Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
'Sy kop was nie reg'
Morné Harmse (18), wat na bewering een van sy medeleerlinge met ’n swaard aangeval het, het ’n bloedbad beplan. Shaun Collins (17), een van Morné se vriende wat saam met hom in gr. 12 in die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp is, het gister vertel hoe Morné aan hom en sy vriende beskryf het wat hy gaan doen. “Hy wou wag tot die kinders in die saal vergader en hulle dan doodmaak. Hy’t die woord massacre gebruik; ek het verstaan hy bedoel ’n bloedbad.” ’n Gemaskerde Morné het minute voor saalopening na bewering ’n samoerai-swaard uitgepluk en Jacques Pretorius (16) se hoofslagaar in sy nek deurgekap. Hy het daarna verder op die skoolterrein rondgeloop en glo nog drie mense – twee arbeiders, mnre. Sam Namamela (43) en Joseph Kodisang (26), en ’n gr. 11-leerling, Stephan Bouwer (18) – in sy aanval beseer. ’n Sigbaar ontstelde Shaun het gisteraand in sy ouerhuis in Krugersdorp-Noord vertel hoe hy en sy groepie vriende Morné sien “uithaak” het. Kort nadat Shaun omstreeks 07:10 by die skool aangekom het, het drie van sy vriende na hom toe gekom en gesê Morné “se kop is nie reg nie”. Toe Shaun-hulle by Morné aankom, het hy reeds sy masker – soortgelyk aan dié van die Slipknot-metalgroep se hoofsanger, Corey Taylor – opgehad. Hy was besig om drie swaarde, waaronder ’n kleinerige Katana en ’n Sekizo Ninja-swaard, in sy gordel te rangskik en handskoene aan te trek. Volgens Shaun het Morné sowat drie weke voor die aanval die masker gemaak. “Ons het eers gedink hy maak ’n grap, maar toe sien ek ’n bom in sy regterhand.” Morné het glo al sedert verlede jaar bomme gemaak. “Ons het heeltyd ons afstand gehou, want ons was regtig bang vir hom. Ek het vir hom gesê hy moet die bom neersit, maar hy het geweier. Toe vat ek die bom uit sy hand uit en gooi dit weg. Dit het niks gemaak nie. Morné het heeltyd in ’n weird stem gepraat – amper soos die Joker s’n in Batman. “Hy’t ook heeltyd goed gesê soos: ‘Vandag gaan ek dit doen. Vandag is die massacre.’ ” Volgens Shaun het Max Brechlin (18) op Morné se aandrang ook ’n masker aangesit. Die volgende oomblik het hy na Shaun gedraai en gesê: “Wil jy iets cool sien?” Toe het hy sy swaard uitgepluk en Jacques, wat saam met ’n groep vriende toevallig verbygeloop het, glo doodgekap. “Daai swaard was so stomp soos ’n bottermes. Ek kon die krag waarmee hy kap, nie glo nie. Dit was ’n baie diep wond,” het Shaun vertel. Morné se pupille het glo “kleiner as gewoonlik” gelyk. Volgens Shaun het hy vroeër gesien Morné het twee ander maskers in sy skooltas gehad – ’n gas- en ’n hansworsmasker, soortgelyk aan maskers wat ander Slipknot-lede dra. Shaun en sy vriende het ook soortgelyke maskers gemaak en al twee keer by die skool gedra. “Ek was baie in Slipknot geïnteresseerd. Die drummer is amazing; ek wil graag eendag soos hy speel. “Maar nadat ek my vriend gister gesien het . . . Dit is asof dit (die musiek) hom verander het. Ek dink nou baie anders daaroor,” het Shaun gesê. Morné verskyn vandag in die Krugersdorp-landdroshof op aanklag van moord en drie aanklagte van poging tot moord. Brechlin sal verskyn op aanklagte van sameswering tot moord en die besit van ’n gevaarlike wapen.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|