Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Wie het wie verneder?
Weideman het dalk bietjie tee oor haar gekry voor 10 of 20 of 100 mense...

Leserskommentaar onderaan.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Honderde visvrektes in meer is ’n ‘tragedie’
Oct 10 2008 09:22:30:393PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Honderde reuse-karp, van vermoedelik tot 15kg, asook inheemse moddervis en babers het die afgelope week in die Bedworthparkmeer gevrek. Foto: Elise Tempelhoff
Elise Tempelhoff


Vanderbijlpark. – Honderde reuse-karp van moontlik tot 15 kg, asook moddervis, het die afgelope week in die Bedworth-parkmeer, langs die Vaal University of Technology (VUT), gevrek.

Hengelaars het dié visvrekte as ’n “tragedie” beskryf en gesê die omvang daarvan is die ergste in menseheugenis.

Mnr. Johannes Booyens, pensioentrekker van dié dorp, het gister langs die meer gestaan en net sy kop geskud.

“Dis enige visserman se droom om ’n karp van 15 kg uit die water te trek. En kyk: Hier lê hulle morsdood. Dis om van te huil.”

Hy meen sommige van die dooie vis kan tot 20 kg weeg.

Booyens hengel al sedert die middel-1970’s in dié mensgemaakte meer wat tussen die VUT en die Vaalrivier geleë is. Dit was vroeër jare ook ’n gesogte piekniekplek.

Mnr. Thomas du Toit, woordvoerder van Save Our Vaal Environment (Save) wat gister die meer besoek het, het gesê dit is ’n “skande” dat mense so min respek vir die land se waterbronne het. Hy meen dis ’n brousel van chemikalieë, motorolie en rioolafval wat tot die visvrekte gelei het.

“Ons gaan by die Emfuleni- plaaslike owerheid en die departement van waterwese en bosbou aandring om vas te stel wat hier gebeur het. Ons gaan ook daarop aandring dat die besoedelaars beboet word.”

Volgens Du Toit het hy ook die departement van waterwese en bosbou se enigste Groen Skerpioen, mnr. Nigel Adams, versoek om die meer te besoek.

Beeld het Adams gebel, maar hy het nie sy telefoon beantwoord nie en sy boodskapgeriewe was vol.

Tussen die vis het plastiekbottels en -sakke en hope ander gemors gedryf. Bo-op die water was ’n olielaag.

Mnr. Pieter Botha, ook ’n hengelaar, het gesê hy is “moedeloos” oor mense se minagting van die omgewing.

“Ek droom daaroor om eendag vir my kleinkinders die meer te wys en te sê: ‘Kyk, hier het Oupa as klein seuntjie visgevang.’ Wat gaan ek nou vir hulle sê?”

Volgens ’n personeellid van die departement van gesondheid van die Emfuleni- plaaslike owerheid het amptenare glo gaan ondersoek instel. Hul woordvoerders was gister by ’n werksessie en het nie op Beeld se navrae gereageer nie.

Die departement van waterwese en bosbou was ook nie beskikbaar nie.

Mnr. Bernard Venter, ’n hengelaar en lid van Eco-Care, ’n nie-regeringsorganisasie, het gesê as karp vrek, is dit ’n aanduiding dat die hele ekostelsel besmet is. Hy meen talle ander inheemse vis het waarskynlik ook gevrek.

Booyens het gesê hy het gister laatmiddag ook op dooie rietrotte en ’n baber van meer as 1,5 meter lank afgekom.

Volgens Du Toit het navorsers aan die Universiteit van Johannesburg gister begin nette span om te kyk of daar nog enige lewendige vis oor is.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |