Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

‘Oorgelaat aan barbare’
May 15 2008 08:40:17:147PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Mev. Leonie Steenberg van Pretoria wys hoe rowers haar met 'n vuurwapen gedreig het nadat hulle haar man die naweek in die gesig geskiet het. Foto: Alet Pretorius
Hilda Fourie

Die bekroonde skrywer André P. Brink het gister uitgevaar oor die land se misdaadkrisis nadat sy susterskind die naweek deur rowers doodgeskiet is.

“Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika oorgelaat is aan die genade van barbare,” het hy onder meer gesê.

Mnr. Adriaan Steenberg (45), seun van die ontslape skrywer Elsabé Steenberg (Brink se suster), is Saterdagoggend in sy slaapkamer voor sy vrou, Leonie (41), in die gesig geskiet.

Hulle woon op ’n kleinhoewe in Leeufontein in die noordooste van Pretoria. Die egpaar se drie jong kinders, wat onderskeidelik 11, 9 en 8 jaar oud is, het in die huis geslaap toe hul pa geskiet is.

“Ons moet teen alle hoop bly hoop dat iemand beheer sal kry, want dit blyk dat die regering nie meer die land kan regeer nie,” het Brink gister per telefoon uit die Wes-Kaap gesê.

Mev. Steenberg het gister vertel dat hulle verlede Vrydagaand haar skoonpa, prof. Dawie Steenberg (68), ’n Alzheimer-lyer, in Centurion gaan haal het om by hulle te kuier.

Hulle het Saterdagoggend omstreeks 02:30 gaan slaap.

“Ek weet nie hoe laat dit was nie, maar my man het opgespring en gesê daar is iemand in die huis,” het Steenberg gesê. Die verdagtes het deur ’n venster in die eetkamer toegang tot die huis gekry.

“Adriaan het gesê ek moet langs die bed op die vloer lê. Hy het ook langs die bed gaan lê.

“Ons het voetstappe op die trap gehoor en my skoonpa wat ‘Help, help’ skree. Adriaan het opgestaan om die paniekknoppie te druk.

“Hy was nog half regop toe skiet hulle hom in die wangbeen. Ek het die vlam gesien en toe val Adriaan.”

Terwyl die verdagtes aan Steenberg gesê het: “Ons gaan jou doodmaak, ons gaan jou doodmaak”, het hulle haar met ’n vuurwapen gedreig en beveel om die alarm af te skakel.

Daarna het hulle haar na prof. Steenberg se kamer geneem waar hulle haar hande vasgebind en haar skoonpa uitgetrek en sy hande ook vasgebind het.

Prof. Steenberg het net sy hemp aangehad.

“Een was saam met ons in die kamer en nog twee buite. My skoonpa het op sy rug gerol en die deur met sy voete toegestamp om hulle uit te hou.

“Hy het hulle ook met sy kierie geslaan,” het Steenberg gesê.

“Hy het opgehou nadat hulle gedreig het dat hulle hom sal doodmaak.”

Steenberg het aan die boewe gesê hulle moet vat wat hulle wil hê en gaan. Sy wou net by haar man kom om hom te help. Toe hulle haar uit haar skoonpa se kamer neem, het een van die rowers buite die kamer met ’n vuurwapen teen haar negejarige dogtertjie se kop gestaan.

“Sy wou huil, maar ek het haar gekalmeer en na haar oupa geneem.”

Die skurke het Steenberg deur die huis geneem en geld, selfone en ’n skootrekenaar gesteel. In ’n stadium het hulle haar alleen in die kamer by haar man gelos.

“Ek het sy pols gevoel, maar daar was niks nie. Ek wou net iets vir Adriaan probeer doen, maar ek kon nie.”

Steenberg het nog skote buite gehoor, wat glo deur ’n veiligheidsmaatskappy afgevuur is, en die rowers het daarna op die vlug geslaan.

“Dit was onnodig om hom te skiet,” het Steenberg gesê. “Hy het geglo hy was goed vir almal en dat niemand ons sal seermaak nie.”

Beeld het verneem dat ses verdagtes wat twee dae later in Mamelodi in verband met sowat 18 moorde en verkragtings in die Kameeldrift-omgewing in hegtenis geneem is, met Steenberg se moord verbind kan word.

’n Huldigingsdiens sal Maandagmiddag om 12:00 vanuit die NG kerk Kameeldrif gehou word.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |