Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||||||
|
'God is by my kind'
‘Wat my vandag sterk maak, is die wete dat my kind nie as ’n gebroke jong man in die tronk ingestap het nie. Hy het fier en trots van ons afskeid geneem. “En toe hy wegstap, kon ek die gerustheid hê dat ek weet my kind glo onverbiddelik in God en dat hy en ons weet hy sit onskuldig agter tralies.” So het mev. Mariëtte Becker, ma van die Waterkloof-4-lid Christoff Becker (22), gister gesê nadat hy hom vir sy tronkstraf van 12 jaar weens moord aangemeld het. Dit is die eerste keer in die drama van sewe jaar dat sy so openlik met die media praat. Sy het gesê in dié sewe jaar het sy baie gehuil: “Genoeg trane om ’n stroom vol te maak. “Ek is Christoff se ma. Ek weet hy is nie ’n moordenaar nie en ek weet die waarheid sal nog uitkom. God slaap nie. Die onwaarhede en verdraaiings oor die jare heen móét iewers gestop word en dan sal die land die waarheid hoor.” Hilda Fourie berig Becker het hom gisteroggend kort voor 10:00 by die Pretoriase landdroshof aangemeld. Geklee in ’n blou sweetpak met wit tekkies het hy die trappe opgedraf, in die hofselle die nodige administrasie gedoen, die trappe afgedraf en in ’n polisie-BMW X5 geklim. Becker, wat nie een van die media se vrae beantwoord het nie, is daarna na die Pretoria-Sentraal-gevangenis geneem. Sy drie makkers, Frikkie du Preez (23), Gert van Schalkwyk (22) en Reinach Tiedt (22), het hulle eergistermiddag aangemeld om hul vonnis van 12 jaar te begin uitdien. Die vier is vroeër skuldig bevind op ’n aanklag van moord nadat hulle in Desember 2001 ’n onbekende man in ’n parkie in Moreletapark, Pretoria, doodgeslaan het. Hulle het dieselfde aand ’n man in ’n ander voorval aangerand. Mev. Becker het gister gesê toe die vier aanvanklik van moord aangekla is, was hulle nog jong kinders. “Hulle het duidelik nie mooi geweet wat presies aan die gang is nie en het miskien die vervolging as ’n soort vermetelheid beskou. “Maar intussen het hulle gegroei en grootmense geword. Christoff het algaande die erns van die saak begin besef. Maar dit het hom nie gebreek nie. “Hoe kan iets jou breek as jy, soos hy, weet dat God by jou is? Ook ons as ouers is nie gebroke nie. Ook ons weet dat God Sy wil sal laat geskied. En Hy weet my kind het geen moord gepleeg nie.” Op die vraag hoe dit as ma voel om van haar kind ontneem te wees vir die duur van sy tronkstraf, het sy gesê: “Ons sal nóóit fisiek van hom weg wees nie. Natuurlik gaan ons hom so dikwels moontlik besoek. En ons, net soos hy, glo vas hy sal in die konstitusionele hof sukses hê. “Van almal wat vanoggend vir hom voorlopig tot siens gesê het, was Christoff die sterkste. Hy was dit nog deurentyd. Hy is geen softy nie. Wat hy wel is, is ontsettend beskermend teenoor sy ouers en sy vriende en sy geliefdes.“In my hart is dit vandag seer. Maar ons is nie gebroke nie.” Intussen het mnr. Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, aan Virginia Kepp-ler gesê die vier volg die normale aanmeldingsprosedure soos enige ander oortreder. “Oortreders word van hul regte, voorregte en verpligtinge ingelig. Daarna kry hulle uniforms en word na hul huisvesting gewys. Ons kan net bevestig hulle word by die Sentraal-gevangenis in Pretoria aangehou.”
|
||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|