Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Leeuwyfie val veldwagter aan
’N Veldwagter van die Krugerwildtuin is gister op ’n staptoer voor agt gaste deur ’n verwoede leeuwyfie aangeval. Mnr. Rudi Lorist (32) is egter net lig beseer en het net bytmerke aan sy arms en bors opgedoen toe die leeu op hom gespring het. Hy was ook gelukkig genoeg om ’n dokter byderhand te hê. Die aanval het gebeur op die herdenking van die verjaardag van pres. Paul Kruger, na wie die wildtuin genoem is. Die groep het op die gewilde Metsi-Metsi-staproete naby die Tshokwane-piekniekplek, noord van die Skukuza-ruskamp, ge-stap toe die aanval gebeur het. Hulle het omstreeks 08:00 op ’n leeuwyfie en haar welpies afgekom. “Hulle het besluit om ’n draai om die troppie leeus te stap, maar die wyfie het hulle bestorm,” sê mnr. Raymond Travers, wildtuinwoordvoerder. Lorist het twee skote geskiet om die wyfie te verwilder, maar die dier het hom nietemin bespring. Hy is verskeie kere aan die arms gebyt en gekrap voordat die leeu laat los en die bos in gevlug het. Een van die stappers, ’n dokter, het Lorist behandel. Die groep het daarna sowat 2 km tot by Lorist se voertuig gestap en die wildtuin se helikopter per radio ontbied. Lorist, wat al sewe jaar lank staptoere in die wildtuin lei, is na die Nelspruit-Medi-Clinic gevlieg. Hy het self van die helikopterlandingstrook na die hospitaal se ongevalle-afdeling geloop. Sy wonde en beserings is gistermiddag onder narkose in die teater behandel, sê me. Robyn Baard, hospitaalwoordvoerder. Intussen het veldwagters wat naby Tshokwane besig was om ’n veldbrand te blus in die digte bosse waar die aanval gebeur het, na die leeuwyfie begin soek. “Ons moet seker maak sy is nie dalk in die skietery gewond nie. Indien wel, sal sy van kant gemaak moet word,” sê Travers. Die dier was teen druktyd nog nie opgespoor nie. Die toeriste, almal Suid-Afrikaners, sal onder leiding van mnr. Phillip Gumede, Lorist se assistent, vandag voortgaan met die laaste dag van hul vierdag-staptoer. Travers sê die staptogte word reeds 30 jaar lank in die wildtuin aangebied en daar was nog nooit ’n noodlottige voorval waarin wilde diere betrokke was nie.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|