Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Dinoka-inwoners op hol oor ‘2de luiperdaanval’
’N Dag nadat ’n luiperd in hul midde amok gemaak het, was inwoners van Dinoka naby Zeerust in Noordwes wéér gisteroggend op hol oor ’n wilde dier. Vier dooie skape met keelwonde het inwoners laat vermoed daar skuil nóg ’n luiperd in die gebied, maar die wonde was te klein vir ’n luiperd, het supt. George Motshegwe, stasiebevelvoerder van die polisie op Lehurutshe, gesê. Vier mense, onder wie die 13-jarige Oageng Mogale, is gister nog in die Zeerust-hospitaal vir bytmerke behandel en twee selfs vir skietwonde ná die luiperdaanval eergisteroggend. Oageng het van ’n buitetoilet by sy ouerhuis gekom toe hy aangeval is. Sy pa, Albert (50), en oom, Difako (44), is ook gebyt en gekrap toe hulle tussenbeide gekom het. Nog ’n man en drie polisielede is deur die luiperd en in die daaropvolgende skietery beseer. Res.konst. Sebopeng Seemela van die Zeerust-polisie het gister vertel hoe hy op die luiperd bly skiet het nadat dit bo-op hom te lande gekom het. “Hy het gebrúl! Dit was ’n grote. Die ander vyf polisielede het weggehardloop. Toe was dit net ek en insp. (Hempie) Meno. Hy het sy R5 in die luiperd se bek gedruk en dit geskiet,” het Seemela gesê. Motshegwe het tot die ander vyf lede se verdediging gesê hulle het darem teruggegaan om te help nadat hulle in ’n stadium vir die verwoede dier weggehardloop het. Seemela en nog ’n reservis-konstabel is deur opslagkoeëls van rotse in die omgewing getref. Albei is al uit die hospitaal ontslaan. Nóg ’n polisielid het seergekry toe ’n lid van die gemeenskap hom omgehardloop en op hom geval het in sy haas om van die luiperd weg te kom, het supt. Lesego Metsi, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê. Amptenare van Noordwes se departement van landbou, bewaring, omgewing en toerisme het die luiperdkarkas verwyder. Motshegwe het gesê daar is gistermiddag weer op amptenare van die departement gewag om te kyk na die spore van die dier wat vermoedelik vir die skape se dood verantwoordelik was. Sowat 11 skape is twee jaar gelede in soortgelyke omstandighede dood. Geen woordvoerders van die departement was gister vir kommentaar beskikbaar nie. Oageng se pa en oom en een polisielid was ook nog gister in die hospitaal, maar hul toestand is nie ernstig nie, het Metsi gesê.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|