Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||||||||
|
Nóg geweld, elite-eenheid aan Rand ontplooi
Minstens een persoon is Dinsdag aan die Rand dood en twee baie ernstig beseer in voortgesette xenofobiese aanvalle wat reeds meer as 20 lewens geëis, tientalle wonings in puin gelê en groot getalle buitelanders uit hul woonplekke gedryf het. Die jongste voorvalle het in die Joe Slovo-woonbuurt, 'n informele nedersetting in Boksburg, voorgekom en volg 'n dag nadat die polisie aangedui het dat 144 lede van die nasionale intervensie-eenheid aan die Rand ontplooi gaan word. Dié spesiaal-opgeleide eenheid verskaf steun aan ander polisie-eenhede. Pres. Thabo Mbeki het gisteraand laat in ’n verklaring weer ’n beroep gedoen dat aanvalle op buitelanders gestaak word. Hy het die aanvalle skerp veroordeel en gesê alles moontlik sal gedoen word om die skuldiges aan die pen te laat ry. Volgens Mbeki word hy deur die minister van veiligheid en sekuriteit en die waarnemende polisiehoof ingelig gehou. Hy is vol vertroue dat die polisie binnekort ’n “belangrike deurbraak sal maak om tot die kern van die anargie te kom”. Aanvalle op buitelanders het verlede Sondag in Alexandra uitgebreek en sedertdien na Diepkloof, die Oos-Rand en Pretoria oorgespoel. Die geweld het ook die naweek van townships na ander buurte versprei en al hoe meer Suid-Afrikaners is ook aangeval. Christel Raubenheimer berig dat polisielede wat sedert verlede week in die provinsie ontplooi is, die situasie glo nie doeltreffend kan hanteer nie omdat hulle nie genoeg hulpbronne en mannekrag het nie. Die Menseregtekommissie het gister voorgestel die weermag moet ingestuur word in gebiede waar dit nodig is, berig Herman Scholtz. Die besluit om polisieversterkings na die Rand te stuur, is geneem nadat die Gautengse polisie by komm. Tim Williams, waarnemende polisiehoof, om meer bemanning en toerusting gepleit het. Dir. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê vier pelotons van die nasionale intervensie-eenheid sal na provinsiale vlak ontplooi word. Komm. Perumal Naidoo, Gautengse polisiehoof, het gister met Williams in Pretoria vergader om hom verder oor die toestand in Gauteng in te lig. Gautengse top-regeringsleiers het eergister vergader om ’n plan te beraam om die geweld te stop. ’n Taakspan wat uit vyf LUR’s bestaan, is op die been gebring. Mnr. Firoz Cachalia, Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het gister in Johannesburg gesê die plaaslike regering erken dat intelligensie oor waar voorvalle sal uitbreek, tot dusver onvoldoende was. Volgens Cachalia weet die polisie en die regering watter groepe mense die vergaderings reël wat tot xenofobiese aanvalle op buitelanders lei. “Ons kan net nie in dié stadium sê wie hulle is nie,” het hy gesê. Volgens De Beer gaan twee van die nasionale pelotons van Pretoria, een van die Wes-Kaap en die ander van KwaZulu-Natal na die gebiede ontplooi word. Elke peloton bestaan uit 36 lede. “Die polisie is reeds besig om die ekstra polisielede in Gauteng se strate in te stuur. “Die KwaZulu-Natalse polisie sal binne ’n dag hier wees.” Volgens De Beer sal die polisie die volgende paar dae baie strenger teenoor geweld optree. Die polisie het tot dusver 217 mense op aanklagte van verkragting, diefstal, huisbraak en geweld gearresteer. Tutu se pleidooi “Asseblief, asseblief, hou op!” Dít was gister die pleidooi van emeritus aartsbiskop Desmond Tutu oor die xenofobiese aanvalle. “Hou asseblief op. Stop die geweld asseblief nou,” het hy in ’n verklaring gesê. “Dit is nie hoe ons onsself gedra nie. Hierdie is ons susters en broers. Asseblief, asseblief, hou op!” Hy het in die verklaring gesê toe Suid-Afrikaners teen apartheid geveg het, is hulle deur mense oor die wêreld heen, en veral in Afrika, ondersteun. “Ons kan hulle nie terugbetaal deur hul kinders te vermoor nie. Dit is asof ons terug is in die tyd van die halssnoer. Die wêreld is geskok en gaan vir ons lag.”
|
||||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|