Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Hy hou Zim-oues só aan die lewe
Malalane. – Hy het sy werk bedank om heeltyds kos vir bejaardes in Zimbabwe aan te ry. Vandag is mnr. Hannes Botha (55), wat as “God se lorriedrywer” bekend staan, se laaste dag by TSB, ’n suikerfabriek net buite dié dorp, omdat sy “roeping vir gemeenskapsdiens te groot geword het”. Botha het in Januarie 2002 met die Zimbabwe-pensioen-ondersteuningsfonds (ZPO) begin nadat hy met ’n vriend oor die telefoon gesels en dié hom vertel het dat hulle net van aartappels leef. “Dit het my swaar op die hart gedruk omdat ek self in Zimbabwe gebore is en in 1980 na Suid-Afrika verhuis het. Dis my mense daardie en ek moes hulle help,” sê hy. Hy het kruideniersware aangekoop en vir dié gesin geneem. “Ek het besef watter nood daar onder bejaardes is. Die besendings het gegroei van 6 kospakkies tot 36 in private huise en ouetehuise. Ek het ook alles uit my eie sak betaal.” Hy sê as mens eers só projek aangepak het, kan jy nie ophou nie. “Ek het donasies begin kry en ’n lorrie met ’n sleepwa gekoop.” Daar word vandag 650 bejaardes in verskeie dorpe gevoed met ’n kruidenierspakkie wat Botha aan elkeen persoonlik oorhandig. Dié kospakkies kos R300 elk en bevat al die nodigste kruideniersware. Hy gaan elke maand vir een week Zimbabwe toe waar hy 2 500 km aflê en 750 liter diesel uitry. As hy eers oor die grens is, ry hy 2 100 km tussen dorpe soos Bulawayo, Gweru, Redcliff, Kwe Kwe, Harare en Masvingo. “Hulle maak staat op my maandelikse besoek en sien al as die lorrie met sy groen seil aankom. Hulle noem my ‘God se lorriedrywer.’ ” Die bejaardes sal volgens hom vergaan van die honger as hy nie iets doen nie. “Die regering het die plase wat hulle voorheen van melk, groente en vleis voorsien het, weggeneem.” Twee vrywilligers wat ook by die projek betrokke geraak het, het aangebied om Botha ’n salaris te betaal sodat hy heeltyds bemarking vir die projek kan doen. “My doelwit is om op ’n maandelikse basis aan elke bejaarde in Zimbabwe ’n kospakkie te kan gee. Ek skat dit gaan by ongeveer 4 000 kospakkies draai.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|