Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Bok-wapen bly, sê ANC
pdutoit@beeld.com Kaapstad. – Die ANC het mnr. Butana Komphela, omstrede voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport, gister kortgevat en beklemtoon die Springbok-embleem gaan nêrens heen nie. “Die party wil dit kategories uitstippel dat hy nie wil sien dat dié embleem vervang of verander word alvorens genoegsame debat en konsultasie met alle belanghebbendes, onder wie rugby-ondersteuners, plaasgevind het nie,” het me. Jessie Duarte, senior ANC-lid en hoofwoordvoerder, gister gesê. Dit volg op Komphela, ANC-LP en komiteevoorsitter, se uitlatings op die nasionale sportindaba in Durban dat die Springbok-embleem verdelend is en moet verdwyn. Duarte sê in ’n verklaring die land se rugbyspelers moenie hul aandag deur die Bok-debat laat aftrek nie: “Ons wil hulle aanmoedig om aan te hou om wêreldbekers vir Suid-Afrika te wen.” Hoewel dit tans onwaarskynlik is dat die ANC aan die nasionale rugbyspan se embleem gaan torring, het hy op sy nasionale konferensie in Desember verlede jaar besluit ’n eenvormige beleid rakende sportembleme moet ontwikkel word. Ook mnr. Makhenkesi Stofile, minister van sport, het gister laat in sy slottoespraak by die sportindaba in Durban aangedui dat hy nog nie die doodsklok vir dié embleem gaan lui nie. Stofile het gesê embleme is nie fundamenteel aan sport nie: ’n Mens kan van al die embleme ontslae raak en die probleme waarmee sport tans worstel, sal steeds daar wees. Komphela is berug vir sy omstrede uitlatings en haal gereeld rugbybase oor die kole weens die sport se beweerde gebrek aan transformasie. Senior ANC-LP’s is besorg oor die “dikwels oningeligte” opmerkings deur Kom-phela en mnr. Cedric Frolick, sy adjunk in die portefeuljekomitee. Een gesiene LP het aan Beeld gesê daar moet nie te veel waarde aan geheg word nie. Komphela was vanjaar etlike kere in die nuus, onder meer weens beweerde rassistiese aanmerkings tydens ’n komiteesitting. Hy het kort voor die Wêreldbeker-rugbytoernooi verlede jaar gedreig om die Bokke se paspoorte op te skort – en tog het hy en Frolick die toernooi bygewoon, uitgevat in Springbok-klere. Mnr. Donald Lee, DA-LP en woordvoerder oor sport, sê daar is geen rede om die Bok-embleem te skrap nie omdat tot mense wat nie rugby ondersteun nie, hulle daarmee identifiseer. “Dit is ’n simbool van uitnemendheid, trots en passie. Dis al (suksesvol) deur twee Wêreldbeker-toernooie en verpersoonlik die soeke na uitnemendheid in die sport.” Volgens Lee moet die regering hom eerder daarop toespits om behoorlike geriewe te bou sodat sportmense kan verbeter. “Die ANC se aankondiging is vir my ’n verligting. Dit wys wat rugby as saambindende faktor kan verrig,” het mnr. Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), aan Stephen Nell gesê.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|