Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||||
|
Klofie-foto's was 'banaal'
As hulle in sý skool was, sou hy aanbeveel het hulle moet geskors word. Sy 30 jaar ondervinding het bewys hoërskoolseuns wéét wanneer hulle ’n ernstige oortreding begaan het, het dr. Pierre Edwards, hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, gister in die hooggeregshof hier gesê. Hy was ’n getuie in die lastersaak wat mnr. Louis Dey, oud-adjunkhoof van die Hoërskool Waterkloof, teen twee oud-Klofies en ’n huidige leerling aanhangig gemaak het. Mnre. Christian Gildenhuys en Reinard Janse van Rensburg (albei 19) en ’n 17-jarige seun het twee jaar gelede ’n gemanipuleerde foto van dr. Christo Becker, skoolhoof, en Dey se koppe op die lywe van twee kaal mans wat op ’n bank sit, by die skool versprei. Die 17-jarige se naam mag nie genoem word nie omdat hy minderjarig is. Dey (45) eis R600 000 van dié drie. Hy voer aan sy eer en waardigheid is weens die foto gekrenk en hy is belaster. “Dit (die foto) is banaal en vernietigend vir enige onderwyser se selfbeeld,” het Edwards getuig. Enige hoërskoolseun weet as hy ’n ernstige oortreding begaan het. In sy 30 jaar in die onderwys het hy dit nog nooit anders beleef nie, het hy getuig. Gildenhuys, Janse van Rensburg en die 17-jarige se verweer is dat hulle nie besef het wat hulle gedoen het nie en dat dit vir hulle “snaaks” was. Adv. Thys Strydom, vir die verweerders, het gister aan Dey gesê dit was nooit die 17-jarige seun, wat die foto gemanipuleer het, se bedoeling dat die foto soos ’n veldbrand deur die skool versprei nie. Hy het dit aan ’n vriend ge-MMS om “te wys hy is goed op ’n rekenaar en om ’n bietjie af te show”, het Strydom gesê. Dié vriend het die foto “belaglik snaaks” gevind. “Dié aand by die kerk het hy sy vriend raakgeloop en gesien hy stuur dit vir almal aan. “Hy (die 17-jarige seun) het toe besef dit is ’n stoutigheid wat kan handuit ruk.” Gildenhuys het ook die foto op sy selfoon ontvang en gedink dit is snaaks. Hy het, volgens Strydom, die aand op sy bed gelê en gedink “miskien moet hy dié snaakse grappie ’n stappie verder vat”. Die volgende dag het Gildenhuys ’n gedrukte weergawe van die foto skool toe geneem en dit vir sy maats gewys. Gildenhuys het die foto vir Janse van Rensburg, “ ’n persoon met guts”, gegee, wat dit daarna op die kennisgewingbord in die vierkant gaan sit het. Gildenhuys het ’n paar dae later ’n SMS van Janse van Rensburg gekry wat lui: “Daar is moeilikheid; ons is uitgevang.” Volgens Strydom het Dey oorreageer en verkeerd gereageer. “Hierdie is kinders wat heeltemal te ver gegaan het. Dit is ekstreme gedrag en nie iets wat ’n mens as ’n gewone fout kon sien nie,” het Dey gesê. “Dit het alle perke oorskry. “ ’n Grap is net ’n grap as die gewer en die ontvanger daarvan lag. Anders is dit in swak smaak.” Die seuns is destyds nie geskors nie, maar het ná ’n tugverhoor debietpunte teen hulle gekry en moes voordele inboet. Hulle het ook as deel van ’n afwentelingsprogram dieretuinhokke skoongemaak. Die saak duur voort. Verweerders kamerasku Die drie jong verweerders wat hul adjunkhoof glo met ’n gemanipuleerde kaalfoto verneder het, het regters se parkeerplekke gebruik om te keer dat hul eie foto’s in koerante verskyn. Hulle het koerantfotograwe by die hof ontduik deur die tonnel onder Vermeulenstraat wat die Pretoriase hooggeregshofgebou met die Paleis van Justisie verbind, te gebruik. Dit word hoofsaaklik deur hofpersoneel en regters gebruik. Die verhoorregter, regter Ben du Plessis, en regterpresident Bernard Ngoepe is eers ná die tyd van dié beweerde voorkeurbehandeling ingelig. Na verneem word het Ngoepe gesê dit behoort nie herhaal te word nie. Gistermiddag het een van die verweerders se ouers in die regters se parkeerplek ingery. Die staalroldeur is toegemaak om die verweerders kans te gee om ongesiens in die motor te klim waarna hulle weggery het. Mnr. Neels Kriel, veiligheidshoof by die hof, het dit volgens veiligheidspersoneel gemagtig. Kriel het gesê dit is ’n “hofbesluit” en hy hoef nie redes daarvoor te gee nie. Me. Mandy Janse van Rensburg, hofbestuurder, het egter gesê die voorval word ondersoek en ’n verslag sal bekend gemaak word.
|
||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|