Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Sakemanne van agter in kop geskiet
Polokwane (Pietersburg). – Twee bekende eiendom-sakemanne van dié stad het ’n gru-dood gesterf in wat vermoedelik ’n saketransaksie was wat erg skeefgeloop het. Mnre. Evré Hoffman (41), ’n direkteur van Hoffman-Properties, en Ricus van Zyl (42), wat ook by die onderneming gewerk het, is albei op ’n kort afstand van agter in die kop geskiet, waarna hul moordenaars petrol oor die bakkie waarin hulle was, gegooi het. Die bakkie is toe in die Burgersfort-gebied in Limpopo aan die brand gesteek. “Hulle is dood voordat die bakkie aan die brand gesteek is, maar albei het ook verkool,” het ’n geskokte me. Sydelle Neuhoff, Hoffman se suster, gesê. Mnr. Koos Hoffman, pa van Hoffman, het gesê: “Ek is heeltemal in ’n toestand oor my seun se dood.” Hoffman en Van Zyl is Dinsdagaand net ná 19:00 vermoor. Hulle het saam met twee mans wat ook betrokke was in die saketransaksie in ’n Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie op die R37 van Polokwane na Burgersfort gery. Volgens Neuhoff het hulle “ ’n baie groot bedrag geld” by hulle gehad waarmee hulle grond in die Steelpoort-gebied sou koop. Me. Lindie Hoffman het gesê haar man en Van Zyl moes geld aan ’n hoofman betaal vir dié grond waarop hulle chroom sou ontgin. Hoffman en Van Zyl is vermoedelik sowat 10 km van Burgersfort in die Driekop-gebied af oorval deur die twee mans wat op die agtersitplek gesit het. Albei is in die agterkop geskiet. Die twee verdagtes het die geld gevat en die bakkie aan die brand gesteek. Volgens Anne-ke Venter, Hoffman se skoonma, het die polisie ’n nommerplaat van die bakkie gevind en só eerste met die Hoffman-familie kontak gemaak. Me. Mientjie van Zyl het gesê die transaksie waarmee haar man en Hoffman besig was, sou werk aan minstens 1 000 mense verskaf het. “ ’n Mens voel so magteloos. Hoekom is hulle geskiet? Hulle wou net goed wees vir ander.” Supt. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê lede van die gemeenskap het skote gehoor en gaan ondersoek instel. Hulle het op die brandende wrak met die twee verkoolde lyke afgekom. Twee verdagtes is eergister vir ondervraging in hegtenis geneem. Otto het teen druktyd gesê hulle is in aanhouding, maar nog nie van enige misdaad aangekla nie. “Die polisie ondersoek wel ’n moordsaak.” Hoffman was jare gelede ’n Recce in die weermag. Hy het die afgelope sewe jaar ook veiligheidswerk in Irak gedoen, voordat hy verlede jaar na Polokwane teruggekeer het en Hoffman-Properties saam met sy skoonma begin het. “Hy was hoogs opgelei, ons vermoed hulle het hom eerste uitgehaal omdat hy definitief sou terugveg,” het Neuhoff gesê. Hoffman laat sy vrou en twee seuns, Zander (6) en Ryno (2), agter. Van Zyl laat sy vrou, Mientjie, en die 12-jarige Armand, en twee kinders uit ’n vorige huwelik, Werner (19) en Monique (17), agter.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|