Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Tandarts by skietbaan oorval, vermoor
Jul 14 2008 10:51:08:070PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Dié foto van dr. Paul Mouton is sowat tien jaar gelede geneem. Foto: Verskaf
Leané du Plessis


’n Bekende tandarts van Johannesburg is gister koelbloedig van agter af met sy eie pistool op ’n skietbaan doodgeskiet nadat rowers hom vermoedelik bekruip het.

Dr. Paul Mouton (74) se kleinseun, Jonathan (22), ’n Netcare 911-paramedikus, het sy oupa vergeefs probeer red nadat hy op die toneel aangekom het, het Mouton se seun, mnr. Paul Mouton jr. (45), gister vanuit sy ouerhuis in Parkview vertel.

Mouton is minstens vier keer geskiet, waaronder twee keer in die rug en een keer in die regterskouer.

Wát presies gistermiddag by die Durban Deep Rifle Club in Roodepoort gebeur het, is nog onseker.

“Ons vermoed my pa het na die teiken toe geloop nadat hy ’n paar skote daarop geskiet het.

“Die rowers het vermoedelik toe oor die heining (aan die agterkant van die skietbaan) gespring en hom bekruip,” het Paul jr. vertel.

Hulle het vermoedelik een van Mouton se handwapens van die tafel af geneem en hom van agter af daarmee geskiet.

Ene David, die opsigter by dié klub, het kort daarna op Mouton afgekom, het Paul jr. gesê.

“Lede van ’n mynveiligheidsmaatskappy het op die baan langsaan geoefen en het David gehoor roep.

“My pa was toe nog by sy volle bewussyn en kon vertel wat gebeur het.”

Volgens mnr. Nick Dollman, Netcare 911-woordvoerder, het die paramedici alles gedoen wat hulle kon, maar Mouton het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Niks is gesteel nie buiten Mouton se Colt Government 9 mm-parabellum, een van die vier wapens waarmee hy dié dag gaan teiken-skiet het, het kapt. Lydia Mtila-Dikolomela, polisiewoordvoerder, gesê.

Die ander handwapens is net so op die tafel gelos, tesame met Mouton se beursie.

Mouton het gistermiddag omstreeks 14:00 gaan skiet.

Dit was sy stokperdjie wat hy glo minstens een keer ’n week beoefen het.

Hy het dié liefde ook met ander lede van sy familie gedeel, het Paul jr. se vrou, Erna, vertel.

“Dis verskriklik om te dink dat só iets juis gebeur het terwyl hy iets gedoen het wat hy so geniet het.”

Volgens Paul jr. is Mouton al twee keer vantevore aangeval. Sowat 16 jaar gelede het rowers hom in sy huis oorval en onder meer met ’n byl oor die kop geslaan. Mouton het terugbaklei en kon dit regkry om die rowers uit sy huis te jaag tot in die straat, waar hy sy bewussyn verloor het.

Agt jaar later is hy in die Olivedale-praktyk in Pres. Fouchéweg – waar hy tot nou toe gepraktiseer het – aangeval. “Gelukkig het hy het daardie twee (aanvalle) oorleef, maar dié keer was hy nie so gelukkig nie,” het Paul jr. gesê.

Mouton se vrou, Galena, was gisteraand nog in erge skok.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |