Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Tim du Plessis se rubriek
Nzimande spel onheil vir SA se vernielde universiteite.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Broodbome verdwyn spoorloos uit florareservaat
Jan 24 2008 09:23:03:550PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Mnr. Johan Rossouw, 'n plaasbestuurder op die Selati-natuurreservaat in Limpopo, by een van die gate waar meer as 100 uiters skaars broodbome op 'n koppie uitgehaal en gesteel is. Foto: Verskaf
Marietie Louw-Carstens


Gravelotte. – ’n Slagting van ’n nasionale erfenis.

Só het mnr. Arnold Pistorius, eienaar van die Lilly-florareservaat, hier gesê ná die diefstal van sowat 100 uiters skaars broodbome.

Die bome is van ’n hoë koppie op die plaas, wat binne die Selati-natuurreservaat val, gesteel.

Dit is die enigste plek ter wêreld waar die Encephalartos dyerianus-broodboom voorkom. Die koppie is baie hoog en is moeilik bereikbaar op die Lilly-reservaat, wat sowat 2 000 ha van die 30 000 ha van Selati-natuurreservaat beslaan.

Volgens Pistorius is dit nie heeltemal seker oor hoe lang tydperk die bome verwyder is nie. Dit is ook nie seker hoe die bome by die koppie af vervoer is nie.

Die koppie is in 1972 deur die regering as erfenisgebied geproklameer en dit is omhein. Niemand word op die koppie toegelaat nie.

Volgens Pistorius het sy suster, Heidi, einde verlede week gaan kyk of die pad na die koppie nog begaanbaar is.

“Dit is toe dat sy die slagting sien van die bome wat weg is,” het hy gesê.

Pistorius het 103 gate getel waar bome uitgehaal is.

Voor die diefstal was daar sowat 600 broodbome op die koppie.

“Die bome is baie netjies uitgehaal en van die gate was nog vars toe ek gaan ondersoek instel het,” het Pistorius gesê.

Die polisie en amptenare van Limpopo-natuurbewaring is dadelik in kennis gestel.

Tot dusver is niemand nog in hegtenis geneem nie. Pistorius het gesê dit is moeilik om ’n spesifieke geldwaarde aan die gesteelde broodbome te koppel, maar dat dit miljoene rande werd is.

Mnr. Phillip Monyapao, van Limpopo-natuurbewaring, het gister die plaas besoek.

Volgens hom is dit baie moeilik om nou al te sê of ’n sindikaat moontlik by die diefstal betrokke was.

Pistorius het gesê hy wil merkers in die gate aanbring waar die bome gesteel is. Hy het ná die diefstal ook veiligheidswagte aangestel wat heeltyd die broodbome bewaak.

Hy wil ook mikroskyfies in die bome inplant sodat dit opgespoor kan word, indien daar weer só ’n diefstal plaasvind.

Dié soort broodboom se stam word sowat 4 m hoog en dit is tussen 300 mm en 400 mm in deursnee.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |