Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Dag in die tronklewe van die W’kloof-4
Die Waterkloof-vier kry slegs twee etes per dag en word daagliks net sowat ’n uur lank in die buitelug toegelaat. Die res van die tyd bring hulle in hul selle in die Pretoria-Sentraal-gevangenis deur. So het ’n ingeligte gister aan Beeld vertel. Christoff Becker (22), Frikkie du Preez (23), Gert van Schalkwyk (22) en Reinach Tiedt (22) het gisteroggend in ’n eetsaal saam met hul medegevangenes mieliepap, melk en koffie vir ontbyt gehad. Skaars vyf uur later het hulle weer gaan aansit – dié keer vir ’n aandete van soja, pap, kool en brood. Dit moes hulle rantsoeneer as hulle deur die aand honger sou word omdat hulle nie drie etes kry nie, het die ingeligte vertel. Tussendeur was hulle in hul onderskeie selle toegesluit, met die enigste uitsig ’n lang ry tralies wat die deure van die sowat 20 selle aan hul oorkant vorm. Gevangenes word heeldag in die selle toegesluit en volg daagliks ’n streng roetine. Opstaantyd is 05:30, waarna hulle 90 min. tyd kry om te stort en aan te trek. Ontbyt is om 07:00, waarna hulle teruggaan na hul selle. Middag- en aandete is al om 12:00. Woensdae, Saterdae en Sondae kan jy kerkdienste bywoon, na gelang van jou geloof. “Die res van die dag sit jy. Jy doen niks. Hulle sal seker later by werkwinkels ingedeel word,” het die ingeligte gesê. Daar is net ’n uur daaglikse oefentyd, waar die vier in “so ’n klein vierkantige afskorting buite met hoë mure om jou” kan oefen. “Jy kan draf of push-ups doen, of net rondsit.” In die nag is daar nie ’n spesifieke tyd wanneer die ligte afgeskakel word nie, wat partykeer “verskriklik” kan wees, volgens die bron. “Jy kies self wanneer jy die ligte wil afskakel, maar party van daai ouens luister regdeur die nag radio. Daaroor mag jy nie kla nie, al wil jy. Sorry vir jou – jy’s in die tronk. Daar’s geen genade nie.” Becker het tot eergister ’n sel met twee of drie ander gevangenes in die C-seksie gedeel. Hy is vermoedelik gister na die B-seksie oorgeskuif, waar Du Preez, Van Schalkwyk en Tiedt twee-twee saam ’n sel deel. “Ek het gister met Becker gepraat. Hy het gesê hy sal maar die hou op die ken vat en die beste van ’n slegte saak maak,” het die ingeligte gesê.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|