Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Wie het wie verneder?
Weideman het dalk bietjie tee oor haar gekry voor 10 of 20 of 100 mense...

Leserskommentaar onderaan.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Kankerkind verdryf drie met geweer
May 21 2008 10:48:09:163PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Marcé Bester (17), wat leukemie het, praat oor die drie booswigte wat hy met drie skote uit sy pa se rewolwer uit sy ouerhuis verjaag het. Foto: Herman Verwey
Hilda Fourie


’n Jong kankerlyer van Centurion het gister met drie skote uit sy pa sy rewolwer ’n bende booswigte die hasepad laat kies.

Drie booswigte het omstreeks 10:30 die voorhek, veiligheidshek en voordeur van die Besters se huis in Wierdapark, Centurion, oopgebreek.

Marcé Bester (17), wat aan leukemie ly, het gelê en slaap nadat hy die vorige nag ’n terugslag weens sy kanker gehad het.

“Die huishulp het my kom wakker klop en gesê daar is moeilikheid in die huis,” het Marcé gisteraand aan Beeld vertel.

“Ek het my pepergas en flits gegryp vir ingeval ek die ou kon aanvat. In die gang het ek in hom (die een verdagte) vasgeloop. Hy het gesê ek moet my pepergas en flits neersit en op die vloer lê.

“Ek het vir hom gesê hy kan alles vat, solank hy ons nie seermaak nie. Hy het my na my kamer geneem waar hy my selfoon en skootrekenaar, wat ek by die stigting Reik na ’n Droom gekry het, gevat het. Hy het ook my broer se selfoon uit sy kamer gevat.”

Die verdagte het Marcé alleen gelos en na sy makkers in die sitkamer gegaan.

Marcé het toe na sy pa se kamer weggeglip, die kluis oopgesluit, sy pa se vuurwapen geneem en drie koeëls daarin gelaai. “Terwyl jy die geweer laai, dink jy heeltyd: ‘Moet ek of moet ek nie,’ ” het Marcé gesê.

“Toe ek uit my pa se kamer kom, het ek geskree: ‘Ek gaan julle skiet, ek gaan julle skiet!’

“Ek het drie skote gevuur. Ná die eerste een het hulle gevlug en op pad uit nog die televisie op die gras laat val ook.”

Marcé se ma, Manda, het net lof vir haar seun se dapper optrede. Volgens haar ken hy al lank van swaarkry. Marcé was ’n baba toe sy sussie, Chanelle (3), aan leukemie dood is.

Vier jaar gelede is hy met ’n hokkiebal teen die voorkop getref. ’n Jaar daarna was hy agt dae lank in ’n koma nadat ’n motor hom omgery het terwyl hy fietsgery het. Sowat vyf weke gelede het kanker aan sy deur kom klop.

“Hy het nog met die skelms onderhandel en mooi gepraat,” sê me. Bester.

“Deur dit alles bly my kind positief en hy veg terug. Ek is net jammer dat hulle my kind se droom gesteel het.”

Marcé begin Maandag met ’n reeks kankerbehandelings vir drie weke. Buiten om vir Lance Armstrong te ontmoet, was dit sy droom om ’n skootrekenaar te hê veral vir wanneer hy behandeling kry.

Insp. Ilze Jones, polisiewoordvoerder, sê die rowers het in ’n donkergrys Nissan Micra sonder nommerplate gevlug.

’n Saak van huisroof word ondersoek.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |