoedel is deur stortings uit slikdamme. Mense in dorpe in dié gebied kry hul drinkwater van Rand Water, maar almal op plase en informele woongebiede is aangewese op water uit die Wonderfonteinspruit. Me. Sandy Carroll, onlangs aangestelde omgewingsbestuurder van Harmony Gold, het erken die myngroepe is ingelig oor die gevare wat in die verslag uitgewys word. Sy het gesê Harmony praat met die NKR en hulle soek saam na oplossings vir die probleem. Planne wat al agtermekaar is, is dat die myn en die Wes-Randse Distriksmunisipaliteit beplan om kennisgewingborde oral langs die Wonderfonteinspruit (wat sowat 100 km lank is) aan te bring om mense te waarsku om nie die water te gebruik nie. Carroll skryf in haar e-posantwoord op Beeld se navrae: “Alternatiewe waterbronne sal voorgestel word.” Sy het nie gereageer op verdere navrae oor dié waterbronne se ligging nie. Die verslag beklemtoon juis die punt dat geen natuurlike water in die hele gebied deur mens, dier en plant gebruik kan word nie. Dr. Francois Durand, senior lektor in dierkunde aan die Universiteit van Johannesburg, het gedeeltes van die Brenk-verslag bestudeer en gesê die bevindings kan “ernstige gevolge” vir die omgewing inhou. Durand, wat in die omgewing navorsing doen op die invloed van mynwater op ekostelsels, meen die mense naby die Wonderfonteinspruit moet verskuif word omdat die omgewing “giftig” is. Hy sê die myne moet nóú toemaak en die omgewing rehabiliteer. Me. Mariette Liefferink, stigter van die Public Environmental Arbiters (PEA) en omgewingsaktivis, het gesê dit is “verbasend” dat Magugumela kan sê daar is geen rede tot kommer vir die inwoners van die omgewing nie. Sy het pas aan die Menseregtekommissie geskryf om in die gebied in te gryp. Sy het ook vroeër ’n beroep op onder andere die ministers van minerale en energie en van waterwese, asook die Groen Skerpioene gedoen om die myne vas te vat. Liefferink het sowat ’n maand gelede ’n voorlegging oor die probleme in die Wonderfonteinspruit aan die portefeuljekomitee op omgewingsake in die parlement gedoen. Vyf metale in koolkop 'n Koolkop met water uit die Wonderfonteinspruit se opvangsgebied besproei en deur dr. Francois Durand, lektor in dierkunde aan die Universiteit van Johannesburg, laat ontleed is, het die volgende swaar metale opgeneem: Durand, wat die koolkop by Waterlab Ltd. laat ontleed het, het gesê die koolkop het "snaaks genoeg" nie uraan of sy dogterprodukte opgeneem nie. Dit het moontlik te make met kool se buitengewone absorpsievermoë. Dit het wel swaar metale opgeneem. Enige van dié elemente, wat die mens in buitengewone groot hoeveelhede opneem, kan 'n mens baie siek maak en selfs tot die dood lei. Hy meen beet en spinasie wat in die omgewing gekweek word, kan wel uraan opneem. - Elise Tempelhoff
|
||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|