Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||||||
|
Kabinet skiet Skerpioene dood
Kaapstad. – Die kabinet het gister sy seël van goedkeuring op die Skerpioene se doodsvonnis geplaas toe hy ’n wetswysiging goedgekeur het wat die einde van dié spesialiseenheid sal beteken. Die voorgestelde wetsontwerp sal nou na die parlement verwys word waar dit deur die portefeuljekomitee oor justisie oorweeg en aan ’n proses van openbare deelname onderwerp sal word. Volgens ’n verklaring deur mnr. Themba Maseko, kabinetswoordvoerder, is die voorgestelde Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag daarop gemik om die land se vermoë om teen georganiseerde misdaad op te tree, te versterk. Insiggewend genoeg sê hy ook die wet sal uitvoering gee “aan die besluit om die direktoraat vir spesiale operasies (DSO) van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) na die polisie te skuif”. Die ANC het in Desember só besluit terwyl die regering nog geen formele besluit hieroor gemaak het nie. Die enigste amptelike posisie deur die kabinet ingeneem, is die aanvaarding van die Khampepe-verslag in 2006, wat, sover bekend, bepaal het die Skerpioene moet grotendeels in sy huidige vorm aanbly. Dié verslag word Maandag in die Staatskoerant gepubliseer. Maseko het by navraag gesê die wetsontwerp is nie op gister se kabinetsvergadering bespreek nie en is bloot daar goedgekeur. Dit is wel verlede week op ’n subkomitee oor veiligheid, wat die ministers van veiligheid en sekuriteit, justisie en staatkundige ontwikkeling en verdediging insluit, gedebatteer. Die regerende alliansie het sy tevredenheid met die kabinetsbesluit uitgespreek. Me. Jessie Duarte, ANC-woordvoerder, het gesê die party “is baie bly” dat die besluit uiteindelik geneem is maar dat die ANC eers sal kommentaar lewer wanneer die parlementêre proses afgehandel is. Cosatu het by monde van mnr. Patrick Craven gesê hy is tevrede die regering het uiteindelik gedoen waarvoor dié vakbondfederasie al vir jare vra: “Om ’n einde aan die Skerpioene te bring.” Me. Helen Zille, DA-leier, het in reaksie gesê die besluit deur die kabinet is een met ernstige gevolge vir Suid-Afrika: “Dit is ook strydig met sy (die kabinet se) eie kommissie van ondersoek se aanbevelings. Die enigste logiese verklaring is dat die nuwe ANC-leierskorps bang is vir verdere vervolging en dit wil keer.” Sy sê in die lig daarvan dat die Khampepe-verslag binne dae bekend gemaak gaan word, is die wetswysiging se goedkeuring voortydig. “Van nou af sal elke misdaadbestrydingsveldtog van die ANC met agterdog en ’n mate van ironie beskou word.” Hoewel die ANC dit in die verlede ontken het, het dit die afgelope weke toenemend geblyk die vernaamste rede agter die ANC se besluit om van die Skerpioene ontslae te raak, suiwer polities van aard is. Mnr. Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, het onlangs uitgevaar teen die “passievolle haat” wat die Skerpioene vir die regerende party het en dit duidelik laat blyk hy is nie gelukkig met die ondersoeke wat teen senior ANC-leiers, insluitend mnr. Jacob Zuma, gedoen is nie. Sy argumente het verlede week verder stukrag gekry toe mnr. Nathi Mthethwa, die party se hoofsweep in die parlement, gesê het die Skerpioene se personeel is voormalige lede van apartheidsgesinde veiligheidsmagte wat steeds oorlog teen dié party voer. Amptelik egter is die redes vir die ontbinding van dié spesialiseenheid om beter koördinering van misdaadbestryding tussen die departemente van veiligheid en sekuriteit en justisie en staatkundige ontwikkeling te verseker. Daar word geglo ’n eenheid waarin ’n ondersoek- én vervolgingsfunksie resorteer, soos by die Skerpioene, nie behoorlik kan funksioneer nie.
|
|||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|