Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Woedende olifantkoei
‘speel sokker met my’
’n Woedende olifantkoei het ’n veldwagter in die Pilanesberg-natuurreservaat 100 m ver gejaag, sy broek met haar tand oopgeskeur en “sokker met hom gespeel”. Hierna, terwyl mnr. Eugene le Roux (29), hoofveldwagter van die Bakubung Bush Lodge, op sy rug gelê en die olifantkoei in die oë gekyk het, het hy gehoop sy dood kom gou. “Ek het daar gelê; ’n ongelooflike rustigheid het oor my gekom terwyl ek haar in die oë gekyk het. “Ek was seker sy gaan my doodmaak. Ek het gewonder: gaan dit gou wees? Gaan dit stadig wees? Gaan dit seer wees? “Toe skud sy haar kop, draai om en loop in die bos weg agter die res van die teeltrop aan. “Ek kon dit nie glo nie. Ek het opgestaan, teen ’n naboom gaan leun en gebid.” Al wat hy kon sê was “dankie, Here” – ’n gebed wat hy sedert die voorval elke dag herhaal. Hy is lig beseer toe die olifant op sy regterhand getrap en sy linkerskouer gedeeltelik raakgetrap het. Volgens Le Roux het hy voorverlede Vrydag vroeg die oggend saam met ’n kollega, mnr. Sean van Graan, ’n groep van vyf Amerikaanse toeriste gevat om in die veld te gaan stap. Teen ’n koppie het hulle takke hoor breek. Skielik was daar ’n getrompetter. “Dis olifante,” het hulle aan die toeriste gesê. Die trop van sowat veertig was vermoedelik onbewus van die groep teen die koppie. “Hulle het met ’n spoed gekom en ons het besluit om verder weg in ’n noordwestelike rigting te beweeg. Die olifante het regs geswenk, in ’n wildpaadjie verbygehardloop en in die bos verdwyn,” het Le Roux gister vertel. “Ons het gewag tot als rustig raak en was net reg om weer te begin stap, toe Van Graan skreeu dat daar nóg olifante is.” Dié tweede trop het ook reguit op die stappers afgepyl, maar weer het die windrigting gekeer dat hulle die stappers kon ruik. “Ek en Sean het besluit die olifante moet voorkeur kry. Ons moes uit hul pad beweeg, en vinnig ook. “Die gaste was in hierdie stadium skrikkerig, maar ons het vir hulle gesê hulle moet vinnig beweeg.” Hulle het toe op ’n drafstap laat spaander, en gelukkig het ’n reuse-trop buffels in hul pad op die vlug geslaan. Die wind het egter gedraai en die matriarg het die groep mense geruik. Sy was in daardie stadium byna bo-op die koppie en het botstil gaan staan, omgedraai en op die stappers afgestorm. “Ons het sulke diep Afrikaanse woorde vir haar geskreeu. Dis woorde wat ek nie kan herhaal nie, maar ons het vir haar geskreeu om te loop.” Die matriarg het sowat twee meter voor Van Graan tot stilstand gekom, omgedraai en weggestap. “Ons het aan die benoude toeriste gesê dat die matriarg ons net wou toets. Sy moes ons skrik maak. Só sou die kalfies veilig bly. Ons wou net verder stap, toe Sean vir my skreeu: ‘daar is ’n (ander) olifantkoei agter jou!’ ” “Ek het omgedraai en gesien die koei is woedend. Haar slurp was ingevou, haar ore plat en haar kop omlaag en sy het reguit op een van die vroue in die groep afgestorm. “Ek het na dié vrou toe gehardloop en haar in ’n doringbos ingestamp. Toe ek omdraai, was die olifantkoei byna teenaan my. Ek het haar met die kolf van die jaggeweer teen die kop gestamp en begin hardloop. “Sy is toe agter my aan. Ek het eers my rugsak afgegooi en gehoop dit sal haar aandag van my aflei. Dit het nie gehelp nie. Toe gooi ek my hoed af. Dit het ook nie gehelp nie. “In ’n stadium het ek haar slurp in my linkersy gevoel. Ek het dit probeer wegklap, terwyl ek hardop bid: “Here, ek is nog nie reg nie!” Die volgende oomblik het Le Roux die olifant se tand teen sy regterbobeen gevoel. “Toe begin sy sokker speel met my. Ek het ’n klomp kere gerol. Ek het myself baie klein probeer oprol terwyl sy my heen en weer gerol het. Toe land ek op my rug. Dis toe dat ons vir sekondes in mekaar se oë kyk, sy haar kop skud, omdraai en wegstap.” Van Graan het Le Roux gaan haal en die paramedici by Sun City gebel. Almal is vir skok behandel en die Amerikaanse vrou ook vir skraapwonde aan haar been.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|