Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Vyf op hoewe, plaas aangerand en beroof
Altesame vyf inwoners van ’n hoewe en ’n plaas in die Cullinan-omgewing, oos van Pretoria, is die naweek vermoedelik deur dieselfde bende rowers oorval, aangerand en beroof. In die eerste voorval Vrydagnag is ’n egpaar van ’n hoewe in Jakkalsdans deur vier rowers in hul bed oorval. Mnr. Jan Kotze en sy vrou, Lizette, het wakker geskrik toe die rowers met ’n flitslig op hul gesig geskyn het. Mnr. Johannes Jafta, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het ’n venster op die grondvloer van die egpaar se dubbelverdiepinghuis gebreek om in te kom. Jafta het gesê mnr. Kotze het met sy aanvallers begin stoei, waarna die rowers hom en sy vrou oorrompel het. Volgens Jafta het die rowers mnr. Kotze se 9 mm-pistool en jaggeweer uit sy kluis geneem. “Hulle het ook ’n skootrekenaar en twee selfone gevat voordat hulle gevlug het. “Die egpaar het hulself losgewikkel en die polisie ontbied. Die polisie het kort daarna die jaggeweer in die veld op die hoewe gevind,” het Jafta bygevoeg. Nog ’n egpaar wat op ’n plaas in De Wagensdrift werk en woon, asook ’n manlike werknemer, is eergister om 21:30 deur vier rowers aangerand, vasgebind en beroof. De Wagensdrift grens aan Jakkalsdans. Die polisie kon nie gister die egpaar en werknemer se naam bekend maak nie. Jafta het gesê die egpaar is oorval terwyl hulle geëet het. “Die rowers het hulle met hul vuurwapens teen die kop geslaan en hulle na die plaas se administratiewe gebou gesleep.” Jafta het gesê langs dié gebou is daar ’n kamertjie waarin nog ’n plaaswerknemer slaap. Die rowers het die kamertjie se venster gebreek en ’n skoot deur die venster geskiet. Dié werknemer het toe die kamertjie se deur oopgesluit. Volgens Jafta is dié werknemer ook aangerand en die rowers het sy hande met ’n ketting waarmee hy sy deur sluit, vasgebind. “Die rowers het ook aanhoudend gevra waar hul ‘baas en die geld’ is. “Daarna het hulle by die administrasiegebou ingebreek, die kluis met ’n pik oopgebreek en ’n onbekende bedrag geld gesteel.” Jafta het gesê in ’n stadium het die vrou haar losgewikkel en die donkerte ingehardloop. Sers. Marinda Stoltz, polisiewoordvoerder, het gesê die vrou se man het intussen daarin geslaag om sy werkgewer van sy selfoon te bel, maar die rowers het hom hoor praat. “Hulle het aan hom gesê: ‘As jou baas hier kom, gaan ons hom doodmaak.’ Die werkgewer het gehoor wat hulle sê en hy het eers die polisie en sy buurman gebel voordat hy in die rigting van die rowers gery het,” het Stoltz gesê. Volgens Jafta het die rowers eers ’n voertuig probeer steel. Toe hulle dit nie kon regkry nie, het hulle nog ’n skoot afgevuur en gevlug.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|