Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Huiswerker gesoek ná moord op werkgewer
Die polisie is op soek na ’n huiswerker wat hulle met hul ondersoek na die moord op ’n vrou van Quellerina aan die Wes-Rand kan help. Mev. Marge Wilson (53) is verlede Vrydagoggend doodgeskiet en haar man, mnr. Dave Arnold Wilson (57), is regs in die bors gewond tydens ’n aanval by hul huis in Drakens-laan. Beeld het die naweek berig mev. Wilson is glo oorval toe sy die elektriese hek vir die huiswerker oopgemaak het. Supt. Eugene Opperman, provinsiale polisiewoordvoerder, het gister in ’n verklaring gesê drie tot vier onbekende mans het die huis saam met die huiswerker, me. Privilege “Mavis” Sifiso Ndlovu (38), binnegegaan. Die egpaar is volgens ’n familielid in die voorportaal oorval. Mev. Wilson is in die bors geskiet en is op die toneel dood. Mnr. Wilson, hoof van die geologie-afdeling van die mynmaatskappy De Beers, het die aanval oorleef. ’n Wag (37) van die veiligheidsmaatskappy Secure Best is in die rooftog in die wegkommotor, ’n koperkleurige Mercedes-Benz (met die registrasienommer HYF 252 GP), ontvoer. Hy is later in die Maraisburg-omgewing afgelaai. Ndlovu en die onbekende mans is sedert die aanval op die Wilson-egpaar soek. Die polisie sê hulle vermoed Ndlovu woon in die omgewing van Hillbrow of Berea in Johannesburg. Mnr. Wilson het vroeër vandeesweek gesê: “Dit is baie traumaties om jou vrou só te verloor.” Mnr. Michael Brett, mnr. Wilson se swaer, het supt. André Laing, hoof van die Florida-polisiekantoor se misdaadvoorkomingseenheid bedank “omdat hy so uit sy pad gegaan het” om die familie by te staan. “Hy het nie geskroom om sy hande op die toneel vuil te maak nie. Hy is ’n absolute saint. Hy was deernisvol en vol begrip vir ons verlies,” het Brett gesê.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|