Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
‘Motorongeluk eis groot revolusionêr’
Die geledere van revolusionêre leiers in Suid-Afrika is van een van sy groot geeste beroof. Dít is hoe die afsterwe van mnr. January Boy Masilela (53), sekretaris van verdediging, gister deur naasbestaandes en oudstryders van Umkhonto weSizwe (MK) tydens ’n roudiens in Thaba Tshwane beskryf is. Mnr. Johnny Sexwale, broer van Tokyo en boesemvriend van Masilela, het in ’n huldeblyk gesê die troos is dat Masilela hom nou by die “Tambo’s, die Modise’s en die Hani’s” aangesluit het. Masilela het Sondagoggend vroeg gesterf toe sy luukse BMW op die N4 by Bronkhorstspruit van die pad geloop en in vlamme uitgebars het. Masilela het op die toneel gesterf. Die diens is gister deur onder meer mev. Zanele Mbeki, en ministers soos mnre. Pallo Jordan (kuns en kultuur), Sydney Mufamadi (provinsiale en plaaslike regering) en Mluleki George (adjunkminister van verdediging) bygewoon. Volgens Sexwale het hy Masilela 31 jaar gelede as ’n 22-jarige vryheidsvegter in Angola ontmoet. Hy het dáár saam met mnr. Chris Hani, die ontslape SAKP-leier, sowel as genl. Godfrey Ngwenya, huidige weermaghoof, gedien. “Sy passie was die bevryding van Namibië en Suid-Afrika. Hy was ’n inspirerende spreker wat sy troepe aangevuur het – daarom het hy van die suksesvolste kompanies van MK opgelewer. “Hy het graag bevrydingsliedere gesing. Hy was tot die dag van sy dood ’n groot man met die hart van ’n seuntjie.” Volgens Sexwale was daar drie aanslae op Masilela se lewe. In Angola by Kamp Nova Katengue is hul kos vergiftig. Die kamp is vervolgens in ’n lugbombardement verwoes. Die derde keer is hy in Botswana in die been geskiet. “Dit bly onwerklik dat ’n aaklige motorongeluk uiteindelik sy lewe geëis het,” het Sexwale gesê. Masilela laat sy vrou, Mavis, ses kinders, drie kleinkinders en drie broers agter. Die departement van verdediging het intussen mnr. Tshepo Motumi as waarnemende sekretaris van verdediging aangestel. Motumi, voorheen die departement van verdediging se hoof van beleid en beplanning, is ook die aangewese hoof van die Chancellor House-groep van maatskappye wat na bewering op die been gebring is om namens die ANC geld vir die party se koffers te genereer.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|